Twee jaar … 20 muurskilderye en volgende jaar maak ons weer so!

Afrikaans.com se muurkunsinisiatief het in 2017 in die Wes-Kaap afgeskop en 10 mure is uiteindelik geverf. Vanjaar het ons weer so gemaak en weer 10 mure geverf. In 2019 gaan ons voort met hierdie wonderlike en inspirerende inisiatief en beplan ons om nege mure te tooi.

Kyk waar maak Afrikaans.com ’n verskil in 2018 …

“Ons is anders, maar tog is ons eenders. Jou taal is deel van jou identiteit. As julle eendag met julle kinders se kinders verby die muur loop, moet jy sê: ‘Daai muur maak ons trots om Afrikaans te wees.’” – René Arendse, Projekkoördineerder, Afrikaans.com-muurkunsinisiatief.

Trots Afrikaans. Vol inspirasie. Hoopvol. Respek vir ander. Dit is hoe die leerders en lede van die gemeenskap by vanjaar se tien skole gevoel het wanneer daar nog ’n kleurvolle Afrikaans.com-muurkunsskildery onthul is.

2018 het afgeskop by Liebenberg Primêr en Riverlands Primêr in Malmesbury waar  Afrikaans.com saam met ons vennote, die Afrikaanse Taalraad, Vriende van Afrikaans, ATKV en Fedsas ’n oggend saam met die leerders, onderwysers en gemeenskapslede van die onderskeie skole deurgebring het. Albei skole is ook verras met ’n boektrommelskenking van Vriende van Afrikaans  – juis om ’n liefde vir lees te ontwikkel en leerders aan te moedig om te lees. Whaden Johannes was die gaskunstenaar.

Die graad 2’s het “Die lappop”, opgevoer. Hier is die leerders saam met me. J. Carolissen en René Arendse.

Leerders van Liebenberg Primêr.

Die Afrikaans.com-muurspan wat behoorlik moes swoeg en sweet in die Malmesbury-son om die muur betyds klaar te hê: Justin Henning, Jessica Wright, Elmarie Wright en René Arendse (projekkoördineerder). 

Cheraldine van der Merwe (VVA), René Arendse (Afrikaans.com) en Melvina Mason Hearne (ATKV) oorhandig boeksakkies aan die graad R-klassie van Riverlands Primêr.

“Dis die taal wat ons erfenisstorie vertel … solank ons dit aanhou praat, sal Afrikaans en ons stories nooit uitsterf nie …” – Me. Lucia Petersen, WKOD Afrikaansadviseur

By Lavender Hill Sekondêr was die skrif aan die muur … by dié skool is almal trots Afrikaans.  Dit was ’n dag van inspirasie, groot drome en trots wees. Afrika-dag is behoorlik gevier … in Afrikaans! Die kernboodskappe van die dag was die verskillende variëteite in Afrikaans – elk met sy besondere waarde – en die belangrikheid van moedertaalonderrig wat juis tot meertaligheid lei.

Afrikaans.com in samewerking met die ATR, FEDSAS en die ATKV staan trots voor hul muurkunswerk by Lavender Hill Sekondêr. Gaskunstenaars, Die Jaloersbokkies, voltooi die kleurvolle prentjie. 

Nog ’n skool wat deesdae spog met ’n Afrikaans.com-muur, is Hoërskool Tafelsig in Mitchell’s Plain. Te midde van baie sosiale en ekonomiese uitdagings staan die skool trots binne sy gemeenskap as ’n baken van hoop en inspirasie en is dit een van die min skole wat nog Afrikaans as moedertaalonderrig aanbied. Die bekende rymkletser HemelBesem het met sy kragtige boodskap oor taal en identiteit almal aan sy lippe laat hang.

HemelBesem inspireer die leerders om trots te wees op hulle taal en identiteit.

Hoërskool Tafelsig se verteenwoordigende leerderraad.

Waar omgee vir mekaar sigbaar en voelbaar is.

Hierna is die span Worcester toe, waar die Pionierskool vir Siggestremdes en die De La Bat Skool vir Dowes aan die beurt gekom het. By die Pionierskool het die muuronthulling ook saamgeval met die opening van ’n multisensoriese tuin.

