Kokers 2017: Afrikaans.com-ambassadeurs skitter!

’n Kokerboom (Aloe dichotoma) is ’n geharde plant wat in die halfwoestyngebiede van Suider-Afrika groei. Dit is op die Afrikaanse Taalraad (ATR) se embleem en verteenwoordig die taal se aardsheid, uithouvermoë en diepe wortels in die grond, geskiedenis en mense van Afrika.

Die Kokertoekennings word jaarliks deur die Afrikaanse Taalraad toegeken vir spesiale bydraes tot die Afrikaanse taal en is ‘n manier om erkenning te gee aan mense wat brûe bou, ‘n verskil maak en die voortou in en deur Afrikaans neem.

Vanjaar se wenners is Vrydagaand 17 November, by ‘n spoggeleentheid op die Zevenwacht-landgoed in Kuilsrivier aangekondig.
Kokers is toegeken vir bydraes in drie kategorieë:

  • Bevordering van Afrikaans;
  • Beskerming van Afrikaans; en
  • Bemagtiging van Afrikaanssprekendes.

Drie besonderse jongmense het erepennings ontvang vir hul onderskeie bydraes in die onderskeie kategorieë en twee toekennings is vir lewenslange bydrae tot Afrikaans gemaak.

Dr. Louis du Plessis (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) en René Arendse (Afrikaans.com) oorhandig ‘n Koker aan Diana Robertson-Tsotetsi.

Japie Gouws en Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad oorhandig ‘n Koker aan Suzi Matlhola.

Wenners: Werner Human (Beskerming van Afrikaans), Mercy Kannemeyer (Erepenning), Sue Pyler (Erepenning), Diana Robertson-Tsotetsi (Bevordering van Afrikaans), Marelize Swanepoel (Erepenning en Suzi Matlhola(Bemagtiging deur Afrikaans).

Lees meer oor Shaleen Surtie-Richards

Kokertoekennings 2017 Shaleen Surtie-Richards – Lewenslange bydrae tot Afrikaans

Shaleen Surtie-Richards is ‘n gevierde Afrikaanse aktrise en ikoon in die Afrikaanse kultuurlewe. Sy is gebore en getoë in Upington in die Noord-Kaap, die dogter van ouers wat albei diep spore in die onderwys getrap het. Haar skoolopvoeding het sy deels in Upington en Kaapstad ontvang. As gebore en getoë Noord-Kaapenaar.het sy ʼn bekoorlike tongval wat haar Noord-Kaapse wortels verklap.

Shaleen het in haar ouers se voetspore gevolg deur haar as onderwyser te bekwaam. Tydens haar jare as voorskoolse onderwyser in Upington en Kaapstad het sy aan talle amateur-verhoogproduksies, onder meer aan die onderwysdepartement se Teater-in-Opvoedingprogram deelgeneem. In 1984 loods sy haar professionele akteursloopbaan.

Shaleen het oor baie jare wye bekendheid en gewildheid verwerf as rolprent-, verhoog- en TV-aktrise. Die lang lys optredes op haar kerfstok is indrukwekkend, en die rolle waarmee sy bekendheid en geliefdheid verwerf het, het haar ʼn huishoudelike naam gemaak, haar byna tot volksbesit verhef. Rolprente waarin sy verskyn het, is onder meer Fiela in Fiela se kind (1988), gebaseer op Dalene Matthee se trefferroman met dieselfde naam; Maxi in Nag van die negentiende (1992); die burgemeesteres in Mama Jack (2005); Nenna in Egoli: Afrikaners is plesierig (2010); Susanna van Biljon (2010); Jimmy in pienk (2013), juffrou Schutte in Agent 2000 (2014); en Katie in Treurgrond(2015)

Haar lys TV-optredes is ewe indrukwekkend. Hieronder is daar die enigmatiese Nenna in Egoli: Plek van Goud, wat agt jaar lank TV-kykers behoorlik aan die praat gehad het, beoordelaars van Supersterre op SABC 2, Mattie in die eerste seisoen van Generations, Dorothy Daniels in die eerste seisoen van 7de Laan en onlangs as Fran in Villa Rosa op kykNET.

