Sê jou sê in Afrikaans – dit is Jeugmaand [’n reeks]

Ontmoet vir Charné Arendse, die entrepreneur met haar eie fotografiebesigheid, wat weet waarheen sy op pad is. Sy het ‘n droom … EN ‘n plan om dit waar te maak!

#Jong stemme behaal sukses in en deur Afrikaans

Charné Arendse weet presies waarheen sy op pad is!

Wanneer jy met Charné gesels oor die sukses van haar fotografiebesigheid kom jy baie gou agter dat hierdie jong dame alles met ‘n plan en strategie aanpak. “As ‘n voltydse student is dit nie altyd maklik om gemotiveerd en gebalanseerd te bly nie, maar as jy weet HOEKOM jy doen wat jy doen hoef niks in jou pad te staan nie,” sê sy.

Charné het reeds op laerskool begin eksperimenteer met foto’s neem en toe van graad 10 tot 12 Kuns en Fotografie as ‘n addisionele skoolvak geneem. In graad 10, toe mense haar begin betaal het om foto’s te neem, het sy besef dat haar fotografie eintlik vir haar ‘n besigheid kan word. Vandag het sy ‘n florerende besigheid en met besprekings tot diep in 2020!

“Elke foto vertel eintlik ‘n storie. Dit vertel ‘n storie van liefde, soms hartseer en ook verlange. So my passie is om mense se stories te vertel deur my fotografie”

As sy terugkyk op die sukses van haar loopbaan tot nou is sy verbaas oor hoe sy gegroei het met die kwaliteit van haar fotografie, haar sigbaarheid en hoe haar kliëntebasis konstant groei. Wat is haar geheim? “Ek moet leergierig bly! Ek woon gereeld werkwinkels by en is voortdurend besig om nuwe tegnieke en idees te leer” vertel sy. Haar grootste passie is leefstyl- en troufoto’s en haar visie vir die jaar vorentoe is om haar dienste uit te brei na videografie en die uitkontraktering van blomme- en venue-dienste aan bruidspare.

Hoe staan jy uit tussen so baie wat dieselfde dienste aanbied?

Gee altyd meer as wat jy belowe het!

Watter advies het jy vir ander jongmense wat ook hul eie besighede wil begin?

Doen iets waarvoor jy lief is, want dit gaan nie altyd maklik wees nie … so jou HOEKOM sal jou dra deur die moeilike tye.

Het jy praktiese wenke vir jongmense wat nog op skool is of voltyds studeer wat reeds hul eie besighede het?

1) Werk met ‘n tydskedule of ‘to-do’-lysie om by alles uit te kom.

2) Hou jou persoonlike- en besigheidsfinansies apart.

3) Weet hoekom jy doen wat jy doen.

Waar kan mense jou werk sien?

Op my instagramblad  @charne_a_photography en my FB-Blad @Charne A Photography

‘n Paar kitsfeite …

Naam, van & bynaam?

Charné Arendse en was al Chardonay genoem.

Wat beskou jy as jou grootste talent?

My logika.

Een woord om jouself te beskryf?

Vasbeslote.

Eet of slaap?

Albei!

Koek of pizza?

Pizza.

Boek of fliek?

Netflix … ek bedoel fliek.

Facebook of Instagram?

Instagram.