Menseregtedag – Jou taal is jou reg

“Dis tyd dat ons ideologie en wanpersepsies uit die weg ruim en meer met mekaar moet praat oor praktiese wyses hoe ons te werk kan gaan om die beste uitkomste (wat betref taalregte) te verseker. Ons moet ook seker maak dat ons grondwetlike regte in terme van onder andere onderwys en tale, nagekom word”. – Japie Gouws tydens ’n onderhoud met LitNET oor taalregte.

Menseregtedag – die ideale tyd om ook oor taalregte te besin

Daar het onlangs ‘n konseptaalregtedeklarasie tot stand gekom.

Suid-Afrika het ’n unieke taalsituasie en die voorstelle wat hierin opgeneem word, bied oplossings binne die Suid-Afrikaanse konteks. Ander lande se oplossings kan nie plaaslik net so toegepas word nie en die resep vir sukses is wedersydse begrip en respek.

Die drie belangrikste temas:

  • Die bou van ’n verenigde Suid-Afrikaanse nasie wat ten spyte van ons diversiteit ’n eenheid is.
  • Diversiteit moet nie net geduld word nie, maar erken en gevier word.
  • Ongelykheid wat afwentel tot op skoolvlak moet hanteer word. Die krag van moedertaalonderrig kan nie oorskat word nie. Die gehalte van onderwys en die kundigheid van leerders en studente kan net verbeter indien ons moedertaalonderrig uitgebou word.

Lees die deklarasie hier.

Clinton Vivian du Plessis is ‘n Afrikaanse digter en skrywer wat in 1963 op Cookhouse in die Karoo gebore is. Hy is in 2015 vereer met die  Cordis-Trust se Orde van die Beiteltjie wat aan hom toegeken is vir sy deurlopende ywer in die bevordering van areas van die Afrikaanse woordkuns. (Foto: Naomi Bruwer)

Hy publiseer onlangs hierdie aangrypende gedig op sy Facebookblad:

die taal is nog nie dood nie
die taal draai sy gekneusde gesig na sy moeder
afrikaans skreeu skreeu die kleur
vol van verwyt en verbittering
in die taalrepubliek van die gekoesterde tong

die taal draai sy gekneusde gesig na sy vader
dra die sonde van die geslagte
afrikaans skreeu skreeu die kleur
van ongeregtigheid en suiwer bloed
in die kerkhowe van die stommes sterf die klank

die taal is nog nie dood nie
nog by magersfontein nog by kammieskroon
nog by pella nog by kakamas
nog by die hospitaal of hof
waar hy lê met ’n strop aan die nek

die taal is die murg in die bene
maar die taal is ook tenger en weerloos
die taal is uitgesluit by al die vergaderings en wetgewings
swyg in raadsale en lesingslokale
die taal staan buite, kyk deur die tralies van die land in die oë
van die moeders
die taal wat net wou soepel lê in die mond van ’n mens is nêrens,
roggel, weifel, vergeefs …

die taal wat ’n boom kon word met baie wortels,
wat kon tak en blaar oor afrika
die taal wat ’n beitel kon word, kan nie meer reis nie
sterf, met sy meulsteen,
sonder ’n paspoort
sonder ’n land
sonder ’n tong

Die ontwikkeling van ‘n proaktiewe taalregtekultuur in Suid-Afrika

“Die reg om die taal van jou eie keuse te gebruik en aan die kulturele lewe van jou eie keuse deel te neem, is deel van die Handves van Menseregte, soos vervat in Artikel 30 van die Suid-Afrikaanse Grondwet.” – Karien Brits, ATKV.

Kunswerk: ATKV

Die dekking van inligting aangaande die taalregte van sowel individue as taalgroepe is uiters belangrik en kan bydra tot ’n bewuswording van taalregte en taalregte-aangeleenthede. Dit kan help om ’n proaktiewe taalregtekultuur in Suid-Afrika te bevorder. So ’n ingesteldheid is noodsaaklik om gevalle van taaldiskriminasie aan die kaak te stel, te bekamp en uiteindelik te voorkom. Uiteindelik dra dit by tot die verbreding van die demokrasie en bevorder dit sosiale kohesie.

Lees meer oor die SA Taalregtemonitor hier.