fbpx

Skryf in jou moedertaal:

Gratis hulp met Afrikaanse kortverhale en gedigte

Min dinge is deesdae gratis, maar elke nou en dan is daar iemand met ’n passie wat maar te graag sy/haar kennis deel. Ernie Mellet van die Amateur-Skrywersbond is so ’n persoon. Afrikaanse skryf- en digkuns is vir hom ’n passie, daarom deel hy graag sy kennis met ander en bevorder sommer terselfdertyd ons pragtige taal, Afrikaans.

Meer oor die Skrywersbond (ASB)

Die ASB is in 2013 gestig en het tans 400 lede in Suid-Afrika en oorsee. Dit is ‘n niewinsgewende organisasie wat GRATIS hulp met kortverhale en gedigte in enige variëteit van Afrikaans verleen. Die ABS het ook reeds drie Merietetoekennings vir Taalbevordering van die ATKV ontvang.

Die hoofraadgewer, Ernie Mellet, help graag en nooi jou uit om vir hom te skryf by erniemellet@gmail.com, of ’n afspraak te maak om met hom te gesels. Jy kan Ernie kontak by 079 333 0055.

Opleiding en ondersteuning word per e-pos, persoonlik by die Praatkamer in Bellville, Kaapstad, of by skrywerswerkswinkels in die Wes-Kaap  gegee. Gesamentlike bundels wat reeds die lig gesien het, is Sprankel!, Kwetter!!! en Tierlantonkels.

Daar is ook ’n skryfkursus beskikbaar: Riglyne vir Amateurskrywers (’n praktiese handleiding en aflaaibare DVD vir grondslagskrywers en -digters) deur Ernie Mellet saamgestel.

Teken gerus in op die Skrywersbond se maandelikse nuusbrief, Moti-VR en ontvang Boemerang Direkte Opleiding (praktiese inligting) daarmee saam.

Boemerang Direkte Opleiding:

Dit bestaan uit twee aanhangsels:

  • 14 maande:

Opleiding en oefeninge.

  • 28 maande:

Ten minste vier kortverhale en/of gedigte met ’n taak by elkeen. Voltooi die take of bêre dit in jou  Inspirasierugsak (‘n lys waarop jy onderwerpe en take kan lys). Die stukke (stories, vertellings en gedigte) wat jy skryf, kan vir jouself gehou word, of vir Ernie gestuur word. Hy sal dan kommentaar daarop lewer en jou raad en wenke gee oor hoe om dit verder te verbeter.

Skryf-, dig- en kunskompetisie: Dis my aarde!

’n Skryf- en digkompetisie vir leerders en volwassenes en ‘n eendimensionele en driedimensionele kunskompetisie net vir leerders: Strek vanaf Maart tot Augustus 2020.

Tema: Die toestand van ons aarde en maniere hoe om dit te verbeter terwyl ons nog kan.

Volledige besonderhede word in die Maart-nuusbrief verstrek.

Praat jy Anderster Afrikaans?

Ernie hoor graag van jou. Stuur voorbeelde van stories, gedigte en vertellings in jou streektaal aan hom. Daar sal ’n bespreking/voorlesing hieroor by die 2020 Montagu Boekefees (einde Julie) gehou word.

Uit die ASB-skrywers se monde:

Johan Rothman: Die ASB se persoonlike betrokkenheid by my digwerk stel my op my gemak en daarom is die leerproses om my skrywes te verbeter, ‘n plesier. Hulle het  ‘n waardevolle platform geword vanwaar my werk groter hoogtes kan bereik. Die ASB het my meer selfvertroue gegee om my werke en myself beskikbaar te stel aan ander media.

Andries Truter: Om op jou oudag die pen op te neem en kinderstories te probeer skryf, is nie so maklik nie. Maar wat ‘n belewenis! By die eerste Skrywerswerkswinkel kon ek kennis maak met ervare en onervare skrywers vanuit alle bevolkingsgroepe en stande in die samelewing. Die voorreg om werk in te stuur vir redigering, positiewe kritiek, wenke en bystand, het my tuis laat voel.

Mandy Zeelie: Ek was oorstelp van vreugde toe ek my stories in ons eerste ASB-boek sien. Dis ‘n droom wat ek kon lees, betas en koester teen my bors.  Ek bly die ASB ewig dankbaar vir die pragtige, onselfsugtige werk wat die span agter die skerms doen.

Edna Taljaard: (Sy het op 77 begin skryf!) Baie dankie vir my welkome boeke oor die pos, het dit vandag ontvang. Dit is puik gedoen, veels geluk! En baie dankie dat julle my Boodskap uit die Graf ingesluit het, dit was ‘n verrassing, heel aangenaam!

Mariaan Taljaard: Huisgenoot het my kortverhaal aanvaar! En ek ly effens aan skok. Ek het gehoop dat een van my kinderstories in Tierlantonkels gaan verskyn, toe sien ek sommer al vier is aanvaar! Baie dankie vir die groot eer. Ajajai, dis ‘n lekker gevoel.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.