Vier ’n spesiale Afrikadag by Die Taalmonument: 25 Mei 2019

Lees meer oor die Taalmonument hier

Om hierdie Afrikadag opnuut klem te lê op die Afrika in Afrika(ans), fokus die Afrikaanse Taalmuseum en -monument op 25 Mei 2019 op die wedersydse invloede tussen Afrikatale en Afrikaans. In die lig van verlede jaar se suksesvolle viering, bied die monument weereens gratis toegang aan alle Afrikane (Suid-Afrikaners uitgesluit) wat met ʼn geldige paspoort van enige ander Afrikaland opdaag.

“Ons wil ook as Suid-Afrikaners uitreik na ons mede-Afrikane en daarom dat ons dit goed gedink het om hulle gratis toegang tot die Taalmonument aan te bied. Ons beskou die monument nie net as ʼn baken van hoop vir die ontwikkeling van Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale.” – Michael Jonas, direkteur van die ATM

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, wil die monument met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ʼn Afrikataal, die taal se Afrika-wortels (saam met haar Europese en Oosterse erfenisse) sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap.
Besoekers kan om 12:00 die middag ʼn gratis begeleide toer van die monument meemaak. Die toer sal fokus op die taal se Afrika-wortels en Afrikaans se invloed op ander Afrikatale. Tussen 13:00 en 14:00 sal die Imbhewu Marimba-groep en Voce Armoniche-koor betowerende Afrikaliedere opvoer – dit is ook gratis vir besoekers. Die Afrika Unie se amptelike lied sal gespeel en die Afrikavlag gehys word as seremoniële aspek van die dag.

Die Taalmonument se toegangsfooie is R40 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en pensioenarisse, R5 vir kinders onder 18 (gratis onder ses jaar) en gratis vir Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies. Oudiogidse is beskikbaar in Afrikaans, Engels, Xhosa, Frans, Duits en Nederlands. Vir meer inligting oor die ATM se opwindende geleenthede, besoek www.taalmonument.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.