2019 Eseltjiesrus Boekefees in McGregor vier 15 jaar van leesgenot:
17 tot 19 Mei 2019

Eseltjiesrus Donkey Sanctuary vier vanjaar 15 jaar van hul liefde vir boeke en die bevordering van ’n leeskultuur.

Die boekefees

Vanjaar gaan die tafels weer behoorlik kreun onder die gewig van duisende boeke teen winskooppryse.  Of jy nou na kookboeke, reisverhale, kinderboeke, digbundels, niefiksie of ’n rare en kosbare Afrikaanse kleinood soek, jy behoort dit tussen al die nuwe en kraakvars tweedehandse boeke te vind.  Nuwe voorraad word elke dag uitgepak.

Die Storievertel- en leesteater vir kinders wat in 2018 by die Boekefees begin is, sal seker maak dat niemand uitgesluit word van die vreugde en genot om ’n goeie boek te lees nie. Hier deel Beauty in Jan-Hendrik, Matthew & Franklin se leesgenot by Eseltjiesrus.

Verkope gee lewe aan Eseltjiesrus se donkies

Elke boek wat by die grootste boekefees in die Wes-Kaap verkoop word, help met die versorging en rehabilitasie van donkies wat uit haglike toestande gered word en by Eseltjiesrus gehuisves word.  Hier word hulle die geleentheid gegee om die res van hul lewens tussen hul eie spesies deur te bring waar hulle met respek en waardigheid hanteer word.

Bevordering van goeie donkieversorging

Eseltjiesrus het ook ’n bron van inligting geword en hanteer daagliks navrae van oor die hele land oor goeie versorging.  Hierdie hulp maak ’n beduidende verskil om die status van donkies in die algemene publiek se oë te verbeter.  Elke individuele donkie wat gehelp word, is een minder wat pyn, ongemak of angs hoef te verduur.

Tot voordeel van die gemeenskap

Die gemeenskap vind ook op verskeie maniere by die projek baat.  Werk word geskep, boeke word geskenk aan skole en biblioteke in die groter Langebergarea en die Breede Vaardigheidsentrum sal al die boeke ontvang wat by die Storievertel- en leesteater vir kinders gelees word, sodat meer kinders in die weke daarna in die betowering van boeke kan deel.

Teken dus 17 – 19 Mei in jou dagboek aan en gaan maak gerus vanjaar ’n draai by die 2019 Eseltjiesrus Boekefees in McGregor.  ’n Koffiewinkel en sitplekke in die skadu belowe om die lekker kuier te verleng.

Vir inligting, skakel  Mariana Rabie by 023 625 1060 of kontak haar by whatsapp-nommer: 082 871 1114  of e-pos: bookfair@donkeysanctuary.co.za. Gaan kyk ook by  www.donkeysanctuary.co.za