fbpx
Afrikaans.com
  • Tuis
  • Afrikaans vandag
  • Leefstyl
  • Vermaak
  • Leer- en onderrighulp
  • Kontak
  • Search
  • Menu
  • Facebook
  • Youtube
  • Instagram
  • Twitter
Teken in
Kalender

Ons klink ‘n glasie op SARIE en 70 jaar van inspirasie!

6 Julie 1949. By SARIE ’n onthou-datum, elke jaar. Die dag toe Sarie Marais vir die eerste keer die strate en rakke getref en binne ure uitverkoop het.

Sewe dekades, dis ’n lang tyd, skryf SARIE-hoofredakteur, Michélle van Breda, in hierdie maand se spesiale verjaardaguitgawe. Dis nou ’n ander tyd, ’n ander millennium, ’n ander wêreld en sy wonder … wat sou die eerste klein groepie redaksielede gesê het as hulle SARIE vandag kon sien!

Dit is 70 jaar later

Hierdie trots Suid-Afrikaanse glansblad het gegroei van daardie eerste verkope van 35 000 eksemplare (uitverkoop in minder as een dag!)  tot ’n invloedryke, magtige handelsmerk wat vandag maandeliks tot 3 miljoen leserkonneksies maak met topgehalte- drukpublikasies, asook talle digitale en TV-platforms, lesersdae en werksessies landwyd. Die suksessyfers spreek dus vanself!

Reeds vanaf daardie eerste wenuitgawe is alle SA mediarekords verbeter. Die strategie? “Die tydskrif sou inspirerend wees, ’n leier en nie ’n volgeling nie. Dit was SARIE se strategie oor al die jare en volgens Michélle bly dit die wenresep!

“En wat ’n viering is dit nie,” sê Michélle. “Om sewentig jaar van uitdagings, strawwe mededinging van plaaslike en internasionale tydskrifte en ’n veranderende medialandskap te oorleef en steeds die voorste vrouetydskrif in die land te wees, vir álle Afrikaanssprekende vroue, vertel ’n storie van generasies van lojale lesers, ondersteunende adverteerders en aanhouerwen- redaksionele spanne. Niemand het ooit opgegee nie!”

SARIE se Afrikaans

Die hartsinpirasie agter SARIE was Afrikaans en is steeds die geliefde taal van haar lesers wat met die jare deur redaksielede verryk is deur nuwe woorde wat geskep is, gesuiwer, kreatief geplooi en benut is. Hul kreatiwiteit is beproef, en hulle is dikwels hoofbrekens besorg met hierdie jong taal wat nog so plooibaar en beïnvloedbaar was. Nuutskeppings soos vogroom, tiener, plaatkoekie en pasmaats het die toets van die tyd deurstaan en rol vandag natuurlik oor ons lippe in ons daaglikse gesprekke.

So het pasmaats vir mix and match ontstaan, kitspoeding vir instant pudding en lokprent vir trailer, ’n nuutskepping van Alba Bouwer. Daar is volgehou met ’n woord soos romp eerder as halfrok, en breipenne pleks van breinaalde.

Mooi woorde soos Audrey Blignault se inklimgordel vir corset, en bêreboek vir pull-out supplement het ongelukkig nie oorleef nie, maar vogroom vir moisturiser en Peter Veldsman se voedselverwerker het gebly. Ook plaatkoekie vir flapjack en randkoek vir flan.

Ongelukkig gebruik ons nie meer die woord koekstruif vir trifle nie. Want dit bly ’n raak beskrywing – soos Alba Bouwer verduidelik het, “die oumense het roereier soms struif genoem”. En dis presies hoe trifle lyk!

