Nathan Trantraal oor sy vertaling van Lang Pad Onnetoe (video)

Nathan Trantraal se aangrypende vertaling van Jason Reynolds se vuishou-in-die-maag-jeugroman oor die stedelike straatkultuur van geweld, dwelms, bendes en wraak sal ‘jong’ én ‘ou’ volwassenes – eintlik enigiemand wat kraakvars letterkunde kan waardeer – verbyster …” – Marita van der Vyver

Lang pad onnetoe deur Jason Reynolds, vertaal deur Nathan Trantraal. Uitgewer: Lapa. Prys: R180.

Hierdie boek het al baie bekronings gekry:

* ’n Newbery-ereboek
* ’n Coretta Scott King-ereboek
* ’n Printz-ereboek
* ’n Los Angeles Times Book Prize-wenner vir jeugliteratuur
* Op die langlys vir die National Book Award vir jeugliteratuur
* Wenner van die Walter Dean Myers-toekenning
* ’n Edgar Award-wenner vir beste jeugliteratuur
* Parents’ Choice Gold Award-wenner
* ’n Entertainment Weekly Best YA Book of 2017
* ’n Vulture Best YA Book of 2017
* ’n Buzzfeed Best YA Book of 2017

Die skrywer, Jason Reynolds  (Foto verskaf)

Jason Reynolds is tans een van die bekendste en mees bekroonde jeugboekskrywers ter wêreld, en is die skrywer van die bekroonde boek, When I Was the Greatest, waarvoor hy die Coretta Scott King/John Steptoe-toekenning vir Nuwe Talent ontvang het. Sy boeke Boy in the Black Suit en All American Boys is ook met Coretta Scott King-eretoekennings bekroon. As Brave As You, sy fantastiese debuut vir intermediêre lesers, was ’n Time Book of the Year en wenner van die Kirkus Award. Ghost, die eerste boek in sy Track-reeks vir intermediêre lesers, was ’n National Book Award-finalis. Hy woon in Brooklyn, New York, en sê baie van sy werk is daarop gemik om seuns aan te moedig om meer te lees.

Die vertaler, Nathan Trantraal (Foto: Craig Swartbooi, Blackboy Photography)

Nathan Trantraal is in 1983 in Kaapstad gebore. Hy is tans een van die opwindendste jong stemme op die Afrikaanse literêre toneel. Sy debuut-digbundel, Chokers en survivors (2015), is met die Ingrid Jonkerprys en ’n ATKV-Woordveertjie vir poësie bekroon. In 2017 het sy tweede digbundel, Alles het niet kom wôd, verskyn, en in 2018 is ’n bundel met sy weeklikse rubrieke vir die Sondagkoerant Rapport gepubliseer as Wit issie ’n colour nie. Hy werk tans aan sy meestersgraad aan die Universiteit van Rhodes. In 2017 het Nathan Trantraal die jongste ontvanger van die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs geword.

Nathan lees self voor uit Die lang pad onnetoe

Nathan het vir Afrikaans.com sy antwoorde neergeskryf

  • Wat is die konteks van die stukkie wat jy voorlees?

‘Die Hatsee’ gan oo Will wat sy broe Shawn veloorit in ‘n skiet vooval. En die vemisting wat hy voel. En oek hoe hy sy trauma verwerk dee te focus op iets annes, in die geval die gat in sy tand.

  • Waarom is dit nodig om boeke te vertaal/skryf in jou variant van Afrikaans?

Dit is belangrik om te demonstrate hoe dynamic en versatile die taal is. Dat dit byte ‘n Kaapse context kan bestaan. Daa is baie ooreenkomste tussen die wêreld in Long Way Down en die Kaapse vlakte. Maa ek is certain die taal kan binne ienagge context wêk.

  • Wat was jou proses gedurende die vertaling … hoe het jy die ritme gevind?

Ek het iet soes ses maande gehad om die boek te vetaal, maa ek was soe biesag met anne goed dat ek nie daaby kan ytgekom et ie. Met soe drie wieke oo ommit klaa te maak het ekkie tyd gehad om te veel te dink daaoo nie. En toe sit ek maa net en vertaal vi drie dae straight, met omtrent drie ure se slaap tussenin. En die heeltyd hoep ek dat ek nie yt solutions run vi die problems wat vertaling create vi die vertaler ie. As ek veskriklik moeg is, dan volg ek maa net my instincts, en los die dink wêk. Dit is min of meer hoe ek die ritme gekry et.

  • Wat is besonders van hierdie spesifieke boek?

