Video van die week

Marita van der Vyver:

Al wat ek weet – n voorlesing

Marita van der Vyver se jeugboek Al wat ek weet is nog ‘n knap vertelling uit haar pen en wys  weer eens hoekom sy so hoog as jeugboekskrywer geag word. 

Gabriel is ‘n tiernerseun van Kaapstad, maar ook anders as ander tienerseuns. Eerstens is daar sy agtergrond – sy ma is bruin, sy pa wit. Hulle het mekaar in die ‘struggle’ ontmoet en verlief geraak en kort na Nelson Mandela se vrylating getrou. Dan is daar Gabriel se ander belangstelling – anders as sy rugbyspelende skoolmaats, skryf hy gedigte, maar dis ook nie gewone gedigte nie, dis woorde wat gebruik word vir performance poetry, of liewer gedigte wat ge-rap en ge-slam word. 

Na sy ma se dood en sy pa wat dit moeilik kan verwerk, gaan Gabriel deur ‘n moeilike tyd. Hy blameer sy pa vir sy ma se dood en van ‘n pa-seun-verhouding is daar geen sprake nie. Een keer per week moet hy sy hart by ‘n sielkundige gaan uitpraat wat vir hom moeilik is – dis vir hom makliker om vir sy pa kwaad te wees. 

Twee jong vroue kom tot sy redding. Helena, wat ook performance poetry doen en hom onder haar vlerk neem, en Sasha, of Sneeuwitjie, soos Gabriel haar noem, wat hy by sy sielkundige se spreekkamer ontmoet. 

Al wat ek weet is ‘n moderne jeugverhaal wat kwessies aanroer en in ‘n taal geskryf is wat by hedendaagste tieners aanklank sal vind. Dis Marita van der Vyver op haar beste – sy verstaan die emosies en siel van tieners.

Al wat ek weet is ook as e-boek beskikbaar. Klik hier of besoek Lapa Uitgewers.