Lees ook

  • Ons klink ’n glasie op Afrikaans: Hoogtepunte van 2019
  • Organisasie van die maand: LitNET – “Die boekehuis met baie wonings.”
  • Koop Afrikaans vir Kersfees
  • Skryf in vir die AVBOB Poësiekompetisie
  • Organisasiefokus: Vind meer uit oor WOW
  • DAK Netwerk vereer prestasies binne die Afrikaanse gemeenskappe
  • ʼn Dag om vir altyd te onthou – Dana Snyman
  • Pendoring-toekennings 2019 skep ‘n omgewing waar inheemse tale gedy
  • Nuut op die rak: Kinderboeke wat verdraagsaamheid help ontwikkel
  • Organisasies vir Afrikaans: Die WAT – Afrikaans se lewende, groeiende woordeboek
  • Weg! se nuwe kaartspel op die rak. En dis Afrikaans!
  • Waarvoor wag jy! Kokerbenoemings is nou oop

Nuutskeppings of woorde wat deur SARIE gewild gemaak is:

Kitspoeding

Vogroom

Koekstruif

Tiener

Randkoek

Lokprent

Bêreboek

Plaatkoekie

Voedselverwerker

Pasmaats

Breipenne

Rafelvleis

Die voorblaaie

Ons weet Michélle is reg! Die eerste redaksie sou trots kon glimlag terwyl hulle deur elke glansuitgawe blaai. Dit is steeds innoverend, stylvol en die moderne Afrikaanse vrou is te sien op elke blad tussen die woorde, stories en foto’s wat ons verskeidenheid en kleurvolheid vier. Ja, Michélle, SARIE is ’n belofte nagekom!

Julie se voorbladgesig

Die Julie-uitgawe spog met twee voorblaaie, beide met Rolene Strauss (Mej. Wêreld en Mej. SA 2014) en is vanaf 1 Julie gelyktydig op die rak. Die oorspronklike 1949-voorblad van Sarie Marais was die inspirasie vir albei.

Eerste uitgawe

Die heel eerste SARIE van Woensdag 6 Julie 1949 is binne ’n dag uitverkoop – teen ’n skamele sikspens (vyf sent)! En koerantopskrifte het dit uitbasuin: Sarie Marais slaan alle SA pers-rekords. Die tydskrif was toe weekliks.

Vanwaar die naam? Reg geraai, SARIE se naam kom van die volksliedjie Sarie Marais. Naspers het destyds ’n wedstryd uitgeskryf en baie mense het dié naam voorgestel. Dit het presies gesê wie die teikenmark is – die Afrikaanse vrou. ’n Tydskrif vir, van en oor die Afrikaanse vrou, so Afrikaans, sy het selfs ’n Afrikaanse naam! Maar gou het almal net van Sarie gepraat – hoewel die mashoof Sarie Marais gebly het tot einde Januarie 1976.

SARIE se Julie 2019-verjaardaguitgawe

Dié twee voorblaaie sê saam wie die SARIE-leser is: sterk en stylvol; die skimbeeld hierdie keer die jong vrou van die 1949-voorblad wat SARIE se gesprek met derduisende Afrikaanssprekende vroue oor 70 jaar begin het.

’n Wasige afbeelding van die oorspronklike voorblad op die agtergrond verbind op ’n kreatiewe wyse die tydskrif se hede met die verlede.

Voorbladnooi

“Ons kon nie iemand meer ideaal as Rolene gekies het nie. Buiten dat sy self ’n SARIE-leser is (so ook haar ma en ouma!), is haar voorkoms klassiek. Sy het die voorblaaie – die een nostalgies, die ander meer modern – met styl en groot gemak interpreteer,” volgens Michélle. Die twee voorbladbloese is spesiaal deur voorste SA ontwerper Casper Bosman gemaak. Lesers kry ook ’n gratis geskenk saam met elke verjaardaguitgawe: ’n keuse van drie nekserpe, twee met SARIE-voorblaaie uit die 1950’s daarop en die derde kleurryk met die tydskrif se moderne S-logo.

 

Het jy geweet?

