fbpx

4 November 2019

Dana Snyman

 ʼn Dag om vir altyd te onthou

Hy het steeds nie die woorde om die einde van Saterdag se wedstryd daar in Clarke’s Inn in Rondomskrik in die Karoo mooi vas te vat nie, skryf Dana Snyman.

Foto: Dana Snyman

Kort voor die afskop piep my selfoon. Dis ’n WhatsApp-boodskap van ’n vriend wat beweer Siener van Rensburg het glo in 1902 ’n visioen gehad dat die Bokke die Engelse gaan klop en Die Beker wen. Vandag. In 2019. “En in die Ooste sal jy op grasgroen weivelde seëvierend ’n oorwinningslied sing,” het die oubaas glo gesê. “En lewende water drink uit ’n Goue Graal.” Ek wil eers lag. Dis beslis fopnuus, geskryf deur iemand met ’n goeie humorsin. Maar iets in my wil glo dis waar. Oom Siener het immers die Anglo-Boereoorlog beleef. Soos vir soveel ander, duisende, miljoene, gaan dit vandag vir my oor meer as rugby. Dis Boer teen Brit. Dit gaan oor ou pyn. Dit gaan ook oor hoop vir hierdie stukkende land van ons. En hier staan ek in The Green Prince Gin Bar op Prins Albert in die Karoo en die kroegman het pas vir my gevra: “Pienk tonic, meneer? Of gewone tonic?”

Ek is op die dorp vir die jaarlikse Leesfees, maar genadiglik is die letterkunde nie bestand teen die geleefde werklikheid nie. Nou gaan ons eers rugby kyk. Hier in The Green Prince gaan dit soos dit gaan in ’n plek waar die tonic pienk en die bottel Johnnie Black op die rak is. Stemmig. Maar oral sien jy die Boktruie. In die vertrek langsaan is ook ’n grootskerm-TV. Daar is darem nog vir my en my vriendin elkeen ’n stoel. Die spelers stap op die veld. Dit is asof niemand rondom ons te hard wil praat nie, baie soos voor ’n kerkdiens begin. Die Engelse sing hul volkslied. En toe . . . Dit gebeur net: Jou bene staan met jou lyf op en jy begin sing: “Nkosi sikelel . . .” Al mompel jy hier in die begin steeds oor party van die woorde. En om jou doen almal dieselfde. En terwyl jy sing, weet jy jy is nou deel van iets groter: Op hoeveel ander plekke in die land, in kroeë en in huise, op Springbok en Pongola, Soekmekaar en in PE is nou mense met presies dieselfde wense as jy. Toe skop Pollard daardie eerste strafskop mis en jy wonder of dit die regte ding was om vir pienk tonic by jou gin te vra. Maar nie lank daarna nie, met die Bokke knaend op die aanval, skop Pollard oor en jy dink: As dit die Boereoorlog was, is dit nou soos die Beleg van Ladysmith. Rustyd, met die telling, wonder ek of almal voel soos ek nou voel. Ons klim in die bakkie en ry in die N1 se rigting na die dorp se township toe. Al het 1995 se Wêreldbeker reeds bewys dit is nie so nie, wil iets in my, ’n wit Afrikaner, steeds nie glo rugby laat swart en bruin mense ook saam hoop vir iets beters in die land nie. “North End,” beduie die bordjie. Die straat skommel tussen lae huisies in. Min mense op die sypaadjies. Ek hou by ’n tante stil. Weet sy of die mense hier rond na die rugby kyk? “Hulle kyk by Piet Klak se tavern, meneer.” Sy beduie in die rigting van nog sulke lae huisies teen die heuwel. “Daar in Rondomskrik.” “Rondomskrik?” vra ek. “Is dít die plek se naam?” “Dis wat ons hom noem.” Rondomskrik? Kan dit nie ook ’n ander naam vir hierdie land wees nie? Ons kry die tavern redelik maklik: ’n Sementsteengeboutjie met ’n plat dak, pienk geverf: Clarke’s Inn. Hulle sit die plek vol: In die vensterbanke, op leë bierkiste en stoele rondom die pool-tafel gepak. Oral sien jy die Boktruie. In die hoek is ’n kleinskerm-TV op ’n houtrakkie. Daar is probleme met die TV se klank. Jy kan byna niks hoor nie. Dit klink of Joel Stransky en die ander ou wat uitsaai begin hakkel het. Dit blaas en suis. Die plek behoort eintlik aan Isadore Clarke, Piet se seun. “Wag, wag,” sê hy en draf na sy huisie langsaan. Hier kan jy net tussen twee drankies kies: ’n Black Label-quart, of ’n, wel . . . Black Label-quart. Isadore kom in met twee van sy kombuisstoele vir ons. Ons gaan sit. Die wedstryd is weer aan die gang. Steeds wil dit nie ’n rugbywedstryd wees nie. Dis iets emosioneel, ’n ervaring tussen mense – mense anders as jy, wat dieselfde drome het as jy: werk, ’n goeie regering, rolmodelle

Intussen raak die TV se klank al hoe swakker.

“Klank, oompie Piet!” skreeu iemand. “Klank!” Isadore gaan peuter aan die TV . . . en dan is die klank heeltemal weg. Die laaste 20 plus minute kyk ons sonder klank en dis asof dit presies só moet. Stemme wat ons deur die wedstryd dra, die stemme rondom ons: “Hou Bokke! Hou! Hou, Bokke hou!” Later ook my eie en my vriendin se stemme: “Hou, Bokke hou!” Iewers kry ons ’n strafskop teen ons. “Jou p**s!” gil ’n maer outjie van ’n bierkrat af in die skeidsregter se rigting. Dis vreemd: Dit het nou vir my weinig met ’n stryd tussen Boer en Brit te doen. Dit gaan nou oor ons. Ons almal dra swaar aan ou pyn. Ons hier in Clarke’s Inn en in The Green Prince Gin Bar en in die Fanie Jacobs-ouetehuis op Laingsburg en in die Polokwane-staatshospitaal en oral waar nou rugby gekyk word. Almal van ons in hierdie land ook bekend as Rondomskrik. Op die TV-skerm, kort voor die eindfluitjie blaas, wys hulle vir Rassie Erasmus met die mikrofoon-ding oor sy kop. Opeens lyk hy vir my nes ’n vlieënier – ’n vlieënier agter die stuurstange van ’n vliegtuig en ons is in daardie vliegtuig en daardie vliegtuig is hierdie land: op pad na iets meer en helder en hoopvol. Natuurlik sal al die gieriges en korruptes en gewelddadiges en bekromptes en banges vir iets meer oop en genadig tussen ons môre steeds met ons wees, maar miskien het ons in die land wat dit nié wil wees nie, vandag ’n bietjie nader aan mekaar gekom. Ek het steeds nie die woorde om die einde van die wedstryd daar in Clarke’s Inn in Rondomskrik mooi vas te vat nie. Ek onthou lywe rondom my, lywe wat my vasdruk, lywe anders as myne en ek wat die hele tyd vir myself sê: “Dít moet ek nooit vergeet nie.”

Hierdie rubriek het op Sondag 3 November in Rapport verskyn. Teken in op Netwerk24 en kry hier al jou gunstelingtydskrifte en –koerante

Dana Snyman is ‘n ambassadeur vir Afrikaans.

Lees ook Dana se ‘Credo vir Afrikaans’

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.