Sê jou sê in Afrikaans – dit is Jeugmaand [’n reeks]

Ontmoet vir Jessie George, ’n energieke jongeling wat haar kreatiewe gees inspan om ‘’n verskil te maak in die lewens van die kinders van Ravensmead. Haar droom om ’n “klein verskil” te maak is groot genoeg om ’n kind se lewe te verander!

#Jong stemme behaal sukses in en deur Afrikaans

Jessie George help kinders met wiskunde en lees!

Jessie George help kinders in minderbevoorregte areas met wiskunde en lees!

Dis na ‘n gesprek een Sondagmiddag met ‘n familielid oor die groot uitdagings wat onderwysers ervaar met kinders wat nie kan lees nie, dat Jessie besluit het dat sy iets daaromtrent gaan doen … al maak dit net ‘n klein verskil.

Hierdie droom om ‘n klein verskil te maak, het egter gegroei en vandag verander sy kinders se lewens.

 Jessie, haar ouer suster en hul niggie het saamgespan en hul eie niewinsgewende organisasie met die naam, “The missing middle”, te begin. Hierdie naam verwys na die leemte wat bestaan tussen die inhoud en begrip van inhoud wat tydens onderrig plaasvind. Na gesprekke met die onderwysers by Pindene Primêr in Ravensmead op die Kaapse Vlakte het hulle vasgestel dat dit die gebrek aan leesvaardighede is wat leer so erg benadeel en dan ook ander vakke, soos wiskunde, beïnvloed.

“The missing middle” se klasse het gegroei tot meer as 40 leerders en 13 vrywilligers wat elke Saterdagoggend met groot opgewondenheid vir ekstra klasse by die skool opdaag en dan natuurlik ook lekker eet na afloop daarvan. Jessie en haar span is baie dankbaar vir vriende, die gemeenskap en selfs ander meer bevoorregte skole wat voedselkoepons skenk.

Hulle droom is om eendag hul eie sentrum te kan hê sodat hulle hierdie projek se deure aan meer kinders en ook ander skole binne die omgewing, kan oopmaak.

“’n Klein verskil kan ‘n wêreldse verandering in ‘n kind se lewe maak,” vertel Jessie.

‘n Paar kitsfeite …

Naam, van & bynaam?

Jessie George en baie noem my Jess.

Wat beskou jy as jou grootste talent?

Om te skep/ My kreatiwiteit.

Een woord om jouself te beskryf?

Kreatief.

Koek of pizza?

Koek.

Boek of fliek?

Fliek.

Hip-hop of rap?

Hip-hop.

Facebook of Instagram?

Instagram.

Winter of somer?

Somer.