  • Prinses Diana (18), Anna-Mart van der Merwe en Margaret Gardiner (15 elk) was by verre op die meeste SARIE-voorblaaie.
  • Dalene Matthee het haar skrywersloopbaan in 1974 in SARIE afgeskop met die verhaal Mercurius se seun. Lees ’n stukkie van haar 1986-onderhoud met SARIE se Izak de Villiers in die Julie-uitgawe.
  • Toe redakteur Fred le Roux in 1968 bedank het, was SARIE die grootste vrouetydskrif in die land met verkope van 100 000+. Vandag is SARIE SA se top-glanstydskrif en maak maandeliks 3 miljoen* konneksies met lesers deur die tydskrif, talle handelsmerkuitbreidings soos SARIE KOS en SARIE WOON, ons webtuiste SARIE.com en die tydskrif se sosialemediaplatforms, TV-programme op kykNET en Via en lesersdae landwyd.
  • Nog bekende SARIE-name is skrywer Dot Serfontein, politikus Dene Smuts, Ruda Landman, Karen Roos, Joan Kruger, Anet Pienaar-Vosloo, Petrovna Metelerkamp en Ingrid Jones.
  • 2 vroue, 5 mans: Sewe dekades, sewe redakteurs, maar net twee vroue onder hulle. Lizette Rabe was tot 2001 redakteur; Michélle van Breda is die huidige redakteur. Die 5 mans was Fred le Roux, Hennie Cronjé, Fritz Joubert, Izak de Villiers en André (Bakkies) Rossouw.

 

Nog interessante SARIE-feite

SARIE se verjaardagvoorblaaie

8 Julie 1959, die uitgawe vir ons 10de verjaardag. Onbekendes was ook op die voorblad van ons 20ste en 30ste verjaardag.

Vanaf 1989 met SARIE se 40ste pryk bekendes op die voorblad:

40ste verjaarsdag: Margaret Gardiner (Mej. SA en Mej. Heelal 1978)

50ste verjaarsdag: Charlize Theron (Hollywood-aktrise en Oscarwenner)

60ste verjaarsdag: Rolanda Marais (SA topaktrise)

70ste verjaarsdag: Rolene Strauss (Mej. SA en Mej. Wêreld 2014)

Die Tafelbergfoto

Bloubergstrand en Tafelberg lui die eerste kleurvoorblad op 9 Februarie 1955 in. En om te vergoed vir die verhoogde koste verskyn die tydskrif van toe af net elke tweede week, totdat SARIE in 2002 ’n maandblad geword het soos glanstydskrifte wêreldwyd.

Sophia Loren

Die eerste SARIE (sonder Marais) as deel van die gewelnaam was dié van 11 Februarie 1976, met die grande dame van die silwerdoek op die voorblad: Sophia Loren. Die Marais is geleidelik verklein omdat dit te veel plek ingeneem en die voorblad ontsier het! Later was dit byna onopsigtelik klein.

Carike Keuzenkamp

SARIE se hoogste sirkulasiesyfer nog was 12 Desember 1990 met Carike Keuzenkamp op die voorblad. ’n Allemintige 258 263!

Bernice Dodd

Op SARIE se maandvoorblad was Bernice Dodd, ’n Pretoriase model wat internasionaal bekend was. Sewentien jaar later is Bernice, vandag ’n ma van tweelingseuns, weer die modemodel vir SARIE se Julie 2019-uitgawe.

Nataniël en SARIE

Nataniël sou “één jaar vir SARIE skryf” weens werkdruk. Maar vanjaar is die rubriek 18 jaar jonk. Só het hy homself as rubriekskrywer in sy eerste Kaalkop, Junie 2001, bekend gestel:

“Hallo. Ter inleiding die volgende: My naam is Nataniël en ek is van Kaalkop, ’n klein, spierwit planeetjie êrens tussen Pretoria, Los Angeles en my verbeelding . . .” Vandag sê lesers hy’s die tydskrif se Nommer Een!

SARIE Voobladgesig

SARIE Voorbladgesig is een van die tydskrif se suksesvolste wedstryde nóg. In nege jaar het meer as 60 000 vroue ingeskryf om op die gesogte Oktobervoorblad te wees. Sien vanjaar se 40 semi-finaliste in SARIE se Julie-uitgawe!

