fbpx

Ons klink ’n glasie op Afrikaans: Hoogtepunte van 2019

Dit is weer daardie tyd van die jaar, wanneer ’n mens se ore behoorlik tuit van die krismisliedjies wat oor die luidsprekers in die supermarkte blêr en die bling van sneeubedekte (sneeu? in die somer?) Kersfeesbome bedruip met nog meer blink, ’n mens om elke hoek en draai laat sidder. Te midde van hierdie aanslag op die sintuie is dit tog lekker om aan die mooi en lekker van die afgelope jaar te dink. Afrikaans.com is geen uitsondering nie en ons lig graag ’n paar hoogtepunte van die Afrikaanse leefwêreld van 2019 uit … en ja, ons spog ook ’n bietjie.

Afrikaans.com-viering

Hier is die top 30, maar blaai gerus deur die res van die webtuiste – daar is talle voorbeelde van hoe ons ons taal vier en verken. Bewyse dat Afrikaans in die harte van sy praters vasgemessel is:

 #1 – Ons digitale advertensieveldtog #jouafrikaanstel het die internet aan die gons gehad en die video Buitelandse vakansie – “Afrikaans strek oor grense” – waarin die twee “dames” oorsee kuier, is benoem as ’n Pendoring-finalis in die kategorie Film- en aanlyn advertensies. Lees meer oor die Pendorings hier

#2 – Ons muurkunsprojek by skole in die Wes-Kaap is reeds drie jaar aan die gang en skep trots en eiewaarde in ons leerders en die gemeenskappe waarin hulle leef. 2019 spog met nege kleurvolle Afrikaanse mure! “Droomgroot in Afrikaans!”

#3Deel XV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) wat strek van SKOOL tot SRI, met ongeveer 9000 lemmas, verskyn.

#4 – Ons vier die 100 gewildste gedigte in Afrikaans. DJ Opperman sou vanjaar 105 jaar oud geword het en ses van sy gedigte is gekies onder die 100 gewildste gedigte. Hierdie uittreksel uit Opperman se gedig, Namakwaland, bevestig net weereens hoekom hy so gewild is:

“Op die groot saaidag van die heelal
het reeds ’n entjie duskant Wupperthal
oor die kaal Noordweste
’n sakkie van die Heer se beste
saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.”

#5 – Uiteindelik is daar lig op die horison en ons verwelkom die begrip en uitsprake van president Cyril Ramaphosa en ander leiers wat die taalbelange van alle Suid-Afrikaners wil beskerm deur in ons tale en veral moedertaalonderrig te belê.  “Daar is geen taal in die land wat verhewe is bo die ander nie. Alle tale is gelyk.” – President Cyril Ramaphosa 

#6 – Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se gratis woordeboek van moderne Afrikaans, Woordeboek van Eietydse Afrikaans (AWEA)  bring woorde op een plek bymekaar – nuwes; oues met nuwe betekenisse; nuwe samestellings; woorde wat voorheen misgekyk is. Formeel, informeel, woorde uit verskillende variëteite, eiegoed, leengoed en nog vele meer. Gaan kyk ook by VivA hoe om te maak om toegang tot hulle woordeboekportaal te verkry.

#7Wênkbrou is LAPA Uitgewers se nuwe druknaam vir “aweregse stories” en stories wat nie in ’n boks gedruk wil wees nie. Hul eerste boek was Reney Warrington se Smit Motors. Meer onlangse boeke wat verskyn het, is Seks, Leuens en die Internet deur Erla-Mari Diedericks, Klaskamer deur Vita du Preez, Halley se Komeet deur Hannes Barnard en ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid deur  André Krüger.

#8Die MOS-inisiatief (Moedertaal in Onafhanklike Skole) het ten doel om uitnemende en onafhanklike Afrikaanse skole op te rig en uit te bou. Gemeenskapsgerig, gehalteonderrig – bekostigbaar en volhoubaar – in Afrikaans. Hierdeur wil hulle verseker dat Afrikaans as onderrigtaal vanaf graad R tot 12, nie verlore gaan nie en dat kinders die geleentheid kry om hul volle potensiaal te bereik.

