Ons wens jou ’n 2019 propvol liefde, lig, lag en tyd vir alles wat regtig saakmaak.

Afrikaans word 22 ambassadeurs ryker!

Afrikaans.com se ambassadeurslys pronk vanjaar met 22 nuwe gesigte. Ons staan nou op 142 ambassadeurs wat almal wil help om ons pragtige taal lewendig te hou. Hierdie groep verskilmakers in die Afrikaanse leefwêreld tree op as verteenwoordigers, nie net van Afrikaans.com nie, maar ook van Afrikaans! Hul leef, droom en werk elke dag in Afrikaans en help ook om bewustheid te skep rakende die belangrikheid van moedertaalonderrig.

Verskeie nuwe ambassadeurs het hul ervaring van Afrikaans met trots met ons gedeel.

Vir aktrise Mila Guy , wat te sien is in die films Liewe Kersvader en Wonderlus, is Afrikaans die taal waarin sy tuis voel. Dis die taal waarin sy bid, huil, sing en droom.

Nes Mila, gebruik joernalis Mia Spies ook Afrikaans om stories te vertel. Sy sê sy gebruik Afrikaans om ander se lief en leed sensitief, beskrywend en met die nodige impak, oor te vertel.

Advokaat Carike Jacobs  bevind haar wel nie in die nuus- of vermaaklikheidsbedryf nie, maar benut steeds haar taal om haarself uit te druk en sin te maak van haar bestaan. Afrikaans is die taal waarin sy verlief raak, swets, klets en kerm. Vir haar is Afrikaans nie aansitterig nie, dit kies en keur nie en maak altyd plek vir almal.