Leeskonferensie 2019 

Die Vriende van Afrikaans rol moue op

Die Vriende van Afrikaans (VVA) is nie bloot net ’n klompie mense wat spog dat hulle Afrikaans lief het nie. Hulle rol moue op en spring uit en takel verskeie projekte waarby Afrikaans kan baat. Nie net skenk hulle jaarliks die wonderwêreld van boeke aan duisende kinders nie, maar met al hulle leesprojekte word onderwysers en ouers bemagtig en help hulle om die beeld van Afrikaans as ’n vriendelike taal te vestig.

Vriende van Afrikaans

24 jaar gelede het ’n klein groepie Afrikaanssprekendes in Stellenbosch ’n vereniging, Die Vriende van Afrikaans (VVA), gestig met die doel om hul liefde vir Afrikaans prakties uit te leef deur dinge te doen. Doendinge vir Afrikaans het ook die naam van die organisasie se nuusbrief geword. In 2014 is hierdie organisasie by die ATKV se kultuurdivisie ingelyf.

Die VVA se se vlagskipprojek is die Boektrommelprojek. Hierdie projek behels ’n trommel vol heerlike boeke wat aan verdienstelike skole en kleuterskole geskenk word. Daar word jaarliks aan duisende kleuters toegang gegee tot splinternuwe boeke.

Benewens die uitdeel van die boektrommels, help die VVA ook met aktiwiteite soos leesondersteuning en boekopvoedingwerkswinkels. Hulle bied  jaarliks gesprekke aan by die US Woordfees en daar vind ook Ommietafel-gesprekke in samewerking met die Afrikaanse Taalmonument plaas. Een so geleentheid was die afgelope naweek (11 Mei) se Leeskonferensie: Elke kind wil lees,  wat in Eersterivier aangebied is in samewerking met LAPA-Uitgewers, SAOOT(Moedertaalinisiatief), die ATKV (Moedertaalprojek), die Afrikaanse Onderwys Netwerk, SAOU en Afrikaans.com.

VVA-Leeskonferensie 2019

“Daar bestaan nie iets soos ’n kind wat nie van lees hou nie, maar daar bestaan wel iets soos kinders wat die verkeerde boeke lees.” – Chareldine van der Merwe (VVA)

Daar is meer as genoeg wetenskaplike bewyse bymekaargemaak om die belangrikheid van lees by kinders te beklemtoon. Trouens, die kundiges gaan sover as om te sê dat ’n liefde vir lees en vir boeke die grootste geskenk is wat enige ouer aan sy kind kan gee. Die grootste dilemma is egter dat kinders nie altyd die nodige toegang tot boeke het nie. Nie almal kan voldoen aan die vereiste van pediaters wat meen dat jou kind se stapel boeke altyd bo hom of haar moet uittroon nie. Dit is waar die waarde van ’n skool- of munisipale biblioteek lê.

Dit was ’n vol program met nuttige hulpmiddels, boeke van LAPA-Uitgewers en Wilma van Rooyen (AON) wat nuttige tegnieke en raad beskikbaar gemaak het om kinders entoesiasties te maak oor lees. Rozeldi Trollip van die ATKV het gesels oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en hoe lees in jou moedertaal vaardighede op die pad na sukses vaslê. David Jantjies van SAOOT het moedertaalonderrig as grondslag vir vaardighede beklemtoon en die belangrike rol wat ouers en onderwysers vervul in die skep van sulke geleenthede vir leerders.

Boeke mag nie ’n voorreg wees wat net sekere mense mag geniet nie. Deur hande te vat met die VVA, kan jy ’n groot verskil in baie kinders se lewens maak.

Kontak Amanda de Stadler en Chareldine van der Merwe indien jy wil betrokke raak.

LAPA-Uitgewers het nuttige hulpmiddels vir konferensiegangers beskikbaar gestel.

David Jantjies (SAOOT), Chareldine van der Merwe (VVA), Peet Hanekom (SAOOT) en René Arendse (Afrikaans.com).

Christine Neser het as gasspreker deelgeneem. Hier is sy saam met René Arendse van Afrikaans.com.