Ons koester ons erfenis in Afrikaans

Elke jaar gedurende September word Erfenismaand gevier en ons deel graag enkele van die geleenthede wat plaasgevind het.

 Kunstekaap vier erfenis met “Karoo Suite” en “Katrina”

“Karoo Suite”, ’n musikale ode aan die Karoo, en die werk van Coenie de Villiers en die skrywer Deon Meyer, was vanaf 19 – 22 September 2018 deel van die erfenisvieringe by die Kunstekaap Teater.

Die tweede helfte van die stuk het bestaan uit die debuutopvoering van “Katrina: Die Dansende Taal”, deur Coenie de Villiers, gechoreografeer en uitgevoer deur Kirvan Fortuin en geselskap, met teks deur Ouma Katrina Esau. Hierdie dans-, woord- en musiekproduksie is gebaseer op die lewensverhaal van Katrina Esau, die laaste oorlewende persoon wat die San-taal N/UU vlot kan praat.

 Meer oor “Katrina”

“Ek het gedink om Ouma Katrina te kry om haar storie met haar eie stem in haar eie taal te vertel sal tot iets ongeloofliks lei.  Ek  wou probeer om musiek te skep wat bydra tot haar storie en dit was belangrik dat die musiek ook vir Kirvan as choreograaf sou help – hy moes Ouma se verhaal in ‘n dans herskep.” – Coenie de Villiers

 Haar naam is Ouma Katrina Esau.  Sy is 85 jaar oud en die laaste persoon op aarde wat die oeroue taal N/UU (uitgespreek met ‘n duidelike klik agter die tande) kan praat. Ouma Katrina woon in Upington op die rand van die Kalahariwoestyn en haar twee susters en broer praat ook steeds die taal. Vir Ouma is dit egter haar lewenspassie. Sy bedryf smiddae ‘n beskeie tuisskooltjie vir townshipkinders, waar hulle basiese N/UU kan leer.

Dit was vir De Villiers en Fortuin belangrik om ‘n eg Suid-Afrikaanse storie te vertel. “Uit die staanspoor het ek en Kirvan vir die regte storie gesoek. Ek was bewus van Ouma Katrina, maar eers toe ek weer na haar besonderse storie gekyk het, het die konsep by my posgevat,”, sê De Villiers.

Albei kunstenaars is uiters sensitief oor die San-gemeenskap en die respek wat Ouma se storie verdien. “Dit is die oorspronklike inwoners van ons land hierdie en hulle taal gaan al ons tale vooruit,” sê De Villiers. “Ons het wyd gekonsulteer met die San-raad en verduidelik dat ons beslis nie die San se geskiedenis in sy volle kompleksiteit kan belig nie … Wat ons wel kan doen, is om te poog om ‘n enkele individu se verhaal te vertel met al die mooiheid en trots wat dit verdien.”

Insgelyks het Kirvan Fortuin die Kalahari saam met De Villiers besoek om die antieke dansvorms van die gebied na te vors. “Ons het die gemeenskap van wyle Dawid Kruiper besoek, waar ons bekendgestel is aan die dans deur die afstammelinge van die legendariese leier.  Dit was baie belangrik om die spirituele grondslag van die dans te verstaan, asook die gewyde respek waarmee dit benader moes word.”

So word daar teruggegee

Alle materiaal wat Fortuin en De Villiers versamel en gedokumenteer het, sal gedeel word en teruggegee word aan die San-argief. Die intellektuele eiendom van Ouma Katrina se verhaal bly haar eie deur die San-raad en ‘n paar van die aanvanklike tasbare resultate van die produksie sluit ‘n klaskamer/biblioteek in vir die kinders van Ouma Katrina se skooltjie, danksy AVBOB. Die skool trek binnekort na ‘n nuwe perseel en een van die produksieborge, Laeveld Agrochem, sal ‘n volhoubare groentetuin vir die kinders skep en die skool ondersteun d.m.v ‘n voedsame voedingsplan.

Meer oor “Karoo Suite”

“Hierdie was ‘n produksie wat die hart geraak het.  ‘n Medefeesganger het selfs oorgeleun na my en vir ‘n snesie gevra. Talentvolle kunstenaars, ‘n professionele produksie, die Karoo.  ‘n Belewenis.” – Ilza Roggeband, uit resensie in Krit

“Karoo Suite” bestaan uit ‘n eerste gedeelte waarin Coenie en sy orkes (Jaconell Mouton: klawers en regisseur; David Klassen: perkussie; Mauritz Lotz: kitare) ‘n keur uit sy werk speel, onder meer van die komposisies op sy nuutste album EMOJI.  Dit sluit ook nuwe werke in wat nog nie vantevore gehoor is nie.  Die tweede en grootste deel van die program bestaan uit die “Karoo Suite”, ‘n musikale- en tekswerk deur Coenie en Deon wat vanjaar (2018) by die KKNK gedebuteer het.

Coenie en die orkes maak die musiek en Deon Meyer is self op die verhoog om die vertelwerk te doen; die aangrypende teks kom uit sy pen.  Die “Karoo Suite” bestaan uit vier bewegings waarin Deon verhalende aspekte van die Karoo oproep: die mense, die landskap, die lag en die pyn.  Deon is ‘n wêreldklas-fotograaf en die “Suite” word begelei deur sy asemrowende foto’s van die Karoo-landskap.  Die laaste beweging (die Karoo Simfonie) het ‘n siklus van foto’s wat afwissel tydens die uitvoer van die musiek en teks.

*Hierdie Kunstekaap-produksie in samewerking met CDV Market Ideation is deur Laeveld Agrochem geborg.

Poëtiese leesfees tussen graniet en olien

Taalmonument, LitNet en ATKV-Skryfskool fokus op 11 stedelike digters

“Ons wil graag minder bekende skrywers, musikante en digters die kans gee om hul werk aan ʼn groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van talle Afrikaanssprekende Afrikane.” – Michael Jonas, ATM-direkteur

In aanloop tot Erfenisdag op 24 September, het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) kreatiewe kragte saamgesnoer met die onafhanklike joernaal litnet.co.za asook die ATKV-Skryfskool om minder bekende digters se werk by die monument se Groen Galery uit te stal. Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op nege stedelike digters wie se werk in 2018 op LitNet se ‘nuwe gedigte’-blad verskyn het en op twee digters wat aan die ATKV-Skryfskool se 2018-werkswinkel by die Taalmonument deelgeneem het.

Die tema van vanjaar se Erfenismaand is ‘Die Jaar van Nelson Rolihlahla Mandela: Bevorder die Transformasie van Suid-Afrika se Erfenislandskap’. Daarom is dit gepas dat hierdie ikoniese monument ʼn rol speel om maatskaplike samehorigheid te bevorder deur besoekers kennis te laat maak met nuwe, uiteenlopende Afrikaanse stemme.

Die 11 digters wie se werk uitgestal word, is Carma Shaw, Deon Swanepoel, Ilze Lammers, Japhta Makwena, Kim Cloete, Marius Coetzee, Monn-lee Geduld, Ricardo Arendse, Sunelle Geyer, Susanne Pike en Willem de Vries wat tesame ʼn wye verskeidenheid belangstellings, geskiedenisse en skryfstyle verteenwoordig.