AVBOB-digkunskompetisie: 2017-wenners aangekondig

“Die wenners verteenwoordig die beste, dapperste en talentvolste individue van ons reënboognasie. Ek is diep geraak deur die feit dat elkeen van die digters die moed gehad het om deur hulle woorde, hulle eie kwesbaarheid te openbaar – nie net om hulle pyn te verwoord nie, maar ook as aansporing om ander te help op hul pad na genesing.”  – Frik Rademan, uitvoerende hoof, AVBOB

Op 1 Augustus 2017, is ’n digkunskompetisie in al 11 amptelike tale van stapel gestuur. Die kompetisie is deur AVBOB- begrafnisversekering- en diensteoplossingsmaatskappy geborg en was ’n eerste vir Suid-Afrika. Omdat dit die eerste keer was wat so ’n kompetisie gehou is, is daar gehoop op 5 000 inskrywings. Alle verwagtinge is egter oortref toe daar uiteindelik 20 774 inskrywings ontvang is. Hieruit is 3 108 op die webtuiste www.avbobpoetry.co.za, gepubliseer en hieruit is daar uiteindelik drie gedigte in elke taalkategorie gekies. Die wenners is tydens ’n galageleentheid op 20 Junie 2018 aangekondig.

Inskrywings het van wyd en syd  ingestroom en digters se ouderdomme het gewissel tussen 10 en 97. Temas het gewissel en onder andere liefde, hoop, geboorte en dood gedek. Elkeen van die 11 wenners het ’n R10 000 kontantprys en ’n R2 500-boekkoepon ontvang.

Die pragtige trofee wat elk van die wenners in die 11 kategorieë ontvang het.

Bekendstelling van die digbundel: “I wish I’d said …”

Honderd gedigte is in ’n digbundel, “I wish I’d said …”, opgeneem en word deur Naledi uitgegee. Die bundel bestaan uit 77 opdragverse, 22 wengedigte en ’n 100ste gedig in Khoisan om die eeu-oue bestaan van AVBOB te vier. Al die gedigte verskyn in die oorspronklike taal met die Engelse vertaling langsaan.

Wenner in die Afrikaans-taalkategorie:

Die wenner in die Afrikaans-taalkategorie was Lynthia Julius met haar gedig: “Vir All Jarreau”.

“My ma het ons aangemoedig om gedigte te lees en het elke aand voor slaaptyd vir ons gedigte voorgedra.“

Lynthia is in 1993 in Springbok gebore en het in Kimberley grootgeword. Sy is tans nagraads besig met haar honneursgraad in Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Lynthia het op ’n jong ouderdom begin gedigte skryf en die AVBOB-digkunsprys is haar eerste literêre toekenning. Die kompetisie het aan Lynthia ’n terapeutiese ruimte gebied waar sy van haar onopgeloste emosies kon loskryf.

Lynthia se ander werk sluit in Iewers sal ma se Getsemane ’n Kanaan word (2015, Volksblad, Media 24), Graad vir Mamma, 2014, Noordwes-Universiteit), Sneeuwbruintjie (2016, Break the spell), Die drie rassies and Raponsie (2016, Versindaba aanlyn), Beautiful in Kakamas, Intellectualising Stuff en Mother’s a house (2017, Stanzas, uitgawe 10).

Vir ’n volledige lys van die wenners in die 11 verskillende taalkategorieë, gaan kyk by www.avbobpoetry.co.za

2018-AVBOB-digkunskompetisie word begin Augustus geloods

 Die 2018-kompetisie begin op 1 Augustus en jy het tot 30 November kans om in te skryf. Gaan kyk gerus by www.avbobpoetry.co.za om meer hieroor en die pasafgelope kompetisie te lees en hoe om die bundel, “I wish I’d said …” te bestel.

Webtuiste: AVBOB-digkunsprojek

As deel van hul Mandeladag-vieringe, het AVBOB  hulle digkunsprojek-webtuiste op 18 Julie 2017 bekendgestel. Hierdie webtuiste gee aan nuwe digters die geleentheid om hulle gedigte ten toon te stel – en dit boonop in al elf amptelike tale! Dit is ’n gratis diens aan almal wat lief is vir gedigte en die webtuiste word ook gebruik as platform vir AVBOB se landwye kompetisie.  Die bekende skrywer en digter, Daniel Hugo, is die Afrikaanse redakteur vir die projek.  Die 2017-kompetisie is agter die rug, maar voornemende digters kan gerus ’n knoop in hulle ore maak – want inskrywings vir die tweede digkunskompetisie open op  1 Augustus 2018.

Die wenner in die Afrikaans-kategorie, Lynthia Julius, ontvang haar prys van die uitvoerende hoof van AVBOB, mnr. Frik Rademan.

Seremoniemeesters tydens die gala-aand, Rozanne Mckenzie en Coenie de Villiers.