“Ons almal was al hoog”

So bevind ek my onlangs op ’n vliegtuig Johannesburg toe.

Ek moes ’n ekstra verband uitneem op ’n huis wat ek nie het nie, ’n deel van my siel verkoop en die Minister van Vervoer se onderbroek was om ’n bekostigbare kaartjie in die hande te kry.

Maar hier is ek nou. Op pad Goudstad toe.

Aan my linkerkant sit ’n testosteroon-tier. Meer man as mens, sou jy kon sê. Hy is die tipe wat nie eers sy borshare hoef te skeer nie, dit val sommer vanself uit van vrees.

’n Stokkielekker kom plak haar neer aan my regterkant. Sy is rond, pienk en effens taai. Dit lyk soos die wegraping so leeg is die vliegtuig. Tog kry sy die sitplek reg langs myne. Sy spoel effens oor na my kant toe en soos dit ’n stokkielekker betaam, suig haar polonie-been vas aan myne.

Dit voel verkeerd. Ek gaan beslis ’n uitslag kry. Ek probeer maar fokus op Adonis III aan my linkerkant.

Ek kan nie.

Sy haal asem op my.

Ek wil my been bevry, maar ek is bang dit maak daardie ongemaklike suig-klapgeluid wat jou bobene maak as jy op ’n warm dag één was met ’n plastiekstoel.

Hulle begin met die nood-aankondigings:

“Dames en here, maak asseblief seker u sitplekgordels is stewig vas.” Een van die lugwaardinne pluk ’n groot oranje gordel uit. Dit is om die gewigtiges onder ons se kurwes te bedwing. Dis baie onvanpas. Sy swaai dit rond asof sy iemand enige oomblik gaan pakgee vir die ekstra hap wat hulle tydens middagete gevat het.

Ek begin perspireer op plekke wat ek nie het nie. Ek het altyd drie standaardverskonings gereed wanneer dit kom by my gewig:

  • Dis nog van my babavet.
  • ’n By het my gesteek en toe swel ek op.
  • Ek identifiseer as Spar-deeg. Ons albei sit uit in die hitte.

Gelukkig ontsnap ek die aanslag. ’n Tannie in ry F is nie so gelukkig nie. Sy ontken onmiddellik die blikkie Coke in haar hand en die ekstra lel onder haar ken. Sy is woedend:

“Dis nie mý dubbelken nie! Ek het dit net geleen vir die naweek…”

(Ek glo haar.)

Die stem oor die interkom dreun voort.

“Dames en here, indien die lugdruk in die kajuit sou verander, sal suurstofmaskers uit die dak vrygestel word.”

(Ek verkies eintlik mond-tot-mond van die man langs my, baie dankie.)

“In die geval van ’n waterlanding – ʺ

(Nee, ek weier. My maag is nie gereed vir ’n bikini nie.)

Uiteindelik is dit tyd vir verversings. Die trollie kom om (almal wat iets van die trollie af bestel ook). ’n Paar verdagte broodjies loer vir my. Dis ’n absolute winskopie: As jy nóú bestel kry jy ’n gratis flat Coke én voedselvergiftiging vir ’n week!

“Chicken or beef?!” gil-fluister die lugwaardin. “We have egg too…”

Natuurlik bestel die tannie voor my die eier-opsie. Die regering behoort regtig ’n verbod te plaas op eier in geslote ruimtes. Dit gaan nog ’n nasionale krisis veroorsaak. Ek identifiseer solank die naaste uitgang vir die noodlanding wat ons gaan moet maak as daai reuk deur die kajuit versprei het.

En daar sit ons: Lyf teen lyf soos drie benoude Bokkie-worsies.

Na wat voel soos ’n ewigheid, kondig die kaptein die landing aan. Die vliegtuig val die laaste 100 m. Ek gryp vas aan die man langs my se bobeen. Hy skrik. Ek weet nie van hom nie, maar na hierdie is ek nou gereed om ouers te ontmoet.

Ek was nog nooit so bly om Johannesburg te sien nie. Maar ons is hier. En ons leef.

Soort van.

Ns. Hierdie is nie ’n blog nie, hierdie is ’n noodkreet. Ek en die Stokkielekker is steeds aan die lies verbind. As iemand weet van ’n lekker salfie vir ’n uitslag, kontak my gerus. Ons kom darem nou beter oor die weg. Haar naam is blykbaar Sandra. Sy hou van papierstrooitjies en lang sonsondergange.