Die engelse weergawe Long Way Down is ‘n besonderse boek in sy eie reg. Dit is ‘n boek vir tieners wat nie tieners patronize nie. Die boek gan oo gun violence in America, en dit is die soot topics wat mense gewoonlik dink nie vi tieners is nie. Maa teenagers is presies die mense wie die meeste confronted wôd met die harhest aspects vannie society wat hulle in bly. Innie Syd-Afrikaanse context dink ek, en ek mag vekeed wies, maa dit is die eeste published vertaling van ienagge boek in Kaapse Afrikaans soevê ek wiet.

  • Was dit vir jou ‘n lekker proses?

Nuu, definitely nie. Dit was lekke om te lies toe dit ees klaa was. Tewyl jy op ‘n vertaling wêk moet jy eintlik yt jou kop sit wie die skrywer is of wat die waarde is van wat jy doen ens. Dit wôd vi my maa net nogge job, wat my utmost concentration need. En daa is niks enjoyable daa an nie. Rewarding ja, maa nie lekke nie.

  • Wat dink jy is die waarde van moedertaalonderrig?

Dit isse complex vraag, maa ek suppose at the heart of it isssit vi my om mense se taal waa in hulle hul bestaan liewe te destigmatize. En ek voel oek dat kinnes oppie Kaapse Vlakte unfairly expected wôd om goed te vaar inne taal wat voogeskryf wôd as hul hystaal wanne die taal in realitiet heeltemaal vreemd is vi hulle.

Lees Marita van der Vyver se resensie

‘Briljant” is ’n woord wat ’n resensent so spaarsaam soos wierook behoort te gebruik, anders hang die lofwolke naderhand so swaar in die lug dat ’n potensiële leser bedwelm kan raak. Maar soms, net soms, kry jy te doen met ’n projek waar ander woorde tekort skiet. Vir Lang pad onnetoe kan ’n mens minstens drie wierookstokkies aansteek. Die eerste is vir Jason Reynolds se oorspronklike Long Way Down (2017), ’n briljante vuishou-in-die-maag van ’n boek oor die stedelike straatkultuur van geweld en dwelms en bendes en wraak. Dié jeugroman in vrye versvorm is reeds bekroon met ’n lys van pryse wat selfs langer is as die jong skrywer se indrukwekkende dread­locks. Die tweede is vir Miemie du Plessis van Lapa-uitgewers wat die briljante idee gekry het om die boek in Kaapse Afrikaans te laat vertaal, want op die Kaapse Vlakte en ander dele van ons wye en droewe land moet vele jong mense daagliks probeer oorleef in dieselfde soort gewelddadige straatkultuur as in die verarmde woonbuurte van Amerikaanse stede. Die derde briljant word toegeken aan die keuse van die vertaler en aan die aangrypende vertaling. Dit is moeilik om aan enigiemand anders te dink wat hierdie skokkende, liriese verhaal so presies rég sou kon laat klink in Afrikaans soos die digter en skrywer Nathan Trantraal.

Dit vertel die storie van die 15-jarige Will wie se ouer broer Shawn pas op straat doodgeskiet is, net soos hul pa ook jare gelede doodgeskiet is, en hul pa se broer vóór hul pa, almal slagoffers van ’n skynbaar onbreekbare ketting van geweld. Will, wat nog nooit ’n vuurwapen hanteer het nie, vind Shawn se weggesteekte rewolwer en klim in die hysbak op die agtste verdieping van die verwaarloosde woonstelblok waar hy nou alleen saam met sy ma agterbly, want al wat vir hom oorbly, is om sy broer se moordenaar te gaan vermoor. Hy kan nie anders nie, hy moet Die Rules van die straat volg. Daar is immers drie reëls wanneer iemand in jou familie vermoor word: Moenie hyl nie. Moenie piemp nie. Neem wraak.

Want as die bloed

in jou binneste innie binneste

van iemand annes is,

wil jyritie

sien oppie byteste

van hulle nie.

Will het Die Rules by sy broer geleer, nes hul pa dit by sý broer geleer het, want Die Rules

issie bedoel om gebriek te wôtie.

Hulle is bedoel vi dié wat gebriek wôd

om te volg.

Of dit is wat Will dink wanneer hy in die hysbak klim met die vuurwapen agter by sy broek ingedruk. Daar is baie byname vir die stuk koue staal wat jy nodig het om die derde reël te volg – en Trantraal wys sy eie staal as woordkunstenaar, as vertaler wat al die draaie van Afrikaanse straattaal ken, wanneer hy hulle een vir een opnoem: “ ’n Loodt. ’n Pyp. ’n Hammie. ’n Yste. ’n Klok. ’n Neena. ’n Staal. ’n Millie. ’n Soviet. ’n Pomp.”  Lees Marita se volledige resensie in Rapport. Klik hier.

Nathan Trantraal is ook ‘n ambassadeur vir Afrikaans. Lees sy profiel hier