fbpx

’n Viering van inheemse tale

Pendoring-toekennings 2019

“Die Pendoring-toekennings is opgewonde om van vanjaar af met UNESCO en die South African National Commission for UNESCO saam te span as deel van die Internasionale Jaar vir Inheemse tale-veldtog – en as die hoeveelheid inskrywings vir 2019 enigsins ’n aanduiding is, is ons inheemse tale besig om groot opgang in die reklamewêreld te maak.” Eben Keun, Pendoring-organiseerder

Die 2019 Pendorings vier vanjaar weer die heel beste kreatiewe reklamewerk in ons inheemse tale. Uitsonderlike werk wat in ons tien inheemse nasionale tale geskep is, sal met goue en silwer Pendorings bekroon word, met die hoogtepunt van die aand die Prestigious Umpetha-toekenning. Wenners word tydens die gala-byeenkoms op 31 Oktober 2019 in die Universiteit van Johannesburg se Kunssentrum aangekondig.

Afrikaans.com is genomineer!

Een van Afrikaans.com se advertensies wat deel was van ons #jouafrikaanstel-veldtog is ’n Pendoring-finalis in die kategorie film- en aanlyn advertensies.  Klik hier om te sien watter een.

Trots Suid-Afrikaans!

Teen die agtergrond van plaaslike kookkuns en vermaak wat ’n trots Suid-Afrikaanse geurtjie aan die verrigtinge sal verleen, beloof vanjaar se toekenningsgeleentheid om ’n uitsonderlike aand te wees. Hulisani Ravele en Schalk Bezuidenhout is die aanbieders, en hulle gaan hulle ding doen op die maat van Afro-Balkan Bombshelter Beast.  Nog ’n hoogtepunt van die aand, is tannie Poppie van As, pas terug uit Italië, wat spesiaal vir al die gaste roosterkoeke op ’n oop vuur gaan maak.

“Kreatiwiteit en diversiteit is integraal gekoppel aan meertaligheid. Ons moet eenvoudig meer doen om veeltaligheid te bevorder en die ryk kulturele diversiteit van ons land te vier.” – Eben Keun, Pendoring-organiseerder

Die skep van ‘n omgewing waar inheemse tale kan gedy …

Keun sê ook dat dit ons almal se verantwoordelikheid is om ’n omgewing te skep waar ons inheemse tale en kultuur kan gedy. Deur inheemse tale kreatief aan te wend en op te hef, kan ’n monokultuur vermy word. Daar is vanjaar ’n rekordgetal inskrywings ontvang, met die isiZulu-inskrywings wat vir die eerste keer die voortou geneem het. Daar is ook vir die eerste keer inskrywings in XiTsonga en Tshivenda ontvang – net nog ’n bewys van die belangrike kreatiewe en kulturele ontwikkeling wat tans in die reklame- en kommunikasiewêreld plaasvind. Keun voeg by: “Wanneer plaaslik-geïnspireerde werk opgang maak, weet ons dat ons daarin slaag om ons landsgenote te inspireer om die grense te verskuif.”

By Pendoring praat ons Suid-Afrikaans!

Die Pendoring-toekennings is vanjaar 24 jaar oud – ’n unieke inisiatief wat sedert 2017 die tien inheemse nasionale tale saam vier en bevorder.

Pendoring is oorspronklik in 1995 gestig om die gebruik van Afrikaans in reklame te bevorder. In die laaste paar jaar het Pendoring ’n transformasie ondergaan sodat al ons inheemse tale gevier kan word. Derhalwe is die reëls in 2016 aangepas sodat alle tale op ’n gelyke voet kan meeding. In 2018 het hulle dit so ’n stappie verder geneem en ding Afrikaans nie meer afsonderlik om die pryse mee nie.

Pendoring is die enigste reklametoekenning in Suid-Afrika met aansienlike kontantpryse – nie net vir die algehele wenners nie, maar ook vir goue- en silwerwenners in elke kategorie. Die algehele wenner uit al die kategorieë ontvang ’n oorsese reis ter waarde van R100 000 as deel van die Prestigious Umpetha-toekenning. Die algehele studentewenner steek ’n volle R10 000 in die sak, terwyl goue Pendoring-wenners R6 000 ontvang. Silwer wenners ontvang elk R2 500.

Die hoogste moontlike beoordelingstandaarde word deurgaans gehandhaaf, en slegs die room van SA se reklame-industrie word as beoordelaars genooi.

“Die beste Pendoring-inskrywings word vanuit plaaslike, moedertaal-insigte gebore, wat dan konsepte word en uiteindelik, veldtogte. Vertalings is bloot nie goed genoeg nie.” – Khanyi Mpumlwana, beoordelaar en skeppende hoof by FCB Africa

Khanyi voeg by dat elke inskrywing vanjaar getuig van uitstekende vakmanskap en aangrypende storievertelling – gehaltewerk waaroor hy baie opgewonde is.

Klik hier vir ’n lys van die 2019-Pendoringfinaliste – weereens die room van die top-agentskappe en kommunikasiestudente van verskeie tersiêre instellings

Kaartjies vir die spoggeleentheid kan hier gekoop word.

Volg die Pendorings op sosiale media en maak kontak met die hutstekens #Pendoring2019 en #SpeakSouthAfrican

Hier is ‘n paar finaliste wat in Afrikaans meeding

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.