#9 – Moedertaalonderrig – jou sleutel tot sukses. Op Afrikaans.com se leerhulpbladsye vertel ons jou hoekom dit so belangrik is dat jou kind in sy/haar moedertaal onderrig moet word. Daar is ook gratis aflaaibare moedertaalplakkate te kry. Trouens, loer sommer op die ander leer- en onderrighulpbladsye ook. Ons handige opsomming van skakels na ou vraestelle, toetse en memoranda, opgedeel in verskillende kategorieë, maak hersiening nou aansienlik makliker. Klik hier

#10 – Junie is Jeugmaand en in ’n kort reeks het ons jou voorgestel aan vier jong stemme wat sukses in en deur Afrikaans behaal. Jong mense wat inspireer en nie skroom om hulle sê te sê en hulle ding te doen nie.

#11 – Augustus is Vrouemaand en in ’n kort videoreeks kon jy vier vroue ontmoet wat inspireer en groot hoogtes bereik … besondere vroue wat uitstaan en ’n verskil maak in en deur Afrikaans.

#12 – Afrikaans se eie MotiveringsDiva, René Arendse,  bied aanlyn motiveringskursusse – alles in Afrikaans! Haar motiveringsprogram is ’n ”ontdekkingsreis na ’n nuwe jy – gelukkiger, gesonder en genoeg”.

#13 – Afrikaans.com se eie blog deur kollega Nicolette van Schalkwyk sorg vir tong-in-die-kies leesstof en of jy dit nou wil erken of nie – ons almal kan op een of ander manier vereenselwig met van die “karakters” en situasies wat Nicolette so raak beskryf. So, as jy ’n bietjie lag in jou dag wil sit, gaan kyk hier en lees sommer die ander ook.  Die opskrifte sê reeds waarna jy kan uitsien: “Toe vra hy of ek al gedek is …”; “O, jy trou … dis oulik”; “Wie is jy agter die stuurwiel?”

#14Madiba se storie verskyn in Afrikaans. In die minireeks van ses episodes, Madiba – ’n uitsonderlike roeping, wat vroeër vanjaar op DStv-kanaal 144 uitgesaai is, deel Zelda la Grange, 19 jaar lank Madiba se persoonlike assistent, brokkies van sy lewe waarvan min mense weet.

#15Tuin van Digters 2019 – ’n fees van Breyten.  Tydens die agtste Tuin van Digters wat in September plaasgevind het, is Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee wat vanjaar hulle 80ste verjaarsdae vier, op gepaste wyse gehuldig. Gaan lees gerus wat alles vanjaar by die tuiste van die Afrikaanse digkuns plaasgevind het.

#16Koker-toekennings 2019 is op  29 November aangekondig. Die Kokers is die Afrikaanse Taalraad (ATR) se manier om erkenning te gee aan mense wat besondere bydraes tot Afrikaans gemaak het. Kategorieë sluit in: Bevordering van Afrikaans; Beskerming van Afrikaans en Bemagtiging van Afrikaanssprekendes.

#17 – 2019 se DAK-toekennings was weereens ’n viering van diegene wat ’n noemenswaardige verskil ter bevordering van Afrikaans binne hul gemeenskappe maak. Die DAK Netwerk gebruik drie pilare – identiteit, maatskaplike kwessies en ekonomiese bemagtiging – om ’n platform en stem aan die breë Afrikaanssprekende gemeenskap te gee. Leer meer oor DAK Netwerk hier

#18 – ’n Mens kan nie help om geraak te word deur die Amerikaner en sangeres Camille van Niekerk se liefde vir Afrikaans nie. Nie net het ’n Afrikaanse man haar hart gesteel nie – ook sy taal! Ons het met Camille gesels. Klik hier

#19– Kosie Beukes  is ’n jong man wat sommer diep in Suid-Afrikaanse musiekharte ingekruip het. Hierdie begaafde musikant en veral konsertinaspeler bekoor gehore met sy spel  – ’n talent wat hom die afgelope paar jaar volksbesit gemaak het. En nou is hy boonop deel van Universal Musiek se wenspan.  Klik hier om meer te lees.