Die Taalraad vereer vir Shaleen Surtie-Richards vir haar lewenslange bydrae tot die Afrikaanse kultuurbelewenis en vir haar voorbeeld waarmee sy talentvolle plattelandse Afrikaanse mense inspireer om nie toe te laat dat hul omstandighede in hul pad staan om hul drome te verwesenlik en sterstatus te bereik nie.

Lees meer oor Sandra Prinsloo

Kokertoekennings 2017 – Sandra Prinsloo – Lewenslange bydrae tot Afrikaans

Sandra Prinsloo is ʼn Suid-Afrikaanse legende, ikoon, rolmodel en huishoudelike naam in die wêreld van die teater, film, TV en kultuur. Haar loopbaan, wat oor meer as vyf dekades strek, word in beide Engels en Afrikaans uitgevoer. Sandra het in September vanjaar 70 geword, en sy werk nog steeds in belang van Afrikaans en Afrikaanssprekers.

Sandra se talent word nie net telkens plaaslik met lof besing nie, maar ook internasionaal. Op filmgebied is dit veral met Jamie Uys se rolprent The Gods must be Crazy, wat nog steeds in oorsese filmteaters en op TV vertoon word. Sy is ook geprys vir haar uitstaande spel teenoor Anthony Quinn as sy verliefde meisie in Tigers don’t Cry.

Op teatergebied het sy met haar tweede besoek die Edinburghfees in 2013 oorrompel met haar voortreflike solospel in The Sewing Machine wat vyfster-resensies ontvang het. Plaaslik is hierdie stuk, in Engels en Afrikaans, landwyd al meer as 500 keer opgevoer en is sy daarvoor met altesaam 9 toekennings bekroon.

Sandra wou eintlik ʼn ballerina geword het, maar nadat sy sekere karakterrolle in ballet met groot sukses aangepak het, het sy besluit om aan die Universiteit van Pretoria drama te bestudeer. In haar dae aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, het sy in die Breytenbachteater plekke aangewys. Na voltooiing van haar honneursgraad in drama het haar loopbaan vlam gevat in groot wêrelddramas soos onder andere The Crucible van Arthur Miller, Cat on a Hot Tin Roof van Tennessee Williams en Athol Fugard se People are Living There.

Die Taalraad vereer Sandra vir haar lewenslange bydrae tot die kunste, wat ʼn diepgaande impak gemaak het op die uitvoerende kunste, tale, kultuur, letterkunde en erfenis, en merkwaardig bygedra het tot die verryking van die Afrikaanse kultuurbelewenis. Sandra is ook ‘n Beskermvrou vir Afrikaans.

Afrikaans.com-ambassadeurs skitter!

Baie geluk aan Diana Robertson-Tsotetsi, wat Afrikaans se vuur hoog laat brand in Eldoradopark! Sing, dans, drama en opleiding … Diana bevorder Afrikaans en span die kunste in as haar verfkwas waarmee sy die wêreld inkleur.

Lees meer oor Diana Robertson

Diana Robertson – Kokertoekenning 2017: Bevordering van Afrikaans

Eldoradopark, of Eldos, soos die inwoners daarna verwys, is ʼn woonbuurt wat in die vorige bedeling ontwikkel is as blyplek vir bruin mense. Verskeie verskilmakers kom uit hierdie gemeenskap: Mense soos Bianca Le Grange, Liesl Laurie, Debra Meyer en Diana Robertson. Nie net het Diana in Eldoradopark grootgeword nie, sy en haar man Innocent en dogtertjies Zoe en Ava woon steeds daar. Die gemeenskap van Eldoradopark is ʼn baie hegte gemeenskap, ten spyte van swaarkry en sosio-maatskaplike probleme soos dwelms, geweld en werkloosheid. Die gemeenskap deel in mekaar se swaarkry, maar ook vreugde, en toe Diana in Oktober 2017 aangewys is as die eerste prinses in die Mev. Afrika-kompetisie, het die vreugdevure hoog gebrand. By dieselfde geleentheid het Diana ook met die toekenning Mev. Afrika Toerisme Aarde weggestap.
Diana het haar laerskooldae aan Eldoradopark Primêr deurgebring en het in 1999 aan Kliptown Sekondêre Skool gematrikuleer. In 2012 het sy ʼn Nagraadse Onderwysdiploma behaal en in 2014 haar B Ed Honneursgraad in Onderwys. Sy is tans besig met haar Meestersgraad in Opvoedkunde: Kurrikulumstudies aan die Universiteit van Johannesburg waar sy ook ʼn senior tutor is.

