Aan die woord

Twee skrywers in gesprek tydens ATKV-boekeaand.

Isa Konrad, skrywer van onder meer die gewilde sielkundige riller Die Soenoffer en Moord op Karibib, woon in Switserland, maar het nog nooit haar liefde vir Afrikaans verloor nie. Tydens ʼn onlangse besoek aan Suid-Afrika het sy en die bekroonde skrywer Sophia Kapp tydens ʼn ATKV-geleentheid in Pretoria oor skryf en hul boeke gesels.

Só som hulle hul jongste romans op (Sien video).

Isa Konrad, wat in Namibië gebore en getoë is, het kort na matriek na Switserland geëmigreer. Sy het eers in Zürich gewoon, maar deesdae verdeel sy en haar gesin hul tyd tussen Solothurn, ’n barokstad op die Aare-rivier, en ’n huis in die Peniniese Alpe naby die grens van Italië.

Haar skryfloopbaan is die uitvloeisel van haar nuuskierigheid oor stories. Na die geboorte van haar jongste kind, het sy ʼn skryfkursus deur die London School of Journalism gedoen. Haar tutor het gedink liefdesverhale is ʼn uitstekende leerskool as sy wou fiksie skryf. Die skryfgogga het behoorlik gebyt, en Konrad het agt Romanzas vir LAPA geskryf.

Haar eerste spanningsroman, Die Ondenkbare het in 2010 by LAPA verskyn, en speel af op die Namibiese kusdorpie Lüderitz. Hoewel haar spanningsdebuut goed ontvang is, was dit veral haar tweede roman, Die Soenoffer, wat Afrikaanse lesers laat regop sit het. Dié sielkundige riller vertel die verhaal van ʼn negejarige reeksmoordenaar, en vergelyk uitstekend met internasionale boeke in hierdie genre. Konrad se derde boek, Diva, was ewe gewild, en speel weer eens af in ʼn plek en mileu wat lesers meevoer: die operawêreld in Zürich, ʼn stad wat Konrad soos die palm van haar hand ken. Moord op Karibib het in 2016 verskyn, en word beskou as haar beste misdaadroman tot dusver.

Die gespreksleier tydens die geleentheid, Sophia Kapp, is een van die gewildste Afrikaanse liefdesverhaalskrywers en het reeds nege romans en een Romanza op haar kerfstok. Kapp se werk is reeds drie maal met ATKV-Veertjies bekroon. Haar jongste roman, Oorlewingsgids vir ʼn bedonnerde diva, wat in Februarie 2016 verskyn het, is na meer as ʼn jaar steeds op die Nielsens top 100-verkoperslys. Kenners is dit eens dat hierdie roman die moderne Afrikaanse vrou se psige perfek opsom en Kapp het daarmee nie net vir haar nie, maar ook vir Afrikaans, ʼn splinternuwe mark oopgeskryf. Die boek het ook gelei tot ʼn topverkoper-joernaal, die Joernaal vir ʼn Bedonnerde Diva.

Albei skrywers se werk word deur LAPA uitgegee.

Lees meer oor Isa en Sophia en hul werk:

http://crimebeat.bookslive.co.za/blog/2010/05/17/crime-beat-chanette-paul-praat-met-isa-konrad-oor-die-ondenkbare/
https://altacloete.wordpress.com/2017/03/19/isa-konrad-se-nuutste-moord-op-karibib/
http://lekkerleesblog.blogspot.co.za/2012/03/n-onderhoud-met-isa-konrad.html
http://www.litnet.co.za/us-woordfees-2016-onderhoud-sophia-kapp-oor-oorlewingsgids-vir-n-bedonnerde-diva/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/vier-en-flippen-veertig-werkloos-vir-die-tweede-keer-aan-die-skei/