Prof Danie Goosen, dr Danie Langner en Johan Vorster.

FAK Prestige-toekennings 2018:

Johan Vorster

As lid van die uiters suksesvolle musiekgroep, Eden, was Johan Vorster die stil jongman met die mooi seunsgesig wat sedertdien ook die verhoog stil-stil verlaat het. Maar, wanneer Johan met sy HAT, notaboek en FAK Sangbundel agter die klavier en kitaar inskuif, komponeer en skryf hy die een treffer na die ander met musiek en lirieke wat nie net die Springbokrugbyspan nie, maar ’n hele nasie inspireer.

Johan is in 1980 in Heidelberg, Gauteng, gebore en getoë. Sy skoolloopbaan begin by die historiese Laerskool AG Visser en hy matrikuleer aan Hoër Volkskool Heidelberg.

Johan het van kleins af ’n voorliefde vir musiek en teater getoon. Op sesjarige ouderdom trakteer hy reeds sy ouers en familie met teaterproduksies wat hy aanmekaar sit uit materiaal wat beskikbaar was in die huis, en dit teen ’n skamele toegangsfooi van R2. Sy ma, Petro, het hom na elke Eisteddfod toe geneem waar hy kon deelneem aan sang en voordrag en op 12-jarige ouderdom word hy vir die Drakensberg Seunskoor gekeur.

Op hoërskool het hy nie net uitgeblink in die kunste nie, maar neem ook deel aan SA proewe in naloop.

Johan kon homself vir ure in sy kamer toesluit en musiek skryf op die 5-lyntjie rekenaarpapier wat sy pa van die apteek gebring het – selfs al kon hy op daardie stadium nog nie note lees nie!

Johan studeer na matriek BMus by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Hy begin sy musiekloopbaan as deel van die groep Eden waartydens sy paaie kruis met die bekroonde liedjieskrywer en vervaardiger, Ewald Coleske. Onder sy mentorskap leer Johan die fynere kuns van liedjieskryf en vervolgens skryf hy ook die meeste van die suksesvolle groep se nommer 1-treffers.

In 2005 sprei Johan sy loopbaanvlerke toe hy saam met Sean Else Mozi Records stig. Die eerste kunstenaar wat hulle kontrakteer, is Bok van Blerk en Johan skryf en vervaardig ook sy eerste album getiteld, De la Rey. Met meer as 200 000 albumverkope word dit op daardie stadium die topverkoper Afrikaanse album van alle tye. Na die sukses van “De la Rey” was dit duidelik dat Johan as liedjieskrywer nog diep spore in die Afrikaanse musiekmark sou trap.

Met sy liefde vir populêre musiek het sy komposisies nie die normale reëls gevolg nie en het hy as musiekpionier ander horisonne ontdek.

Johan word een van die kreatiewe baasbreine van die super-konsertproduksie “Afrikaans is Groot” en skryf vervolgens verskeie nommer 1-treffers om die handelsmerk bo alle twyfel te vestig in die Afrikaanse musiekmark.

Hy is ook die hoofskrywer van die lied “Ons vir jou Suid-Afrika” wat volgens Jake White se boek in die Bokke se toerbus voor elke Wêreldbekerwedstryd weergalm het. Die lied is ook saam met “De la Rey” opgeneem as tydlose treffers in die 2012 FAK-Sangbundel en pronk in die Afrikaanse liedjietuin.

Johan skryf saam met Sean Else en Deon Opperman die eerste Afrikaanse musiekblyspel oor die Anglo-Boereoorlog, Ons vir Jou, wat geskoei is op die lewe van Generaal Koos de la Rey.

Johan skryf en vervaardig verder ook die rolprente As jy Sing en Susters wat die beste loketverkope vir ’n Afrikaanse film in twee jaar haal.

In 2016 begin hy die maatskappy, Inhoud Huis Musiek, saam met sy vennoot en jarelange uitgewer, Jacomien de Villiers.

Saam met Jacomien skep hulle die handelsmerk “In Afrikaans” en loods die heel eerste konsertreeks op Hartenbos in 2017.

In 2018, 180 jaar na die Groot Trek, toonset Johan saam met Christoph “Appel” Kotzé die 1838-Gelofte in Afrikaans. Die lied is in September bekendgestel en was onmiddellik gewild.

Johan het hom as een van die voorste Afrikaanse liedjieskrywers onderskei met meer as 400 liedere wat hy gekomponeer het of ’n aandeel in gehad het, waarvan meer as 70 nommer 1-treffers is en sy produk se albumverkope meer as 2,5 miljoen gekombineerd is. Verskeie kunstenaars soos Jo Black, Dewald Wasserfall, Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld, Bobby van Jaarsveld, Leah en Corlea het al pryse en toekennings ontvang vir Johan se nommer 1-treffers.

In 2008 wen hy en sy vrou Rencha die Huisgenoot Tempo-toekenning vir Liedjieskrywer van die jaar vir die lied “Jy soen my nie meer nie”.

In 2013 ontvang Johan weer die liedjieskrywer van die jaar toekenning wat hy dan ook deel met Riana Nel.

Hy word in 2017 aangewys as die liedjieskrywer van die jaar by die kykNET Ghoema-musiektoekennings en in 2018 wen Jo Black 7 Ghoema-toekennings en ’n SAMA-toekenning vir die album en lied “Skepe”, wat deur Johan geskryf is.

Na al die jare is Johan steeds besig om vir sy familie op te tree. Hy en Rencha is al 10 jaar lank getroud en saam met hulle drie seuns Joshua (10), Raphael (8) en Daniël (18 maande) luister hulle nog gereeld na sy nuutste skeppings.

Dit is vir die FAK ’n voorreg om die Prestige-toekenning vir besondere kultuurprestasie aan Johan Vorster te oorhandig.