Diana se ma, Patricia Robertson, is in Maart 2016 oorlede. Diana vertel graag dat dit haar ma is wat ’n onblusbare liefde vir Afrikaans by haar vasgelê het. Aan die begin van 2017 het Diana ’n doelbewuste besluit geneem om terug te ploeg in Eldoradopark se gemeenskap, en die deelname aan die Mev. Afrika-kompetisie was vir haar die ideale geleentheid daarvoor. Hierdie kompetisies se oogmerk is om aan vroue erkenning te gee en ook die geleentheid om ’n verskil in hulle plaaslike gemeenskappe te maak.

Een van Diana se projekte van die afgelope jaar was die oprigting van ’n biblioteek by Eldoradopark Primêr. Sy was tot aan die einde van 2016 ’n onderwyseres aan hierdie skool, en dit was duidelik dat die skool dringend ’n groter biblioteek nodig gehad het. Met borgskappe van Standard Bank en die Universiteit van Johannesbrug, is daar ’n skeepshouer op die skoolterrein opgerig, en dit is reeds gevul met talle boeke wat verskeie organisasies en individue geskenk het. Dit sal toenemend volgemaak word met die hulp van weldoeners.

Diana, wat ook ’n ballerina is, het al vir jare lank ’n dansprojek in Eldoradopark, “A Leap of Faith” in Eldoradopark, wat jongmense konstruktief deur middel van dans, besig hou. Diana het ook die beweging Own your own Destiny gestig om jong vroue te bemagtig. Enige jongmeisie wat nie haar skoolloopbaan kon voltooi of verder kon gaan studeer nie, kry hier die geleentheid om as skoonheidsterapeut opgelei te word. Sodoende word ʼn beter toekoms vir hierdie jong vroue verseker.

Die manier waarop die hele Eldoradopark, wat geskiedkundig grootliks Afrikaanssprekend was, tans verengels, is vir Diana ’n reuseprobleem. Sy werk tans hard om Afrikaans se vuurtjie in Eldoradopark te laat brand, en gebruik die kunste as haar instrument. Afrikaanse dramas en vertonings, boeke, gedigte, sang en dans is alles maniere hoe Diana Robertson haar storie in Afrikaans vertel. Afrikaans is vir haar die verfkwas waarmee sy kleur aan haar omgewing gee.

Sue Pyler en Marelize Swanepoel, beide ambassadeurs vir Afrikaans, is besonderse jongmense wat erepennings ontvang vir hul werk.

Nog wenners …

Suzie Matlhola ontvang ‘n Koker vir Bemagtiging deur Afrikaans. Sy is die vrou agter die inspirerende Afrikaans in Soweto-projek en die stigter van die Soweto ATKV-damestak waar sy geleenthede skep – in en deur Afrikaans! Deur hierdie toekenning word sy vereer vir die verskil wat sy in haar gemeenskap maak.

Lees meer oor Suzie Matlhola

Suzie se pad met Afrikaans het 29 jaar gelede in Junie 1988 begin toe sy op pad na ʼn werksonderhoud by die ATKV se ou kantore in Braamfontein verbygestap het en ʼn ATKV-werknemer gegroet het. ʼn Gesprek het begin en sy is dieselfde dag nog by die ATKV aangestel. Toe sy die aand haar vriendin vertel dat sy werk by die ATKV gekry het, vra die vriendin of sy Afrikaans kan praat. “Nee”, het Suzie geantwoord “maar ek gaan Afrikaans leer praat.”

