’n Hartseer afskeid – Piet Botha (1955 – 2019)

Piet Botha, bekende rocker, skrywer en kunstenaar is vandeesweek (2 Junie 2019) oorlede nadat hy vroeër vanjaar met pankreaskanker gediagnoseer is. Die blues- en rockmusikant was ’n legende in die rockwêreld en was deel van die rockgroep Jack Hammer. Sy laaste album, Die Middernagtrein, is in Maart 2018 vrygestel. Lees meer oor hom hier.

Die bekende skilder, beeldhouer en woordkunstenaar Lidi de Waal neem so afskeid:

Gedig vir Piet Botha

ek huil oor Piet Botha
hy’t my nooit gesien nie
en hy’t nie ń clue gehad wie ek is nie
maar in ń tyd toe stilte en effense waansin
en wanhoop en ń vasklou aan my kleikuns
my elke dag vol was
het ek oor en oor na hom geluister
na hom en Leonard Cohen
oor en oor totdat ek later hulle stories uit my kop geken het
“skielik het die son sy rug op jou gedraai
wie sal jou vashou
o my baby hoekom is jy so alleen
o my baby altyd ń bietjie reën”
dit was die tyd toe ek ń workshop
in die industrial area in die strand gehad het
in die workshop was twee lang tafels
sakke vol klei hope onklaar en klaar beelde
daai monster van ń parrafienoond
en ń cd-spelertjie
“maar whitey jou oë daai dag
was blou net soos die lug
toe ons weer so kyk
het n AK jou fucked up geskiet
goeienag generaal”
ek wou so graag ń manier kry om te kon wegkom daar
want my lewe was swartgallig en effens donker sodat ek altyd half verdrink gevoel het in die parrafienrook
“my riviere is swart
dis nie water nie dis teer”
wat gekeer het dat ek in die teerrivier spring
was jou en Leonard Cohen se songs, Piet
en as ek nou en dan die oond oopmaak en binne in sit die lieflikste kleibeeld
“klein bietjie liefde
klein bietjie geluk
heelwat van dit en dat
maar meestal ń suitcase vol winter”
en nou is ek in tyd ń paar jaar weg van daai industrial workshop tussen die panelbeaters en die mechanics
maar jou stem sal my altyd terugneem
en my laat dankie sê dat daai tyd verby is
en nou kan ek ook net sê
“bye bye my darling
it’s time to go”
ek wil hê jy moet weet vir my
sal jou stem en jou songs ewiglik bly

Foto: Piet Botha-facebookblad

Ingeteken op Netwerk24? Lees Hanlie Retief se onderhoud met Piet Botha hier.