fbpx

Word ’n goeie entrepreneur

Die dae toe ’n mens jare lank by een maatskappy gewerk het en na 25 jaar ’n goue horlosie en ’n klop op die skouer ontvang het, is lankal iets van die verlede. In ’n land soos Suid-Afrika, waar die werkloosheidsyfer onrusbarend hoog en die ekonomiese poel klein is, is al hoe meer jongmense deesdae genoodsaak om geleenthede te identifiseer en hulle eie werk te skep – entrepreneurs te wees – maar hoe word dit gedoen. Jacques Basson van Klipkouers.com gee raad:

Volgens Jacques is veral potgooie ’n uitstekende bron van praktiese, nis-inligting. Klipkouers is ‘n goeie voorbeeld van entrepreneurs wat met mekaar gesels en advies uitdeel. Oudioboeke en YouTube-kanale met kort segmente is volgens hom ook stukkies goud. Dan is daar ook MOOCs (Massive Open Online Courses) en Youtome, wat gratis kursusse aanbied. Daar is ook verskeie ander kursusse waarvoor ‘n mens honderde rande kan betaal afhangend van jou behoefte.

Kry ‘n mentor

Gesels met ander entrepreneurs. Party sal dalk nie tyd hê om jou te help nie, maar daar is baie ander wat graag kennis deel en jou sal adviseer. Maak seker jy is  deeglik voorbereid wanneer jy jou mentor ontmoet, sodat jy nie sy of haar tyd mors nie. Wees altyd reg met drie of vier vrae.

Bou ’n netwerk

Woon netwerkgeleenthede by. Daar is heelwat besigheidsontbyte met sprekers, waar ‘n mens nuwe dinge kan wys word. Belangriker nog, dit bied ‘n geleentheid om mede-entrepreneurs te leer ken. Let wel, dis nie ‘n kans om by die eerste beste geleentheid jou besigheidskaart onder iemand se neus te druk nie. Hou ook altyd in gedagte dat dit nie bloot gaan oor die mense in daardie betrokke vertrek nie, dit gaan oor wie die mense wat in die vertrek is, ken. Wees vriendelik teenoor almal, want ‘n mens weet nooit wie die persoon met wie jy praat se broer of suster of skoonsuster is nie. Onthou, ons elkeen is die gemiddeld van die vyf mense met wie ons die meeste tyd spandeer, en derhalwe is dit belangrik om jouself met die regte mense te omring.

Wees finansieel paraat

Dis belangrik om finansiële kennis op te bou, om te verstaan hoe ‘n mens ‘n mark uitwerk en om te kan verseker dat jy op die ou einde wins maak.

Nog wenke:

Stel doelwitte

Stel duidelike doelwitte vir jouself. Luister na potgooie, lees boeke, luister na praatjies om jou doelwitte te struktureer. Namate ‘n mens se doelwit duideliker word, begin dinge gebeur en begin jou brein aan oplossings werk om by jou spesifieke doelwit uit te kom.

Ken jouself

Ken jou sterk- en swakpunte. Doen assesseringstoetse, soos byvoorbeeld Gallup Strengths Assessment, Kolbe A™ Index, Tall Trees Training of Enneagram, wat uiters akkuraat is. Verstaan jou brein en hoe dit funksioneer. Hierdie toetse dui byvoorbeeld aan hoe jy stresvolle situasies hanteer, wat natuurlik vir jou kom, en dis belangrik om hierdie eienskappe van jouself te ken en te verstaan. Speel dan volgens jou sterkpunte en posisioneer jouself om uit daardie posisie van krag te funksioneer.

Hou ’n joernaal

Dit is nie net ‘n effektiewe manier om van stres ontslae te raak nie, dit bevorder ook kreatiwiteit. Dit is wat entrepreneurskap behels; ‘n mens is gedurig besig om probleme op te los. En, in die oplossing van die probleem voeg jy waarde toe. Skryf daarom ten minste een keer ‘n week – dit maak nie saak hoeveel nie – solank jy net skryf. Dit help ook om beter begrip te kry vir seker dinge wanneer ‘n mens dit neerskryf.

