Veldtog #onmisbaar – Sinki Mlambo

Lees meer oor die veldtog hier …

Sinki Mlambo is ’n kommunikasiekundige by Revlon en gebruik haar unieke agtergrond om brûe te bou. Hierdie boorling van Oos-Londen was vir lank die enigste swart leerder in haar skool en dit is een van die redes waarom sy Afrikaans perfek praat. Hierdie jong, dinamiese Xhosa-vrou slaan mense se asems weg wanneer sy wegspring, maar sy lag as sy sê dat daardie oomblikke gewoonlik wonderlike geleenthede skep vir interessante gesprekke. Haar pa was ’n Afrikaansonderwyser en dit is wat haar so keurig Afrikaans laat praat, maar haar moedertaal is Xhosa. “Dit is so lekker vir my om die tradisionele prentjie van die Afrikaanssprekendes in ons land te help nek omdraai. My Afrikaans lyk soos Rubik se kubis. Veelkantig en interessant … dit is ’n groot deel van wie ek is.” Sinki is ’n ambassadeur vir Afrikaans. Sinki dien ook op die direksie van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Sy beantwoord vir Afrikaans.com die Proust-vraelys. Leer ken haar van nader …

Haar leuse:

“Ek wil mense se harte verstaan.”

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?

Met die seisoenverandering was ek vir ‘n hele ruk siek en ek nies toe baie. Ek vra iemand vir ’n tissue, toe sê sy: “Jy bedoel seker ’n snoetsponsie”. Dit sê so lekker!

Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?”

Al drie van die volgende het ek al opgevoer en elkeen het my op ‘n ander manier aangeraak:

  • “Daar is meer poësie in die sneeuvlokkie as in die letterkunde.” – TT Cloete (uit God die digter)
  • “Lat ons di Bybel oepeslaan en lat ons daryt lies.” – Adam Small (uit Kô laat ons sing)

(Maak nie saak waardeur jy gaan nie, daar’s altyd ‘n lied in die lewe.)

  • “Ag please mêrim, kamaan smile. Kyk net ons tentjies is vol happiness gepaail.” – Adam Small

(Glimlag net in die lewe – daar is soveel happiness om ons.)

Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees.)

Siener in die suburbs – PG du Plessis (al is dit eintlik ‘n drama).

Ek het dit geniet uit ‘n fliek-oogpunt uit, ‘n drama-oogpunt, fisies die teks deurwerk.

Ek’s mal oor die temas wat daardeur kom wat vandag steeds relevant is.

So nou en dan slaan ek “Die Groot Verseboek” oop. Dit het op ‘n stadium in my kattebak saamgery.

Die eerste boek wat jy op jou eie gelees het?

My Kinderbybel.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Ek jaag nie geld of sukses nie. Vir my lê rykdom en geluk in die pad wat ek geloop het en in die reis om te kom waar ek is. My grootste geluk sal wees om altyd iemand te hê met wie ek iets kan deel.

Jou grootste vrees?

Ek wil altyd my beste gee in als wat ek doen en myself uitdaag om te verbeter. Ek dink as ek eendag ‘n gemaksone bereik en daar nie meer groei plaasvind nie, sal ek nie gelukkig wees nie.

Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?

Ek ooranaliseer dinge baie, wat soms tot my frustrasie lei en ek irriteer myself as ek soms te lank stilbly.

Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?

Mamma, Mamma, Mamma, Mamma!

Vir haar geduld en vir haar rustige en perfectly timed wysheid wat sy gehad het. Sy’t my altyd toegelaat om my eie pad te volg. Sy’t klein saadjies vir Sinki gelos. Ek waardeer haar meer en meer, veral omdat ek haar nie meer by my het nie.  ’n Enkelma wat drie kinders deur skool en universiteit gekry het en nie een keer gekla het nie … ek het haar eenkeer gevra wat is haar grootste sukses. Haar antwoord: “Die dag wat sy aan ons drie geboorte gegee het.”

Sy is my anker.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Wyn en data!

Watter frases of woorde gebruik jy te veel?

Ek skep glo my eie taal soos wat ek gaan. My vriendin noem dit “Sinki-isms. Dis meesal troetelwoordjies, maar as ek bv. iets verduidelik dan sê ek  “shou-shou”.

By watter geleentheid sal jy waarskynlik ‘n bietjie jok?

Ek jok nie baie goed nie, so jy sal dadelik weet. Ek dra my hart op my mou.

Wat of wie is die liefde van jou lewe?

Wie – is nog op ‘n padkaart – ons albei is nog op reis, op soek na mekaar.

Wat – Behalwe my wyn, hou ek baie daarvan om tussen mense te wees en hulle stories te hoor. Daar is ‘n Xhosa-spreekwoord “Ukuhamba kukubona” wat beteken “to travel is to see”, maar die dieper betekenis is dat hoe meer jy reis op alle vlakke van die lewe (saam met mense), hoe ryker is jy.

Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?

Ek is altyd op my gelukkigste as ek by my familie is. ‘n Fisiese plek – Leeukop – dis nie iets wat ek gewoonlik doen nie, maar ek’t myself uitgedaag, ek’t gegroei en vriendelike Suid-Afrikaners ontmoet, ek’t tyd met die Here spandeer, so dit was soveel fasette van lekker!

Watter talent sou jy die graagste wou hê?

Ek sal graag baie lekker wil kan kook.

As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Ek is so gelukkig met wat ek het. Ek’s uniek. Ek’s sinkilicious en ek love dit!

Wat beskou jy as jou grootste prestasie?

Eerlikwaar, niks nie. Ek’s 28 en nog baie jonk. Al is ek hoe oud, ek besef ek doen niks wat iemand anders nie kan doen nie.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My ma se stemnotas.

Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?

As ek honger is en ek moet produktief wees.

Jou fiksieheld/in?

Pocahontas & Black Panther.

En jou helde in die regte lewe?

Enigiemand wat passievol is, wat lewe, wat dryf het en wat gee – nie net noodwendig finansieel nie, maar  tyd – wat bou, en wat drome kan najaag (saam met ander).