Veldtog #onmisbaar – Heindrich Wyngaard

Lees meer oor die veldtog hier …

Neem deel …

Die advertensieveldtog doen ‘n beroep op digitale deelname deur jou uit te nooi om met die hutsmerk #onmisbaar op jou sosiale media-platforms te vertel waarom Afrikaans binne JOU konteks en ervaringswêreld onmisbaar is, maar veral hoe dit gekom het dat jou taal jou gemaak het wie jy is.

Wat maak Afrikaans vir JOU #onmisbaar? Wil jy of kan jy jou ‘n wêreld daarsonder indink? Waarom nie? Neem deel aan die gesprek met #onmisbaar en vertel ons of deel ‘n foto wat jou unieke karakter uitbeeld. Jy kan ook ‘n whatsapp-boodskap stuur. Laat ‘n stemboodskap en deel jou liefde vir Afrikaans by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van en van watter geweste jy is, by te voeg.

Heindrich Wyngaard

Heindrich Wyngaard ʼn Caledonner in murg en been. Hoewel hy as kind gedroom het van ’n loopbaan in die regte, het hy sy onderwyser se raad gevolg en joernalistiek gekies. In sy matriekjaar het hy by die plaaslike koerant begin werk en hy was Caledon se korrespondent wat dorpsnuus uit die bruin gemeenskap aan Die Burger verskaf het. Heindrich word op 23-jarige ouderdom  Media 24 se parlementêre verslaggewer  en hy vorder tot Politieke Redakteur by Die Burger en Rapport. Heindrich was voorheen een van die aanbieders van RSG se vroegoggend-aktualiteitprogram Monitor en Sondagaande se nuusbesprekingsprogram Kommentaar. Sedert begin April 2018 bied hy die Sondagaand-geselsprogram KLOP! (Kô, lat ons praat) op kykNet&kie aan en hy is ook een van die anker-aanbieders van KN Verslag op kykNET. Hy deel sy Afrikaanse hart met ons. Leer ken hom van nader …

Heindrich Wyngaard saam met Malixole Gwatyu.

Heindrich se leuse:

“Prestasie word nie gebore nie; jy moet daarvoor werk.”

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?

Kwai, absoluut, lekker

Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?”

Ons is Gordonia-boorlinge, sê Poppie. (Uit “Die swerfjare van Poppie Nongena”)

Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees)

“Kennis van die Aand” – André P. Brink

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Om wakker te word sonder bekommernisse oor stres wat die dag mag meebring.

Jou grootste vrees?

Dat ek nie by alles sal uitkom wat ek nog graag sal wil doen voordat my laaste dag aanbreek nie.

Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?

Ongeduld, wat soms as humeurig beskou word.

Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?

Enigeen wat nie toelaat dat struikelblokke hulle terughou nie.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Boeke koop, terwyl ek nie weet wanneer ek tyd gaan kry om dit te lees nie.

Watter frases of woorde gebruik jy te veel?

“Absoluut”; en “maar wag nou”.

Wat of wie is die liefde van jou lewe?

Lees en skryf en dink.

Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?

1997 toe ek die eerste keer oorsee is, voltydse rubriekskrywer by Die Burger geword het en ook by die Media24 parlementêre verslagspan aangesluit het – alles op 23.

Watter talent sou jy die graagste wou hê?

Om kitaar of klavier te speel.

As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Meer geduldig wees, minder hooi op my vurk laai, leer swem.

Wat beskou jy as jou grootste prestasie?

Om op drie mediaplatforms my merk te kon maak: die gedrukte media, radio en nou televisie.

Wat is jou kosbaarste besitting?

Die foto van my oorle’ pa as ‘n jong skaapwagter.

Waar wil jy die graagste woon?

My geboortedorp, Caledon; of in Denemarke.

Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?

‘n Beeld uit my kinderjare: Om stukkende skoene te dra sonder die finansiële vermoë om dit te laat herstel of vervang.

Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?

Nederigheid.

Wie is jou gunstelingskrywers?

Adam Small (as leermeester), JM Coetzee (vir sy ekonomiese gebruik van woorde), James Baldwin (as essayis), Antjie Krog (vir haar oopskryf van ons land se gedeelde pyn) en Jolyn Phillips (as jong skrywer wat aan die stofbedekte, songebrande, harde-hande, massas gewone mense stem gee).

Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?

Netheid en beleefdheid.

En in ʼn vrou?

Styl en selfvertroue.

Waaroor is jy die spytste?

Dat ek sedert 9 jaar sonder ‘n pa groot geword het en dat ek nie meer begrypend teenoor my ma en haar tekortkominge opgetree het voordat sy self in 2011 gesterf het nie.

Lees meer oor René  Arendse …

Lees meer oor Sandra Prinsloo …

Lees meer oor Sinki Mlambo …

Lees meer oor André Venter …

Lees meer oor Anna Davel …

Kyk uit … volgende week is Mia de Villiers aan die beurt en as jy gedink het jy ken haar … dink weer. Sy deel so ’n ietsie van haar veelkantigheid.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!