#20 – Frank Opperman – of soos wat die meeste van ons hom sal onthou, Ouboet van Orney Snork Nie-faam, het onlangs ’n FAK-Prestige-toekenning ontvang. Beslis welverdiend! Maar, wat nog meer tot ons gespreek het, is die band wat Frank en van sy goeie musiekvriende gestig het – Die Ooms se Harrebaard beïndruk en ons beaam dit: Ons is net so tevrede met die lewe, Frank!  Klik hier en kyk veral na Die Ooms se video.

#21 –  Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is 110 jaar oud. Die oogmerke van die Akademie as multidissiplinêre organisasie is die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans, hoofsaaklik binne Suid-Afrika.

#22 – Ons video’s van die week vier Afrikaans op talle maniere. So was die een uit die Oekraïne en boonop in Afrikaans, ’n juweel. Mari-Alena Potgieter woon op die dorpie Reni waar haar ouers sendingwerk doen. Sy en haar broers praat vlot Russies, maar wat hierdie tiener so besonders maak, is dat sy haar moedertaal steeds daar in die verre land laat skitter. Klik hier

#23 Tannie Poppie van Laingsburg se roosterkoeke is legendaries – sodanig dat sy onlangs Italië toe is. Lees hier

#24 – Die Jakes Gerwel-gespreksreeks by vanjaar se Suidoosterfees het inspireer en die vraag gevra of Afrikaans inderdaad ’n taal vir almal is. Die antwoord? ’n Besliste ja – ons moet juis ons taalandersheid omarm en ons passie vir Afrikaans laat leef. Lees hier wat sê ons jeug.

#25 – Ons is gaande oor Vannie Kaap – ’n webtuiste en winkel wat Kaapse Afrikaans praat en die taal en kultuur op humoristiese wyse vier. Lees meer hier

#26 – Afrikaaps se video’s is nou reeds legendaries.  Die video, “ôsse taal is oek wie ôs is”, het die internet laat gons, want dit spreek tot die hart en of jy nou Kaaps, Kombuisafrikaans, Standaardafrikaans, of watter variëteit ook praat, op die ou end praat ons saam uit een mond . Klik hier

#27 – KykNET  het ’n wye gehoor en vanjaar is die kanaal reeds 20 jaar lank op die kassie.  Hier is Johan Vorster se geskenk aan kykNET – hul eie liedjie. Klik hier vir ’n agter-die-skerms kykie oor hoe die video gemaak is.

#28Netwerk24 vier hul 5de verjaarsdag. As intekenaar teen slegs R99, het jy toegang tot al jou gunsteling- tydskrifte en koerante.  Teken sommer vandag nog in. Klik hier

#29Groot Ontbyt is reeds vier jaar op die lug met meer as 1000 uitsendings. Jy kan elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 op kanaal 144 saamkuier. Lees hier

#30 – Ons klink ’n glasie op twee van ons voorste tydskrifte vandag. Sarie het op 6 Julie vanjaar 70 jaar oud geword! Hierdie trots Suid-Afrikaanse glansblad het vanaf sy eerste uitgawe in 1949 (toe nog Sarie Marais) gegroei tot ’n invloedryke handelsmerk. Lees meer hier

En dan Kuier – ’n tydskrif wat selfs in vandag se uitdagende mediawêreld van krag tot krag gaan en vanjaar reeds 10 jaar in die bedryf vier. Afrikaans.com het hulle so gelukgewens: klik hier

En dit, dames en here, is in ’n neutedop hoekom ons trots Afrikaans is en bly en hoekom jy ons webtuiste gereeld moet besoek. Afrikaans leef!

Koop dit, lees dit, praat dit, leef dit! #jouafrikaanstel

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.