fbpx

14 Oktober 2019

Organisasies vir Afrikaans: Die WAT

Afrikaans se lewende, groeiende woordeboek

Baie word gedoen om Afrikaans te bewaar én uit te bou. Dikwels beteken dit dat projekte oor verskeie dekades volgehou moet word, soos wat die geval is met werk aan verskeie Afrikaanse woordeboeke.

Een van die indrukwekkendste projekte is beslis die saamstel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, die WAT. Die WAT is nie slegs ‘n woordeboek vir sg. Standaardafrikaans nie. Dit sluit materiaal in uit al die variante van Afrikaans, soos Kaaps en Namakwalands. Dit is dus ‘n woordeboek waartoe elke gebruiker van Afrikaans kan bydra en wat deur hulle benut kan word.

Die WAT-personeel:
Voor: Dr. Frikkie Lombard (eindredakteur), dr. Willem Botha (hoofredakteur en uitvoerende direkteur), me. Liza Rademeyer, mnr. Gerhard van Wyk (senior mederedakteur).
Agter: Mev. Alet Cloete, me. Tanja Harteveld, mev. Rika Stofberg, mev. Martie Stofberg, mev. Cecile Brand, dr. Hanelle Fourie Blair, mev. Engela van der Westhuizen, me. Nancy Steyn.

Die Afrikaanse kroonjuweel van woordeboeke …

Dit is ’n reusetaak om so ’n woordeboek te maak. Dit verg jare lange geduld en toewyding. Dit vra vir noukeurigheid, vernuf en goeie oordeel in die deurwerk van die massa materiaal wat uiteindelik gesif en in die woordeboek neerslag moet vind. Dit is ’n diens aan die Afrikaanse taal en die gebruikers daarvan – ’n diens van onskatbare waarde – en hiervoor verdien drr. Willem Botha (hoofredakteur) en Frikkie Lombard (eindredakteur) en hulle span die hoogste lof. – Ingrid Winterbach (Beeld, 12 Augustus 2019)

Die woordeboekmakers van Webster in Amerika beskou die WAT-program as een van die beste hedendaagse woordeboekprogramme ter wêreld. Die WAT-span help ook met die opstel van woordeboeke vir ander Afrikatale

So ’n bietjie geskiedenis …

Die projek is op 4 Januarie 1926 in Keeromstraat in Kaapstad deur die eerste hoofredakteur, prof JJ Smith, en sy assistent, mnr Nicolaas van Blerk, begin. Die Nasionale Boekhandel en die Suid-Afrikaanse regering se oorspronklike plan was om binne drie jaar ʼn eentalige, verklarende woordeboek van ongeveer die omvang van die destydse Nederlandse Van Dale (’n eendelige werk) daar te stel. Maar drie jaar was natuurlik heeltemal te min tyd. Die Universiteit van Stellenbosch raak toe betrokke, en neem Nasionale Boekhandel se deel van die kontrak oor. Hulle stel ʼn nuwe, ewe onrealistiese teikendatum van vyf jaar om die woordeboek die lig te laat sien.

Maar dis ʼn reusetaak, en na twee dekades tree prof Smith af. In 1947 word hy as hoofredakteur opgevolg deur dr PC Schoonees. Daar word besluit om die idee van ʼn handwoordeboek te laat vaar, en eerder te mik na ʼn omvattende bron wat, soos die The Oxford English Dictionary vir Engels en die Woordenboek der Nederlandsche Taal vir Nederlands, die “volledige” Afrikaanse woordeskat moet opteken en verklaar. Dis egter duidelik dat ʼn volledige Afrikaanse woordeboek ʼn paar dekades sal duur om te voltooi.

Onder Schoonees se leiding verskyn die eerste deel van die WAT (van A tot C) in 1951. In 1955 verskyn die tweede deel (D–F), en in 1957 die derde deel (G).

Deel X, wat die letter M bevat, het in 1996 verskyn met dr DJ van Schalkwyk as hoofredakteur. Daarmee is die halfpadmerk bereik van sowel die alfabet as die WAT, wat by voltooiing uit twintig dele sal bestaan. Deel X het ook ʼn amptelike verskoning bevat van die beheerraad vir enige aanstoot wat onsensitiewe hantering van “beledigende en sensitiewe” woorde dalk in die verlede veroorsaak het.

Klik hier vir die WAT se kortgeskiedenistydlyn.

Waar trek die WAT nou?

Deel XV van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse taal) het  onlangs verskyn, ses jaar ná die vorige band in 2013. Nog een band tot die einde van S word beplan, en vanaf die letter T sal die WAT uitsluitlik aanlyn beskikbaar wees. Hierdie band strek van SKOOL tot SRI, met ongeveer 9 000 lemmas. Nog ’n pragtige, stewig gebinde uitgawe, leesbaar en gebruikersvriendelik.

Lees meer oor die WAT hier

Afrikaans.com-Laurika-Rauch

Die Borg ‘n Woord-projek

“Woorde is kosbaar. Borg of koop ‘n woord wat vir jou van besondere waarde is en help so om die toekoms van ons lieflike taal te verseker. Laat die woord jou lei!” – Laurika Rauch

Laurika is op Woensdag 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, as die nuwe beskermvrou van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ʼn Woord-projek aangewys.

Meer oor Borg ‘n Woord

Die doel van Borg ʼn Woord is om mense bewus te maak van die waarde van woorde en die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van die Afrikaanse taal. Dit laat mense dink oor wat hul gunstelingwoorde is en watter woorde net eenvoudig vir hulle mooi is.

Borg ʼn Woord is gebore uit die nood wat ontstaan het toe die staat die subsidie aan die woordeboek drasties ingekort het. Dit is een van die suksesvolle fondswerwingsinisiatiewe van die WAT wat in 2010 begin het met David Kramer as beskermheer.  Kramer is opgevolg deur Charlene Truter (Lackay), Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, Hemelbesem en Tracey Lange.

Teen slegs R100 per woord, borg jy jou gunstelingwoord of as jy moeilik deel, koop dan sommer jou woord teen R5 000 en die woord is net joune!

Jy kry:

  • ’n Sertifikaat met jou naam en woord.
  • Een deelnemer kan R25 000 wen in ’n prystrekking geborg deur Sanlam (hoe meer woorde jy borg, hoe groter jou wenkans).
  • Gratis toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop.

Hoe moet jy maak?

Stuur betalingsbewys saam met jou woord of woorde,
e-posadres en telefoonnommer na wat@sun.ac.za, of aan
WAT Trust, Posbus 245, Stellenbosch, 7599 of na
086 558 2739 (faks).

Bankbesonderhede: 

Rekeninghouer: WAT Trust
Bank: Standard Bank
Tjekrek.no.: 07 22 64 578
Takkode: 05 06 10

Skakel 021 8873113 as jy R20 000 eksklusief wil SKENK vir ‘n woord.

Prystrekking: 7 Maart 2019.

Lees verder …

Gaan kyk hier hoe om ’n woord te borg, of vir ’n lys van pryswenners en ’n lys van die R5 000-woorde en hul borge.
Lees hier oor Nataniël en Jan Braai se woorde asook die van ander bekendes.

Besoek Afrikaans.com se Taalpretblad en word woordryk.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.