fbpx

Word ’n lid en versterk die PEN Afrikaans-stem

“Ons wil graag hê dat soveel moontlik mense opbetaalde lede word, want hoe meer lede ons het, hoe meer relevant is ons, hoe meer verteenwoordigend van Afrikaanse skrywers en die boek-omgewing, en hoe sterker is die stem wat ons as organisasie het.” – Marga Stoffer, voorsitter: PEN Afrikaans

’n Gemeenskap van woordenaars wat letterkunde bevorder

As lid van PEN Afrikaans, kry skrywers en taalwerkers toegang tot allerlei geleenthede en word hul belange beskerm.  Sê Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans: “Ons werk hard aan voorleggings m.b.t. die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg; ons skakel met verskillende partye oor skrywersresidensies; ons bied resensiekursusse aan; ens. PEN Afrikaans moet as organisasie lede hê namens wie ons dit doen, anders is dit sinneloos en het die organisasie geen geloofwaardigheid in die gemeenskap daarbuite nie.”

As lid van PEN Afrikaans word jy ook lid van PEN International, die grootste skrywersorganisasie in die wêreld. PEN International bestaan reeds 99 jaar lank en “beywer hom vir die bevordering van letterkunde en die beskerming van vryheid van spraak wêreldwyd”.

Sluit dus sommer vandag nog aan by PEN Afrikaans. Teen slegs R300 bly dit ’n goeie besluit. Jy kan hier aansoek doen om ’n lid te word.

PEN Afrikaans woeker

Vanjaar is PEN Afrikaans weer betrokke by talle geleenthede:

  • Skrywerskamer en slypskool by die Toyota US Woordfees: PEN Afrikaans behartig die Skrywerskamer waar skrywers, joernaliste en lede aan die boekeprogram kan deelneem of sommer net die fees kan bywoon of tussen sessies in die kamer ontspan met ’n koppie tee of koffie. Gaan loer vanaf 7 tot 14 Maart 2020 tussen 08:00 en 17:00 in by die Ou Hoofgebou, Lokaal 1028B.
  • ’n WOW-Skryfskool in samewerking met PEN Afrikaans en die ATKV-Skryfskool van die NWU word ook tydens die Woordfees aangebied. Tydens dié slypskool sal gekose hoërskoolleerders en studente touwys gemaak word in die fynere kuns van skryf.
  • Afrikaanse skrywers word uitgenooi vir skrywersverblyf: Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans nooi vanjaar weer alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans uit om aansoek te doen vir die verblyfsprogram wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word.

Resensies en boekgesprekke

Daar is ook maandeliks resensies en boekgesprekke deur PEN Afrikaans op LitNET beskikbaar. Vir Januarie 2020 Afrikaanse resensies en boekgesprekke, klik hier. 

Meer oor die Jakes Gerwel Stigting se verblyfsprogram

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 1 tot 27 Julie 2020, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.  Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 16 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, by theo@jgf.org.za. Onderhoude vind op 8 April in Kaapstad plaas en suksesvolle aansoekers word op Internasionale Boekedag op 23 April aangekondig.

Aansoeke moet bestaan uit: ’n motiveringsbrief oor waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak; ’n opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer (lys van publikasies, of indien nog ongepubliseerd, ’n voorbeeld van skeppende skryfwerk – 30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie; en ’n projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die verblyf sal werk.

  • Vir meer inligting oor die Jakes Gerwel Stigting, klik hier
  • Leer meer oor PEN International hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.