Saterdagskool

Tien jaar later, en met ʼn kort Afrikaanskursus by die UP agter die blad, het sy begin om haar seuns en sy vriende in die middae met hulle Afrikaans te help. Uiteindelik besluit sy om vir hulle ekstra klasse op Saterdae te gee. Hiervoor het sy ʼn kleuterskool gebruik en moes na ’n rukkie nog iemand kry om te help.

Stigting van ʼn ATKV-damestak in Soweto

In 2002 stig sy ʼn damestak van die ATKV in Soweto wat begin het om kombersies vir vigs-sentrums te maak. Drie jaar later sien Biblionef ʼn artikel oor die skool in die Taalgenoot, die ATKV se tydskrif, raak. Hulle wou vir Suzie boeke geskenk. Suzie het egter nie ’n plek gehad waar hulle die boeke kon bêre nie. Kort daarna skenk Breadline Africa ʼn vraghouer (container) aan Suzie om hiervoor te gebruik. Op hierdie stadium was daar al by die 40 kinders wat die Saterdagskool bygewoon het.

In 2006 sterf Suzie se man en seun in ʼn groot motorongeluk. Na ʼn jaar van rou het sy die ATKV-tak herstig onder die nuwe naam “Vorentoe”, waarmee die Saterdagskool toe ook ʼn projek van die ATKV geword het.

Klasse by die Universiteit van Johannesburg (UJ)

Die projek het aanhou groei, en in 2013 het Suzie saam met haar projek na die taalafdeling van die ATKV verskuif. Sy en haar kollegas het klasse by die Departement Afrikaans (UJ) begin bywoon en geleer hoe om Afrikaans vir die kinders aan te bied. Tot vandag toe besoek die Departement die projek gereeld om Suzie en haar sewe medevrywilligers ondersteuning te gee.

Daar is nou ook klasse in Ennerdale, Turffontein en Roodepoort wat altesaam meer as 200 kinders per week bereik. Suzie leer mense nie net Afrikaans nie, maar verander ook mense se houding jeens Afrikaans. Wanneer kinders en grootmense nuwe geleenthede in of deur Afrikaans kry, word hulle lewens daardeur verander.

Partykeer is net een mens nodig om verandering teweeg te bring. In haar eie woorde: “Dit vat een mens om ’n klip op te tel en opstande mee te begin. Dit kan ook net een mens vat om iets goeds te doen en ’n gemeenskap te verander.”

Werner Human

Werner Human, die regsman, wat sy kundigheid aanwend en vurig voortwoeker in en vir Afrikaans! Die beskerming van Afrikaans is sy roeping eerder as sy dagtaak. Hy ontvang ‘n Koker vir die Beskerming van Afrikaans.

Fatima Allie (ATR) en Annelise de Vries oorhandig ‘n Koker aan Werner Human.

Lees meer oor Werner Human

Werner glo dat die antwoord vir Afrikaans se voortbestaan nie neerkom op een spesifieke oomblik of uitweg nie, maar op ʼn voortdurende strydvoering, veral vanuit jonger geledere.

Werner is reeds vanaf 2014 aktief besig om Afrikaans vanuit ʼn regsperspektief te beskerm.

In 2014 staan hy talle Afrikaanse skole by met litigasie en regsadvies rakende die inmenging in skole se taalbeleide vanaf makrovlak. Danie Malan se saak draai in die hof en Werner vorm deel van dié skool se regspan.

In 2015 het hy verder, in opdrag van die Federasie van S.A. Skoolbeheerliggame (Fedsas) ʼn suksesvolle interdik teen die huidige LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, sowel as die Gautengse departement van basiese onderwys, bekom oor die implementering van sekere aspekte van dié departement se e-aansoeke, onder meer die taalopsie op dié stelsel.

Nie net bied hy regsadvies en –hulp aan skole met betrekking tot taal nie, hy word ook vanaf 2016 deur AfriForum en Solidariteit as prokureur aangestel in die hofstryd teen die rade van die Universiteit van Suid-Afrika en die Vrystaat se onderskeie Engelse taalbeleide.

Sedertdien word hy gereken as ʼn kenner op die gebied van linguistiese regte met betrekking tot Afrikaans in die Suid-Afrikaanse onderwys en word hy vanuit verskillende geledere versoek om regsmenings te skryf oor sekondêre en selfs tersiêre taalbeleide.

