fbpx

Neem self die leisels en kry jou boek op die rak!

Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Dit bied soveel meer as die tradisionele nistydskrif: boeiende, interessante stories en artikels oor die Afrikaanse taal, kultuur en leefstyl, asook ‘n in-diepte kyk na die werk van die ATKV. Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Sluit aan by die ATKV en ontvang die tydskrif gratis, jy kan dit digitaal aflaai, aanlyn aankoop, of bestel by tel: 011 919 9112

Die Somer 2020-uitgawe is nou op die rak en is propvol uitdagende, interessante en leersame artikels met pragtige visuele elemente wat jou vir ure sal besig hou. Afrikaans.com plaas, met vergunning van Taalgenoot, graag een van dié interessante artikels en moedig jou aan om in te teken en die Taalgenoot saam met ons te geniet. Die artikel handel oor selfpublikasie. Afrikaans.com ontvang gereeld navrae en hierdie artikel is van groot waarde. Moenie dat daardie manuskrip op die rak lê en stof vergaar nie!

Selfpublikasie

Deur : Anne Marais

Selfpublisering het ʼn slegte naam, maar hoe gemaak as jy álles in daardie boek geploeg het, maar geen uitgewer wil byt nie? Met die regte leiding kan jy self die leisels neem

Jou eie, beste vriend

Baie mense droom van ’n skrywer wees, maar vir die meeste bly dit daarby. En selfs al kom jy so ver om klaar te skryf, is uitgewers se begrotings beperk en manuskripte word afgekeur. Dan is daar selfpublisering, maar dis ’n gebruik wat onder ’n beeld van swak skryfwerk en nog swakker gehalte ly.

Dr. Jopie Coetzee is ’n skrywer van Mosselbaai wat onlangs ’n Paasroman getiteld Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure deur Groep7 Drukkers uitgegee het. Hy vertel dit het hom sewe jaar geneem om die boek na te vors en te skryf. Hoewel Groep7 ’n opsie bied wat uitleg, tipografie en redigering insluit, was Jopie in beheer van die hele proses.

Hy sê die meeste Suid-Afrikaanse uitgewers publiseer nie werke in die genre van Christelike fiksie nie. “Die boodskap wat ek herhaaldelik op my manuskripvoorleggings ontvang het, was, gegewe die swak stand van die ekonomie, dat debuutskrywers ’n te groot finansiële risiko is – tensy jy ’n glanspersoon is – en dat dit goedkoper is om goeie verkopers in die buiteland óf in te voer óf na Afrikaans te vertaal.

“Ek het besluit om self te publiseer, want my navorsing was diepgaande; ek het rigtinggewende kritiek van ’n bekroonde skrywer, ’n bekroonde letterkundige en ’n kritiese leser ontvang; en die unieke aard van die roman is onbetwisbaar. Dit is immers die eerste Paasroman in Afrikaans sedert FA Venter se Man van Cirene 63 jaar gelede, en die aanbiedingstyl van die Paasroman is ook die eerste sedert CJ Langenhoven se Skaduwees oor Nasaret van 92 jaar gelede.”

Gegewe die negatiewe opvattings oor selfpublisering het Jopie sy huiswerk deeglik gedoen. “Die soeke na ’n selfuitgewer het ’n kombinasie van ’n internetsoektog en navrae by medeskrywers behels. Nadat ek ’n kortlys opgestel het, het ek na verskeie boekwinkels gegaan om na die kwaliteit van hul boeke te kyk. Ek het ook navraag gedoen by boekwinkelbestuurders oor hul ervaring met elke selfuitgewer.”

Van manuskrip tot winkelrak

Theresa Papenfus, uitgewer by Litera, sê die bedryf is nie eenvoudig nie en sy weet van geen flatervrye resep nie. “Elke soort boek bring sy eie eise mee. Die uitgee van enige boek verg egter minstens ’n betroubare oordeel oor die manuskrip self. ’n Mens moet genoeg vertroue in die teks hê om dit daarmee in die mark te waag. Daarvoor moet jy vertroud wees met die mark vir die bepaalde boek en die kosteberekeninge daarvoor doen.

“Elke uitgewer wat ek ken, het al met minstens ’n paar titels misgetas. Beroemde uitgewers het al topverkopers afgekeur. Dit gebeur egter meer dikwels dat selfs ’n goeie boek nie aan die verwagtinge voldoen nie en dat die boek vir die uitgewer ’n finansiële verlies word.”