Nie eers die snerpende koue, met die sneeu dik op die berge rondom Worcester, kon ’n demper op die verrigtinge plaas nie.

Die muur is spesifiek vir die multisensoriese tuin geskep en bevat idiome wat met klank te doen het, soos “Speel tweede viool”, “Blaas sy eie beuel”, en “Lui ‘n klokkie”.  Graad 3- en 4-leerders is ook elkeen verras met ’n storieboek in braille (Die Kokerboom)  wat deur die Deense skrywer, Klavs Skovsholm, geskenk en oorhandig is. Die dag is afgesluit met ’n kultuuraand. Die Jaloersbokkies het die fees afgesluit met ’n vertoning wat die gehoor op hulle voete gehad het.

Links agter is Klavs Skovsholm, die skrywer en skenker van die gebrailleerde boeke. Saam met René Arendse, projekkoördineerder van die Afrikaans.com-muurprojek, is dr Niel le Roux (SBA) en die VLR van Pionierskool.

Klavs Skovshol (Deense skrywer),  René Arendse (Afrikaans.com)die Verteenwoordigende Leerlingraad van Pionierskool en dr Niel le Roux van die SBA.

Elke Afrikaans.com-muurskildery beeld die uniekheid van elke gemeenskap waar Afrikaans sy voetspoor laat, uit. So ook by die De La Bat Skool vir Dowes – waar die Worcestergemeenskap se hartlikheid en deernisvolheid duidelik na vore kom. Die muur by die skool dui op die verskeidenheid in hierdie gemengde landelike en stadsgemeenskap en vier die skoonheid van die natuur wat ’n mens so kleurryk en raak in Afrikaans kan beskryf. HemelBesem se optrede, kompleet met tolk, was ’n hoogtepunt en hy het daarin geslaag om die hoogs ouditiewe genre, rymklets, aan leerders bekend te stel.

Die trotse leerlingraad van die De La Bat Skool vir Dowes lyk te spoggerig voor hul vrolike muur.

Die DAPD-Gebaretaalkoor het gesorg vir heerlike vermaak. Hier span hulle uit voor die Afrikaans.com-muurskildery.

Leerders van De La Bat geniet HemelBesem se spesiale vertoning.

En so verskuif die Afrikaans.com se muurkunsspan Suid-Kaap toe en kom Bridgton Sekondêr in Oudtshoorn  en Hoërskool George aan die beurt.  Tydens die onthulling by Bridgton Sekondêr, het mnr. Danie van Wyk van Fedsas veral klem gelê op die kosbaarheid van Afrikaans, die variëteite en die feit dat meertaligheid slegs deur moedertaal moontlik is.

“Laat ons hierdie taal eien, laat ons ons stories vertel in Afrikaans, laat ons Afrikaans gebruik om ons te help om die hoogste sport te bereik.” – Danie van Wyk, Fedsas

Colan Sylvester, Oudtshoorn se burgemeester het aan leerders gesê: “Afrikaans is die taal waarin ek droom, die taal van my hart wat ek koester, ’n taal waarin ek kan troos en waarin ek kan bid en ’n taal waarmee ek kruisbeen by my huis kan sit en gesels. Jou taal is die huis van jou menswees. Dit vorm jou.” Die skool se eie rymkletser, Jamian Kennedy en die bekende Paul Amas was die vermaakkunstenaars.

Trotse leerders van Bridgton Sekondêre Skool dink hul muur is ‘bakgat’!

By Hoërskool George het die dag gebruis vol verwagting en opwinding en is die muur veral spesiaal omdat dit ’n buitemuur is en dus sigbaar vanaf die straat. Paul Amas en sy musiekgroep ‘House of Entertainment’ het die voete laat jeuk. Leerders is aangemoedig om breëbors met hul taal om te gaan en Afrikaans te koester. Woorde soos ystervark, kolwyntjie, vissie en plakkies pryk op die muur en die duidelike groot vraag: ‘Hoe lyk jou Afrikaans?’ is van vêr af te sien sodat leerders kan nadink oor die waarde van hul moedertaal en wat dit tot hul menswees en hul uniekheid bydra.

Leerders van Hoërskool George saam met hulle skoolhoof, Morton van Rooyen.