Werner kan definitief beskou word as ʼn voorbeeld vir almal, maar spesifiek vir die jeug, as iemand wat die beskerming van Afrikaans as ʼn roeping, eerder as deel van sy dagtaak, sien.

Mercy Kannemeyer

Lees meer oor Mercy Kannemeyer

Mercy Kannemeyer is ʼn honneursstudent in drama en teaterstudie aan die Universiteit van Stellenbosch (US) en spesialiseer in Toegepaste Teater. In haar dokumentêr “Die ander kant” vra sy die vraag wat ons gaan verloor as Afrikaans aan die US as onderrigtaal afgeskaf word en belig sy dus ʼn kwessie waarvan daar dikwels weggeskram word.

Met “Die ander kant” het Mercy ’n geleentheid gebied vir versweë bruin stemme oor ’n breë spektrum heen – onder meer akademici, skrywers en studente – om gehoor te word oor die onderrigtaalkwessie aan die US. Die film toon dat alle Afrikaanse studente, ook en veral bruin studente, negatief geraak sal word indien Afrikaans aan die US afgeskaf sou word.

Onderhoude met die US-studente het gedui op ’n wegbeweeg van ’n onderrigtaalpraktyk van 50% Afrikaans en 50% Engels na een wat merendeels Engels aanbied, ʼn situasie wat die Afrikaanse studente negatief raak.

Mercy wou met “Die ander kant” ook die waarde van moedertaalonderrig belig. Verskeie persone het hulle juis ten gunste van moedertaalonderrig uitgespreek, ʼn beginsel wat wêreldwyd deur opvoedkundiges as beste praktyk beskou word. By die Taalraad se jeuggesprek oor die verskuiwing van onderrigtaal van Afrikaans na Engels vroeër vanjaar, argumenteer sy dat Afrikaans behou moet word omdat dit reeds oor die infrastruktuur as akademiese taal beskik, terwyl die ander ampstale ook tot akademiese tale ontwikkel moet word.

Mercy is uitgesproke oor haar liefde vir Afrikaans. Terwyl sy haar voorberei vir ’n beroep in die teaterbedryf, leef sy haar ook uit as skeppende skrywer en skryf sy veral poësie. Haar veelsydigheid hou egter nie daar op nie, want sy doen ook radiowerk. Sy glo dat teater, veral toegepaste teater, mense se lewens en denke kan verander. Dit is juis belangrike dryfveer vir die dokumentêr “Die ander kant” waarin sy met haar fokus op ʼn spesifieke dimensie, die heersende denke en praktyke oor onderrigtaal in hoër onderwys wou beïnvloed.

Wie is die Afrikaanse Taalraad (ATR)?

Die ATR is daar vir Afrikaans en bevorder die taal in sy volle diversiteit, kleurrykheid en verskeidenheid. Een van die hoofdoelwitte is om versoening en samewerking tussen alle

Afrikaanssprekendes te bevorder en te bewerkstellig en om saam te werk met alle inheemse taalgroepe om ‘n meertalige Suid-Afrika te verseker. ‘n Belangrike aspek van hul werksaamhede is die bevordering van moedertaalonderrig wat op skool- en universiteitsvlak deur projekte, aksies en vennootskappe op elke moontlike terrein ondersteun word.

Kokertoekennings 2017

Japie Gouws (Voorsitter van die ATR) saam met René Arendse (Afrikaans.com)

Susann Marais (ATR) saam met Jessica Daffue (FAK, Voortrekkers).

Sue Pyler saam met prof. Wannie Carstens.

Sue Pyler (Ambassadeur vir Afrikaans en Kokertoekenningontvanger) saam met Sinki Mhlambo (ATR en Ambassadeur vir Afrikaans).

Gaskunstenaars: Die Affodille Vroueboereorkes.

Gaskunstenaars: Die Rieldansers – Tygersig Primêr.

Conrad Sidego (voormalige burgemeester van Stellenbosch), Conrad Steenkamp(ATR), Ria Olivier (ATR), Mercy Kannemeyer (Erepenning) en Amy Sidego.