Sy sê wanneer ’n manuskrip vir publikasie aanvaar is, begin die “ware” proses. “Alle manuskripte word geredigeer voordat dit in produksie gaan. Skrywers word dan dikwels gevra om veranderinge aan te bring. Dis partykeer nodig dat ’n manuskrip herskryf word en in sekere gevalle bied ’n uitgewer manuskripleiding. ’n Gesoute redakteur wat met ’n skrywer saamwerk, kan wondere verrig. ’n Goeie omslag is baie belangrik. Tipografie speel ook ’n rol, want die lettertipes en -groottes en die hoeveelheid spasie tussen reëls kan ’n boek leesbaar of ontoeganklik, waardig of afgeskeep laat lyk.

“Ná bladuitleg volg die intensiewe proefleesproses om setfoute uit te stryk. Daarna word die boek met drukspesifikasies aan die drukkers gelewer. Reklame en bemarking is ’n belangrike aspek. Daar moet resensies, boekbekendstellings en media-onderhoude wees. Die nuwe titel moet aan die aankopers van boekwinkels voorgelê en bestellings gewerf word.

“Die voorraad word van die drukkers ontvang en meestal in die pakhuise van verspreidingsmaatskappye geberg. Die verspreider ontvang die bestellings wat die uitgewery gewerf het, verpak die bestellings en lewer dit af by die boekwinkels en ander klante. Hopelik verkoop die boek goed genoeg dat die uitgewer binne ’n redelike tyd nie net die koste kan dek nie, maar ook ’n wins maak. Outeursvergoeding word gewoonlik halfjaarliks betaal.”

Wie dra die risiko?

Hierdie tradisionele hoofstroomproses is nie skrywers se enigste opsie nie. Dave Henderson van myebook.co.za sê daar is drie opsies. “Jy wil hê iemand anders moet die koste, druk, bemarking, verspreiding en administrasie hanteer. Dan is ’n hoofstroomuitgewer jou antwoord. Die tweede opsie is om self te publiseer. Jy is dan in beheer van die proses en dra al die koste. Die derde opsie is ’n kombinasie waarin jy die koste dra, maar kopiereg verbeur en slegs kleiner tantieme verdien.”

Theresa sê niemand is geesdriftiger oor ’n boek as die skrywer nie. As jy van dié soort blootstelling hou, kan niemand dus met méér entoesiasme oor die boek praat as juis jy nie.

“Om ’n boek uit te gee is egter ’n veeleisende en duur proses. Dit verg kundigheid, toewyding en ervaring. Die groot voordeel van ’n tradisionele uitgewery lê juis daarin dat die uitgewer vertroud is met die bedryf en eise en slaggate kan raaksien wat die skrywer dalk miskyk. Die uitgewer tree as ’n buffer tussen die skrywer en die mark op. Dikwels is die teleurstelling van ’n afkeurbrief ’n bedekte seën. Dis erg genoeg om ’n afkeurbrief of ’n vernietigende keurverslag te ontvang; dis veel erger as ’n resensent jou boek aan flarde ruk ten aanskoue van duisende lesers.”

Volgens Theresa kan bemarking nog ’n kopseer wees. “Groot aankopers is dikwels onwillig om boeke aan te koop wat deur die skrywer self gepubliseer is. Verspreiding is ook ’n probleem. Om ’n vrag eksemplare van jou boek te huisves, te verpak, bestellings te werf, die boeke betyds af te lewer en die betaling in te vorder, kan ’n veeleisende taak wees. Bowendien is dit duur. Die tradisionele uitgewer gee die boek op eie koste uit en dra die risiko. Die enigste risiko wat die skrywer het, is dat jy jou outeursvergoeding kan verbeur en jou selfvertroue kry ’n knou.

“Nogtans glo ek selfpublisering het ’n plek. Dié skrywers wat dit aangepak en daarmee geslaag het, is dapper en besonders. Ek weet van twee hoogs suksesvolle skrywers wat hul eie boeke uitgee en uitstekend vaar.”

Dr. Riana Barnard, voormalige uitgewer by Tafelberg, sê digitale transformasie keer die mediabedryf — en veral die boekbedryf — op sy kop. “Daar is beslis ’n plek vir selfpublisering. Hoofstroomuitgewers en boekhandelaars kan nie meer bekostig om in lesers se uiteenlopende smaakvoorkeur te voorsien nie; hoë kostestrukture dwing tradisionele uitgewers om op topverkopers te fokus. Selfpublisering maak dit moontlik om inhoud beskikbaar te stel wat ’n nis in die mark vul of ’n beperkte groep lesers bedien.”

