Wie hou wag oor ons taalerfenis?

19 September 2016

Fokus: Bewaring van die kosbare Afrikaanse erfenis

Deur die bewaring van ons erfenis sorg ons dat die draad wat deur ons geskiedenis loop sigbaar getrek word en aan toekomstige geslagte oorgedra word.

Het jy al vir ’n oomblik daaraan gedink dat sonder bewaring, ons geen idee sou gehad het hoe dinge in die verlede gebeur of gelyk het nie. Ons weet alles wat ons van die geskiedenis weet danksy artefakte, geskrifte, dokumente en foto’s wat op een of ander manier behoue gebly het of met die nodige insig gedokumenteer is vir die volgende geslag, dikwels in museums en argiewe. In ’n kitssamelewing waar alles eensklaps moet gebeur en talle gedrukte publikasies plek moes maak vir aanlynweergawes, is die vraag of daar steeds seker gemaak word dat ons ’n nalatenskap vir geslagte wat kom, agterlaat. Die Erfenisstigting het op Donderdag 11 en Vrydag 12 Augustus 2016 ’n kongres aangebied oor die bewaring van Afrikaans se tasbare erfenis. Die kongres het plaasgevind in die De Kroon-funksiesaal by Fort Schanskop op die terrein van die Voortrekkermonument in Pretoria.. Verskeie sprekers het interessante bydraes gelewer oor verskillende instansies soos die ATKVNALN, die NH Kerkargief, die Kaapstadse Argief en die Eugène Marais Stigting wat hard werk om seker te maak die volgende generasie sal weet hoe die voetspoor van Afrikaans reg deur Suid-Afrika se geskiedenis geloop het.

Afrikaans.com was daar en Alita Steenkamp fokus op die skatryk erfenis van Afrikaans en sy bewaring en vertel meer oor die argiewe en organisasies betrokke hierby.

NALN is ’n kosbare goudmyn van skatte uit ons letterkunde, musiek en toneel

In Bloemfontein staan ’n gebou waarin ons kosbare kultuurerfenis die afgelope veertig jaar bewaar word en wat daagliks deur skole, navorsers, studente en die publiek besoek word. NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum is in 1972/73 in die lewe geroep om die Afrikaanse Woordkuns en al die rolspelers wat daarby betrokke is, se bydraes na te spoor, te karteer, te versamel en te dokumenteer sodat dit vir die huidige en toekomstige geslagte bewaar kan word.

Lees meer ...

Die geskiedenis van Afrikaans vanuit ’n ander hoek

 21 September 2016

Me Nola Doré het by die Erfenisstigting se Kongres oor die Bewaring van Afrikaans se tasbare erfenis gewys op die drie primêre temavelde waaromheen die museum se uitgebreide versameling van nagenoeg ’n driekwartmiljoen items opgebou en steeds uitgebrei word:

• Die Afrikaanse literêre erfenis;
• Die Afrikaanse toneel- en teatererfenis; en
• Die Afrikaanse musiekerfenis.

Dit sluit ’n uitgebreide boekversameling, ’n manuskrip- en dokumenteversameling, ’n koerant- en tydskrifknipselversameling, ’n bladmusiekversameling, ’n plakkaat en programversameling, ’n uiteenlopende kunsversameling; ’n foto- en oudiovisuele versameling, ’n tekstielversameling wat teaterkostuums insluit, ’n meubel- en voorwerpversameling met meublement uit outeurs se werkruimtes en ’n nietasbare versameling in wat op meer as 50 rekenaars geberg word.

Aan die einde van 2015 het die voormalige kurator van NALN, Otto Liebenberg, dit reggekry om van Elisabeth Eybers se persoonlike besittings van die Suid-Afrika-huis in Nederland na NALN oorgedra te kry. Na haar afsterwe in 2007 is dit daar in ’n spesiale Eyberskamer uitgestal, maar met die opknapping van die Suid-Afrika-huis in Amsterdam sou daar nie meer plek gewees het vir die volledige versameling nie. Van hierdie persoonlike besittings sluit Elisabeth Eybers se boekery, haar tikmasjien, en meubelstukke van haar woonstel in Vondelpark, Amsterdam in. Hier tussenin is kosbare kleinode soos ’n stoel en kussing, ’n sambreel en bril, haar platespeler en plate, ’n FAK-eerbewys en skilderye. Otto Liebenberg het met die hulp van prof Ena Jansen, wat ’n vertroueling van Eybers was, daarin geslaag om die versameling vir NALN te bekom en dit is na Bloemfontein verskeep waar dit uitgestal word vir die publiek.

Me Doré het ook uitgelig dat na beraming NALN tans oor biografiese en/of loopbaaninligting oor nagenoeg 10000 Afrikaanse skrywers en musiek- en teaterpersoonlikhede beskik wat in veral die knipselversamelings, maar ook in bronne soos die musiek- en teaterprogramversamelings en in dokumentversamelings opgesluit lê. Dit sluit inligtingslêers oor 752 mense in wat aktief betrokke is by die hedendaagse Afrikaanse ligte musiekbedryf.