Albertus se hoed

Hoede was met SARIE se begin ’n wêreldtendens. Ons het bekende hoede-ontwerper Albertus Swanepoel gevra om een te skets vir die SARIE-leser vandag. Sy sjiek ontwerp is ’n kombinasie van ’n mansfedora, ’n wyerandhoed, ’n etniese band en ’n blom. “Jy dra jou hoed soos parfuum,” sê hy.

Sien SARIE.com vir die volle onderhoud.

Madiba en SARIE

“Ek kén SARIE,” het pres. Nelson Mandela met ’n vonkel in die oog gesê toe ek hom een aand in 1995 in Tuynhuys ontmoet. Madiba en SARIE het ’n pad geloop. In 1997 het hy ’n onderhoud aan vyf SARIE-redaksielede toegestaan. Op Nazeema White se vraag het hy geantwoord: “As ek Afrikaans met jou praat, gaan dit reguit na jou hart.”

Op Alida Vos se vraag: “As ek saans bed toe gaan, gaan ek vol krag en hoop.” En in ’n 2002-onderhoud met Suzette Truter: “Jy sal nooit jou ideale bereik as jy negatief optree nie.”

In 2003 is SARIE genooi na sy 85ste verjaardagviering in Johannesburg, saam met pres. Bill Clinton, Oprah, Richard Branson, Sandra Prinsloo, Joost van der Westhuizen, Breyton Paulse, Patricia de Lille, Mark Shuttleworth en vele meer.

Ons geskenk aan hom: Madiba en al sy magic op ons voorblad, geraam in goud. Die foto is geneem deur SARIE-fotograaf Phyllis Green.

Die Boerevrou

SARIE is vanjaar 70 jaar oud, maar min mense weet dat sy eintlik ’n voorloper gehad het, wat reeds 100 jaar gelede Afrikanervroue ingelig het oor modes, gesondheid, boeke en skoonheid . . . selfs sywurms, bye en hoenderboerdery.

Die Boerevrou (of “Die Vroutjie”, soos sy gou onder lesers bekend geraak het) is in Maart 1919 deur Mabel Malherbe gestig – sy wou vroue inlig, lei en blootstel aan invloede wat hul lewens kon verryk. Die Boerevrou was die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, en tot dit in Desember 1931 gestaak is, die énigste. Lees in SARIE se Julie-uitgawe oor die tydskrif en haar geskiedenis.

SARIE se Woord van die maand vir Julie is #allermooiste

Spesiaal vir SARIE, en elke SARIE-leser. In 1976 skryf Hennie Cronjé (SARIE se tweede redakteur) in sy afskeidsredakteursbrief, “Terugflitse is daar, mooies en mooistes. Maar van die #allermooistes is die hegte bande, heel besonderse bande tussen ons blad en ons lesers.” Allermooiste en SARIE – van die begin pasmaats*. Vir SARIE was mooi nog altyd meer as nét mooi; dis hartsmooi, allermooi. Deel die hutsmerk en woord hierdie maand op jou sosialemediaplatforms en vier saam met ons hierdie #allermooiste verjaardag!

 

Baie geluk SARIE!

Ons wens die span nog vele glansryke uitgawes en die #allermooiste toekoms!

Oor ons

  • Wie is ons?
  • Projekte
  • Ambassadeurs
  • Beskermhere/vroue
  • Kontak ons
  • Vir die media
  • Afrikaans Aktueel
  • English Page

Ons taal

  • Oorsprong
  • Taaldebat
  • Afrikaans op die web
  • Taalmonument
  • Taalpret
  • Talewet

Organisasies

  • Organisasies vir Afrikaans
  • Trusts & Fondse
  • Hoe kan ons help?

Stuur ’n poskaart

  • Liefde
  • My pa, my held
  • Wyshede van ma
  • Inspirasie
  • Feesgroete
Kopiereg 2019 | Bepalings en Voorwaardes
  • Facebook
  • Youtube
  • Instagram
  • Twitter
Scroll to top

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.