’n Webtuiste waar jou woorde vastrapplek kry

Van waar, Gehasi?

Die webtuiste, www.pendit.co.za het ontstaan nadat Nico Schamrel  – self ’n skrywer – plek gesoek het om sy stories bekend te stel. Nadat hy die kundigheid van Ronel Dunn en Bets Koen, albei gekwalifiseerde proeflesers en teksredigeerders, aan boord gekry het, het dinge begin gebeur en is die webtuiste nou amper soos wat Nico hom wil hê.

Die drie deel ’n liefde vir Afrikaans, lees en skryf en het besef dat daar soveel talentvolle skrywers in Suid-Afrika is wat net nie genoeg blootstelling kry nie. Die rede hiervoor is omdat baie skrywers nie bewus is van die talle platforms, hulpmiddels (soos gratis programme) of die regte woordeboeke op die internet nie.  “Ons wil graag met ons webblad van hulp wees en raad aanbied.”

Doel van die webtuiste

PENdit.za is geskep om talentvolle Afrikaanse skrywers in die kollig te plaas vir uitgewers en vir hulle die geleentheid te gee om hulle werk met ander te deel.  Die webtuiste bied ook aan skrywers die geleentheid om hul self gepubliseerde boeke te adverteer.

Daar word ook kompetisies en uitdagings op die blad geplaas. Van die beste werke word in ’n keurbundel geplaas (soos in die geval met Vlerke – ’n keurbundel met kortverhale oor engele) en word deur PENdit.za versprei.

Nico Schamrel

Vlerke – die eerste keurbundel wat verskyn het.

“Hierdie kortverhale is sielsverkwikkend terwyl die leser vasgevang word in intriges. Vertellings wissel van die goeddoen van engele wat om ons is, tot engele wat ongesiens die mens se pad kruis.”

Kontak gerus vir Nico as jy ’n eksemplaar van die bundel wil hê.

Hoe word ’n mens lid?

Daar is twee opsies: prima-lid of gewone lid – met verskeie voordele en kostes.

Gaan kyk gerus op hul tuisblad vir meer inligting oor PENdit.za, asook die driemanskap wat die penne laat praat.

Let wel: Die afdelings “Stories” en “Skrywersprofiel”  – laasgenoemde met ’n foto en agtergrondinligting van die skrywer, asook een van sy/haar beste skryfsels – is nog onder konstruksie.

As ’n mens net die stories op die webtuiste wil gaan lees, hoef jy nie ’n lid te wees nie.