‘Droom groot in Afrikaans’ sê hierdie groep leerders van Hoërskool George, voor hul pragtige Afrikaans.com-muurskildery. Heel voor is René Arendse, gemeenskapskoördineerder van Afrikaans.com, en agter (derde van links) is Danie van Wyk, Wes-Kaapse bestuurder van FEDSAS. Heel regs is die skoolhoof van Hoërskool George, Morton van Rooyen.

… en al hierdie opgewondenheid … oor Afrikaans, natuurlik!

Kunstekaap bring die verhoog platteland toe

Elke jaar identifiseer Kunstekaap ’n plattelandse gemeenskap wat nie gereelde toegang tot die kunste het nie en bring hulle die verhoog en die kunste tot binne die harte van hierdie gemeenskappe. Vanjaar was die kollig op Vredenburg en kon Afrikaans.com hande vat met Kunstekaap en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans om van hierdie gemeenskapsuitreikprojek ’n hoogtepunt te maak en dit met ons besondere muurkuns te vier. Hoërskool Weston en Eden Primêr was aan die beurt  – voorwaar ’n viering van die mense van die streek, maar veral van Afrikaans wat so uniek in die monde van die Weskussers leef. Afrikaans is sonder twyfel die hartstaal van die Vredenburgers.

“Hierdie muur het so ‘n groot bewustheid van Afrikaans by die publiek aangewakker en die debat oor Afrikaans as moedertaal is weer onder die vergrootglas geplaas. Die muur moedig leerders aan om trots te wees op hul herkoms en erfenis.” – Mnr. Elvin Vraagom (skoolhoof, Hoërskool Weston).

Leerders van Hoërskool Weston in ‘n feestelike stemming.

Hoofdogter Tamia Josephs en hoofseun Lluwellen van Wyk saam met hul skoolhoof, mnr. Vraagom, dr. Marlene le Roux (Kunstekaap) en René Arendse (Afrikaans.com).

Eden Primêr staan uit as ’n baken van hoop in hul gemeenskap. Leerders het die geleentheid gehad om die Kunstrefferkonsert deur Kunstekaap by te woon. Pearl Adams en Simankeli het tydens die muuronthulling opgetree. Die talentvolle Pearl speel klavier en is raakgesien deur die uitvoerende hoof van Kunstekaap, dr. Marlene le Roux. Pearl is toe die geleentheid gegee om die verhoog met die kunstenaars tydens die galageleentheid te deel. Beslis ’n jong dame met ’n blink toekoms.

Die leerders van Eden Primêr staan in verwondering terwyl die muurskildery voor hul oë ’n lewe van sy eie aanneem.

Graad 4-leerders van Eden Primêr spog trots voor hul muur.

Meer oor die muurkunsinisiatief

Afrikaans.com se muurkunsinisiatief, spesifiek gefokus op die gemeenskap, het in 2017 afgeskop en is vanjaar voortgesit.

Met die muurkuns skep ons ’n bewustheid en word leerders aangemoedig om Afrikaans te geniet en te gebruik. Ons herinner leerders, onderwysers en die gemeenskap om trots te wees op die uniekheid van hulle kultuur, hulle skool, gemeenskap en Afrikaans – ons moedertaal – en moedig hulle aan om hulle unieke identiteit opnuut aan te gryp in hoe hulle hulleself uitdruk en binne hulle gemeenskappe leef.

Vanjaar se muurkuns bestaan uit helder beelde en woorde waarmee leerders hul kan vereenselwig. Die vlerke maak weer deel uit van die kunswerk – hierdeur wil ons leerders aanmoedig om groot te droom en hulle te laat besef: Niks is onmoontlik as jy jou daarop toespits en hard werk nie.

Die Afrikaans is #onmisbaar-tema maak ook deel uit van die mure en daardeur wil ons leerders aanmoedig om na te dink oor dit wat vir hulle spesiaal is van hulle taal – want uiteindelik is dit ’n mens se taal wat jou identiteit vorm – dis wie jy is.

Gaan kyk gerus hier  vir die volle verhaal en blaai deur die verskillende muuronthullings wat vanjaar plaasgevind het.

Om meer te lees oor 2017 se muuronthullings, klik hier,