Self uitgee se slaggate

Hy is baie tevrede, sê Jopie. “Aan die een kant is Groep7 vir my soos ’n mentor en medewerker tot my roman se sukses. Aan die ander kant het ek as skrywer gegroei in die produksie en bemarking van boeke. Hierdie volronde ervaring van die hele pyplyn van publikasie gaan my baie help met my volgende skryfprojek.”

Die liefdesverhaalskrywer Alta Cloete het haar boekie Beveg depressie en leef voluit uit blote nuuskierigheid self uitgegee. “Ek het gou belangstelling verloor en die boekie onttrek, want die bemarking en die geldsake is nie vir my nie .

Die grootste nadeel, sê sy, was haar gebrekkige kennis en ervaring. “Die grootste slaggat waarin selfpubliseerders trap, is hulle dink hulle kan die boek self versorg ten einde geld te bespaar. Vir ’n professionele produk moet ’n mens bereid wees om te betaal. Moenie dink as jy die manuskrip honderd keer deurgelees het, daar gaan geen foute insluip nie. Mens lees eenvoudig bo-oor jou eie foute omdat jy die teks so goed ken. ’n Professionele oog is noodsaaklik. Ongelukkig is ’n selfpubliseerder se begroting gewoonlik knap.”

Dít, sê Dave, is die grootste rede vir selfpublisering se slegte reputasie. “Baie skrywers probeer koste sny deur ’n boek self te redigeer. Dit lei tot ’n onafgeronde produk.”

Vir dié skrywers wat daarvoor kans sien, kan dit voordele inhou. Jopie sê hy behou kopie- en bemarkingsreg. “Ek het ook ’n hoë winsgrens, maar ’n lae ekonomie van skaal.” Dave voeg by die skrywer is deurgaans ten volle in beheer en die publikasie-spertyd is korter. Vanessa Wildon van Quickfox Publishing sê dis ook makliker om ’n boek te versprei as jy direkte toegang tot potensiële lesers het.

Riana sê selfpublisering is ’n spanpoging. “Navorsing toon as jy professionele hulp kry met jou omslagontwerp, die boek se redigering en proeflees, kan jy tot ’n derde meer verdien. Kyk na jou manuskrip vanuit die oogpunt van ’n hoofstroomuitgewer en maak seker dat jy genoeg geld het om ’n gehalteproduk uit te gee. ’n Goeie sake-en-bemarkingsplan is belangrik. Wees bewus van die regsaspekte en wees versigtig vir plagiaat en kopieregskending.

“Vra jouself af of jy sielkundig en emosioneel gerat is om moue op te rol en ’n sukses van die projek te maak.”

Nog wenke

Vanessa Wilson, skrywer van Publish Like a Pro:

  • Identifiseer jou teikenmark.
  • Jou omslag is belangrik, veral die agterflap. Maak seker daar is nie spel- of tikfoute nie.
  • Laat die formattering en uitleg professioneel doen. Dit verseker dat die drukproses glad verloop en dat die boek maklik omgeskakel kan word in ’n e-boek.
  • Hoewel die meeste mense gedrukte boeke verkies, help e-boeke jou om die globale mark te bereik en hulle is dadelik beskikbaar, dus word afleweringskoste uitgeskakel.
  • Neem verantwoordelikheid vir die bemarking en verspreiding deur te netwerk en te blog. Stel eksemplare beskikbaar vir resensies, skryf artikels, gee praatjies en doen boektoere. Maak ook kontak met invloedryke mense in die veld waarin jou boek geskryf is sodat hulle die geloofwaardigheid daarvan kan bevestig deur daarna te verwys. Só kan jou verkope ’n hupstoot kry.
  • Sorg dat jy die hele proses goed koördineer.

Dave Henderson van myebook.co.za:

  • As koste ’n probleem is, oorweeg ’n e-boekformaat op Amazon en selfs om advertensieruimte in jou boek af te staan. Amazon publiseer ook Afrikaanse titels en betaal enige verdienste via Payoneer in ’n internasionale bankrekening in.

Nuttige skakels:

www.quickfox.co.za

www.myebook.co.za

https://www.facebook.com/jopie.coetzee.1

Bestel Vanessa Wilson se boek Publish like a Pro by www.publisher.co.za.

Volg Taalgenoot op Facebook

Lees verder:

Hy sit die Taalgenot in Taalgenoot. Klik hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.