Aanvullend tot die outeurs of hulle naasbestaandes wat deur die jare hulle literêre nalatenskap aan NALN toevertrou het, is daar ook talle uitgewers wat manuskripte aan NALN geskenk het vir bewaring en wat dit steeds doen. Daar kan beslis gesê word dat NALN die enigste bewaringsinstansie is wat Afrikaans se tasbare erfenis op so ’n holistiese basis versamel en bewaar en wat sedert sy bestaan so ’n enorme omvattende versameling opgebou het en dit steeds sorgsaam stoor en versorg.

Die grootste uitdaging tans vir hierdie bewaringsentrum is ’n gebrek aan mannekrag en fondse om alles te doen wat hulle graag sou wou doen. Die uitdaging is om op tegnologiese gebied by te bly met digitalisering en skandering en die nodige klank-en beeld-digitaliseringsfasiliteite vir elke tipe materiaal in hul besit te bekom. Hulle sal ook baie graag ’n bykomende stoor- en uitstalruimte wou hê want die huidige spasie in die geskiedkundige NALN-gebou is uit die aard van die saak beperk. Hopelik sal daar van iewers af ’n ruim skenking kom om hierdie drome ’n realiteit te maak. Met ’n baanrekord wat getuig van veertig jaar se toewyding en volgehoue bewaring van die Afrikaanse erfenis, verdien hierdie instansie ondersteuning vanuit alle oorde.

Besoek: https://www.facebook.com/vriendevannaln/?fref=ts en sluit aan by die vriendekring.

Die geskiedenis van Afrikaans vanuit ‘n ander hoek

“Na onttaling volg ontsteltenis, ontnugtering, ontgogeling, ontheemding, ontbering, onteiening, ontmagtiging, en vir ons kinders se kinders se kinders: onterwing. Nóú is die laaste kans om die drywers en medewerkers van onttaling te stop, anders gaan ons nageslag eendag in argiewe lees van die eens-bestaande Afrikaanse gemeenskap … as onttaaldes.” – Willa Boezak

Dr Danny Titus, uitvoerende direkteur van die ATKV

In die bewaring van ons Taalerfenis, is dit nodig om die geskiedenis van Afrikaans ook vanuit ’n ander hoek te beskou. So het Dr Danny Titus, uitvoerende direkteur van die ATKV in Augustus by ’n konferensie, aangebied deur die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria, gesê. Die ATKV het tans twee projekte aan die gang om ook ’n ander geskiedenis, as bloot die van die Genootskap van Regte Afrikaners, aan Afrikaans te gee.

Lees meer ...

Die geskiedenis van Afrikaans vanuit ’n ander hoek

Dr Danny Titus, uitvoerende direkteur van die ATKV

Dit is die Familiegeskiedenisprojek en die Naelstringlesings. In die Naelstringlesings, word die perspektief geplaas op die mense wat op die strand gestaan en wag het vir die skepe van die Europeërs om hier aan te doen. Die mense wat eerste hier was. Wie was hulle? Hoe het hulle geleef, en wie was hulle leiers. Die lesings word maandeliks deur dr. Willa Boezak op plekke soos die Kasteel in Kaapstad aangebied. Dit is ook Dr. Boezak wat die uitstekende lesing oor die gevaar van Ont-Taling gelewer het.

Tien interessante moetweet feite wanneer jy die geskiedenis van Afrikaans vanuit ’n ander hoek beskou:

  • Die 2011-sensus het bevestig dat van die Afrikaanse moedertaalsprekers is 3,4 miljoen bruin (50%), 2,7 miljoen is wit (40%), 60 2100 is swart, (9%) en 58 700 is Indiërs (9%).
  • Nederlandse skepe het al teen die einde van 1500 by die Kaapse kuste aangedoen en dit was vir die Khoi-Khoin nodig om met die seevaders te kon kommunikeer.
  • Die Khoi-vissergemeenskappe het vanaf die laat 1500’s ’n gebroke marktaal begin ontwikkel met die verbygaande Europeërs wat op pad na die Ooste was en dit was die moeisame geboorte van Afrikaans.
  • Reeds in 1611 het ’n Nederlandse ekspedisie die woord “kanna” by die Khoi teëgekom en woorde soos boegoe, dagga en kierie was ook gou deel van die nuwe woordeskat.
  • Dit was vir die besoekers aan die Kaap noodsaaklik om Khoi te leer en in 1626 was daar reeds 31 Khoiwoorde opgeteken.
  • In 1647, vyf jaar voor die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap, het Leendert Janssen (Kaptein van De Haerlem) met 61 seemanne vir ’n jaar aan die Kaap gebly en met die Khoi-Khoin begin kommunikeer.
  • Teen die 1800’s het Suid-Afrika se oertale min of meer verdwyn binne die grense van die Kaapse Kolonie deels vanweë die streng onttalingstrategie van die HOIK.
  • Autshumao, na wie daar in geskiedenisboeke verwys word as Herry die Strandloper, is vanaf 1613 tot 1614 teen sy wil na Londen geneem om as tolk op te tree.
  • Oud-Hessekwa het op Genadendal, die Morawiese sendinggemeenskap, reeds in die middel-1800’s al Afrikaanse nuusbriewe en maandblaaie uitgegee met hul eie drukpers.
  • Prof. Christo van Rensburg se So Kry Ons Afrikaans wat in 2012 verskyn het, kry verrassend min aandag onder akademici, maar tog bied dit ’n ander, interne, inheemse perspektief op die geskiedenis van Afrikaans

