O, jy trou… dis oulik

Ek noem dit die pre-wegraping. Jy skrik wakker een oggend, die kwyl loop by jou mondhoeke uit. Jy wens jy kon jou moegheid toeskryf aan ’n wilde aand uit, maar jy kan nie. Jou idee van ’n kuier wat “ruk”, is om op ’n Saterdagaand die hele kommentaarafdeling van Boer soek ’n Vrou seisoen 4 se Facebookblad te lees.

Nie dat jy gepla is nie. Jy, jou hekelpatrone en jou onnatuurlike hoeveelheid selluliet is goed vir mekaar op ’n Saterdagaand.

Maar vanoggend is iets anders. Daar is ’n stilte in die lug wat jou bangmaak.

Dan tref dit jou: Jy is 25 en alleen. Dis net jy, jou worshond en daai puberteit-puisie op jou voorkop.

Dis nie lank nie of jou beste vriendin val in dieselfde gat.

“Ek gaan trou!” blêr sy oor die foon. Die hele Suidelike halfrond weet nou.

(Jy lyk spasties) Ag, dis oulik … met wat?

Sy het drie maande gelede met die lewervlek by jou voorstoep opgedaag. Hy het sy pedofielmobiel in jou oprit parkeer en geseil tot by jou voordeur. Jy gaan ’n hoëdrukspuitpomp nodig hê om sy houding van die voorstoep af te was.

Hy herinner jou aan ’n munisipale kakkerlak – asof hy enige oomblik uit jou drein gaan klim en jou gaan betas in die stort. Hy is soos ’n oorskiet-frikkadel in ’n Tupperware-bakkie: benoud en effens af.

Die ding is, jy vertrou hom net nie. Hy skeer sy onderarmhare en jy vermoed hy bad kaal. Jy sal nie eers met die buurman se braaitang aan hom vat nie. En die ergste: hy is die tipe wat “ver” met ’n kappie op die “e” spel.

Jy vermoed die laaste keer wat ’n vrou aan hom gevat het was by geboorte toe sy ma sy doek geruil het. En nou gaan jou beste vriendin ’n duvet met hom moet deel. Hoe beestelik.

Twee dae later nooi sy jou om die hele verlowingsverhaal te kom hoor. Sy het teen hierdie tyd reeds driekwart van die troue beplan. Die blomme is gereël, die servette is gevou en sy het al vyf keer op haar skoonma geskree.

Jy begin verwoed soek na ’n geldige verskoning om nie die kuiertjie by te woon nie: jou hond verjaar, jou papegaai gaan deur ‘n emosionele tyd, die president lewer kommentaar oor die staatsrede.

Jou vriendin byt nie. Jy gaan hierdie gesprek nie kan misloop nie.

Sy vertel die storie in meer detail as waarvoor jy gereed is.

Haar “ridder op die wit perd” het blykbaar by haar kamervenster opgedaag en, soos dit enige held betaam, ’n Arno Jordaan-treffer op sy een knie gesing. Dit was net sowat vyftig oktawe duskant die regte noot. Daar gaan die seksdrang van die hele Oos-Rand en sowat 90 onskuldige stadsduiwe.

Sy druk haar vinger in jou gesig. Die rots aan haar ringvinger is groot genoeg om die Titanic te sink. Jy is geskok sy bly nog staande. Jy moet bieg, jy is akuut gespanne oor die troue. Hulle ken mekaar nog net vir drie maande. En die meeste daarvan het geen verbale kommunikasie ingesluit nie. Jy ken garage pies met ’n langer raklewe as hierdie verhouding.

Dan vra sy die groot vraag: “Sal jy my hoofstrooimeisie wees?”

Strooimeisie of vol-strooimeisie? Ek neig meer na die tweede een.

Sy het reeds vir elke strooimeisie ’n eenstukpakkie laat maak wat die oggend voor die troue gedra moet word. Dis ’n giggel-geel blombom, ’n petunia-ontploffing. Sy verseker jou dis ’n “one-size-fits-all”. Ek het nie “one-size-fits-all”-boude nie, Susan…

Die gewaad trek styf op baie gevaarlike plekke. So, dís hoe jy jou maagdelikheid gaan verloor? Hoe romanties.

Jou bobene gaan nou weer sewe maande swanger lyk. Die bostuk span wild om jou middel. Voor hierdie ekspedisie het jy geen borste gehad nie. Nou het jy drie. Dit klink soos ‘n seëning.

Dit is nie.

Terwyl jy daar staan, voor die spieël, met jou polonie-lyfie, jou kanarie-pakkie en jou beste vriendin, besef jy… die ergste kom nog: Oor ses maande hou jy troue!

Byt vas, liewe leser … ek vat jou saam …

Jy kan op die tweedelaaste Vrydag van elke maand uitsien na ‘n splinternuwe Afrikaans.com-blog.

Lees ook …