Weet wat jy wil bereik

Weet wat jou jaar se doelwitte is. Jy het ‘n langtermyndoelwit, daardie lewensvisie. In dieselfde asem, moet ‘n mens egter weet wat jy in die volgende jaar wil bereik, maar belangriker, wat jy oor die volgende drie maande wil bereik. ‘n Mens moet ‘n breë oorsig hê van wat jy bereik.

Werk die proses

Jou doelwit mag miskien wees om die Curriebeker te wen, maar op Maandae doen jy fiksheid, en dis dit. Dit is die belangrikste ding op ‘n Maandag. Dinsdag fokus jy dalk meer op tegniese vaardighede. Jy kan nie Maandag of Dinsdag die Curriebeker wen nie, maar elke dag wat jy die proses werk, en al daardie stappe bymekaartel, lei dit uiteindelik tot sukses.

Weet alles gebeur mettertyd

Jacques sê sy motto, veral in moeilike tye, is dat die lewe, en besigheid, in seisoene werk. Steven Covey het gepraat van ‘The Law of the Farm’. Daar’s ‘n tyd vir saai. Daar’s ‘n tyd vir wag vir die saad om op te kom. En eers dan is dit tyd vir oes. ‘n Mens kan nie oes as die mielies nog nie op is nie. En as jy nie saai nie, gaan daar nie mielies opkom nie. Daarom is boerdery vir hom ‘n wonderlike voorbeeld van die lewe, en van besigheid. Goeie tye kan nie vir ewig aanhou nie, maar die moeilike tye sal ook verbygaan. ‘This too shall pass…’

Werk aan jou besigheid

Onthou om aan jou besigheid te werk, en nie in jou besigheid te werk nie. Dis belangrik om jouself van tyd tot tyd effens los te maak, ten einde te beplan, te dink. Gestruktureerde dinktyd is van kardinale belang. Maak seker dat jou besigheid so gestruktureerd is dat jy nie die besigheid is nie, dat jy nie eintlik maar net ‘n ‘werk’ besit nie, in plaas van om vir iemand te werk. Dit is nie ware entrepreneurskap nie.

Kontrakteur uit

Uitkontraktering is van onskatbare waarde. Soos hulle sê: ‘Strengthen your strengths, and outsource your weaknesses…” Daar is altyd iemand wat iets beter en goedkoper as jyself kan doen. Moenie skroom om dienste uit te kontrakteer nie, ten einde jou in staat te stel om te fokus op dit waarin jy die beste is.

Wil jy graag jou eie onderneming bedryf? Hier is twee kursusse vir voornemende entrepreneurs … in Afrikaans

Solidariteit: Helpende Hand en Entrepreneurswizard het ’n nuwe projek van stapel  gestuur waarin hulle saamwerk om voornemende entrepreneurs op te lei en toe te rus om suksesvolle sakepersone te wees.

Kursusse

Daar is twee kursusse om van te kies:

  • ’n Kort, basiese kursus ideaal vir die nuwe sakepersoon wat vir die eerste keer voelers uitsteek en die mark betree. Die kursus rus jou toe sodat jy nie onnodige foute maak nie en gee jou die bes moontlike kans om sukses te behaal.
  • ’n Meer omvattende kursus gemik op ’n meer gesofistikeerde onderneming. Die kursus dek alle aspekte van ’n nuwe onderneming op die been bring. Spesifieke vaardighede en kennis is nodig om jou kans te vergroot om jou onderneming uit te brei en hierdie kursus bied dit alles.

Die kursusse word in Afrikaans aangebied, maar die student leer ook die Engelse begrippe soos dit in die bedryf gebruik word. Koste beloop onderskeidelik R3 000 en R20 000 per kursus.

Rentevrye lenings

Diegene wat belang stel en geldelike hulp nodig het, kan aansoek doen om rentevrye lenings by Helpende Hand. Laat weet net vir entrepreneurswizard en hulle sal jou na die regte mense verwys.

Of gaan loer hier klik op die “course”-skakel klik en selekteer die kursus waarin jy belang stel.

Voorvereistes

  • Toegang tot ’n rekenaar met ’n redelike internetspoed.

Die eerste kursus begin reeds einde Maart 2019.

Teken in op entrepreneurswizard se nuusbrief.

Besoek Klipkouers.com en gaan steek kers op by kundiges.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.