Die Wes-Kaapse argief en die begin van Afrikaans

In 1652 het die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) besluit om ’n verversingspos aan die voet van Tafelberg in Tafelbaai op te rig en Jan van Riebeeck is in beheer van hierdie nedersetting gestel. Dis dan ook hierdie dokumentasie van die VOC, wat strek oor ’n tydperk van 144 jaar, wat in die Kaapse Argief asook in die Nationaal Archief in Den Haag bewaar word wat dit vir historici moontlik maak om op die voetspoor van Afrikaans terug te loop.

Helena  Liebenberg

Die VOC-wapen

‘n Geskrif waarop Jan van Riebeeck se handtekening verskyn

Die voetspoor van Afrikaans
In Augustus 2004 word Nederland se VOC-versameling deel van UNESCO se Memory of the World Register en op 6 April 2005 word die VOC-versameling in die Kaapse Argief amptelik deel van UNESCO se wêrelderfenis. Die dokumente bevat ’n ongeëwenaarde rykdom van gegewens oor die ontstaan en ontwikkeling van ’n verversingspos tot ’n kolonie, met inwoners bestaande uit inkommers en inheemses. Afgesien van die Daghregisters, waarin die daaglikse gebeure neergeskryf is, word die dokumente aangevul deur onder meer skeepsjoernale, testamente, vendusierolle en inventarisse. Tans is daar ’n projek aan die gang om al die dokumentasie en kaarte te digitaliseer en op hierdie manier elektronies te bewaar en beskikbaar te wees vir navorsing.

Hoe het die woord struisvogel volstruis geword?
Dr Helena Liebenberg het by die Erfenisstigting se Kongres oor die Bewaring van Afrikaans se tasbare erfenis gesels oor die transkripsieprojek en verduidelik watter belangrike inligting in sulke dokumente opgesluit lê. Hoe het die Hollandse woord struisvogel in Afrikaans volstruis geword?, is ’n voorbeeld van inligting wat deur middel van hierdie dokumente ontsluit kon word. In een van die geskrifte wat uit 1709 dateer word daar vertel van ’n gevangene, ene Roelof Cornelisz van Amsterdam wat in ’n woordewisseling met die matroos Jan Janz betrokke was en daar word dan gepraat van sogenaamde voogelstruijsen.

Danksy die harde werk van ’n paar mense wat opgelei is om hierdie dokumente te transkribeer, word hierdie kosbare erfenis ook vir die nageslag bewaar.

 Het jy geweet?

  • Die VOC-versameling (o.a. dokumente en kaarte) wat in die Wes-Kaapse Argief bewaar word, vorm die bakermat van argivale inligting in Suid-Afrika en dien as primêre bron vir die geskrewe aanvangsgeskiedenis van die Kaap.
  • Die woord biltong is ’n Afrikaanse eieskepping en dateer uit 1769. Die eerste gedeelte van die woord, bil, beteken boud. In een van die dagregisters word vertel van ’n soldaat wat “met een voetschop onder sijn billen” gestraf is.
  • Eg Afrikaanse woorde soos timmerasie en occasie word albei in 1680 aangeteken.
  • Al gewonder hoekom praat ons van heuning en seun, maar die Nederlanders van honig en zoon? Die eu in die plek van oo het voorgekom in sogenaamde boere-Hollands wat as minder beskaafd geag is en talle Afrikaanse woorde is afkomstig uit die boere Hollands van die 17e-eeu.
  • In die Daghregisters is slegs een Khoi-woord aangeteken naamlik dacha (1685). Die Portugese het reeds voor 1652 Indiese hennep na Suid-Afrika ingevoer.
  • Suid-Afrikaanse plekname van Khoi-herkoms is egter volop: Hantam (1774), Kamdeboo (Camdebos, 1774), Karoo (Caro, 1794), Tsitsikamma (Citzij kamma, 1789).
  • Die VOC-soldate, meestal Duitsers, het gery op pferden, nie paarden nie en vandaar Afrikaans se perd, naas die Nederlandse paard.
  • Die Hugenoot Henri Lecrévent word Arrie Lekkerwyn en sy plaas se naam in Drakenstein was en is steeds Lekkerwyn.
  • Een van die ou geboue aan die Vriethof in Maastricht, Nederland, dra die naam van Het Oude Vogelstruis1731.

Dr Helena Liebenberg is sedert 2000 betrokke by die Taal sekretariaat in Stellenbosch en daar het sy betrokke geraak by twee VOC-transkripsieprojekte wat deur Nederland befonds is en in die Wes-Kaapse Argief uitgevoer is. Tans is sy betrokke by die digitalisering van die VOC-Daghregisterprojek. Sy en haar man bedryf die Sentrum vir Besigheids- en Taaldiens in De la Haye, Bellville.