Sê jou sê in Afrikaans – dit is Jeugmaand [’n reeks]

Ontmoet vir Beata Bena-Green – die jong aktrise wat oorloop van ambisie en dryfkrag. Sy gebruik haar storie om jong kinders te bemagtig teen boelies en om hulle aan te moedig om groot te droom.

#Jong stemme behaal sukses in en deur Afrikaans

Junie is Jeugmaand en Afrikaans.com plaas die kollig op jongmense wat ’n verskil in hulle gemeenskappe maak. Tweede aan die beurt, is Beata Bena-Green. Beata met ‘n honneursgraad in Produksiebestuur en Vervaardiging agter haar naam wat sy by die Universiteit Stellenbosch behaal het, is nie net beeldskoon nie, maar ook ‘n slimkop! Tans is sy besig met haar meestersgraad in Produksiebestuur en daar is geen keer aan hierdie jong dame vol ambisie en passie vir die lewe nie.

Ons ken Beata as die karakter Kim in Arendsvlei – ’n telenovela wat tans op kykNET, kanaal 145 uitgesaai word. Beata se droom is om agter die kamera te wees, maar intussen het sy haar eerste rol in Arendsvlei en ontdek sy eers haar talente voor die kamera. Hierdie is net nog ‘n stap nader aan haar droom om ‘n suksesvolle vervaardiger te word.

Haar sukses …

“Om te kom waar jy wil wees, moet jy in jouself sien wat ander nie kan sien nie … en dit is hoe ek gekom het waar ek vandag is,” sê Beata met soveel selfvertroue en oortuiging. Haar Afrikaanswees is iets waarop sy baie trots is en ook iets waaraan sy werk sodat sy nie net suksesvol kan wees binne die gemak van haar taal nie, maar ook sodat sy altyd outentiek en haarself kan wees en nooit hoef te voel dat sy haarself moet verander nie.

René Arendse van Afrikaans.com het met Beata gesels:

“Om in hierdie bedryf te oorleef, moet jy baie dikvellig wees en regtig weet WIE jy is, want mense oordeel jou op grond van ‘n karakter en dink hulle weet wie jy is. Ek is jonk in die bedryf en die glitz en glam is maar net ‘n baie klein aspek van ons werk. Dis harde werk, maar ek geniet dit!” vertel Beata.

Beata se hart strek baie verder as om voor die kamera te bly. Sy het onlangs ‘n projek begin waar sy skole besoek om kinders deur middel van spel en stories te leer om op te staan teen boeliery en ander probleme waarmee kinders daagliks te doen kry. Hierdie jong dame se hart is op die regte plek. Beata se groot passie vir stories vertel leef sy ten volle uit. Sy erken dat haar eie lewe verander het weens ander mense se stories en nou gebruik sy haar stories om ook kinders se lewens te verryk.

’n Paar kitsfeite …

Volle naam, van en bynaam?

Beata Bena-Green en my bynaam is B.

Waar het jy grootgeword?

Ek het vir die eerste 11 jaar van my lewe in die Paarl grootgeword en het daarna Gordonsbaai toe getrek nadat my ouers geskei is.

Wat beskou jy as jou grootste talent?

Ek dink vervaardiging en skryf is my grootste talente.

Een woord om jouself te beskryf?

Doelgerig.

Koek of pizza?

Definitief pizza.

Boeke of fliek?

Albei.

Hip-hop of rap?

Rap.

Instagram of Facebook?

Instagram.

Winter of somer?

Winter.