Jakes Gerwel-gespreksreeks:

Is Afrikaans ’n taal vir almal?

Die Jakes Gerwel Stigting het tydens die afgelope Suidoosterfees wat vanaf 25 April tot 1 Mei 2019 in Kaapstad gehou is, ’n belangrike gespreksreeks aangebied. Afrikaans.com was daar.

Kweek ’n liefde vir Afrikaans by ons jongmense

In ’n gesprek wat deur die Afrikaanse Taalraad aangebied is, is gevra of Afrikaans werklik ’n taal vir almal is.

“Ons luisteraarsyfers het verdriedubbel omdat mense honger is om Afrikaans te hoor… Ouers kontak my gereeld en sê dat hulle kinders Afrikaans praat, maar die skool het laat weet dat hulle nou al hulle vakke in Engels moet doen … waar gaan ons verkeerd? Kan ons elkeen ‘n verskil maak? Ons taal het verskillende baadjies … kom soos jy is!” – Tracey Lange, KFM Radio

Die bekende radio- en televisiepersoonlikheid en ambassadeur vir Afrikaans, Tracey Lange, was die gespreksleier tydens hierdie belangrike bespreking. Lede van die paneel was onder andere Samuel Minnaar, ’n joernalistiekstudent aan die Universiteit Stellenbosch, Esra Plaatjies, ’n finale jaar student aan die KSUT en Carla Barnard, ’n onderwyseres by De Vrije Zee Primary School.

Tydens die gesprek is daar gekyk na die redes en struikelblokke waarom jongmense vandag nie meer gemaklik daarmee is om Afrikaans te praat nie en liewer Engels praat, alhoewel hulle uit Afrikaanse huise kom. Lange wou weet hoe ons kan seker maak ons jongmense het die selfvertroue om met gemak Afrikaans te praat. Volgens Lange dink ouers dikwels verkeerdelik hulle kinders gaan meer geleenthede kry as hulle in Engels skoolgaan, waarop Plaatjies geantwoord het dat dit ’n wanpersepsie is wat tot taalminderwaardigheid kan lei. Volgens hom is dit juis daarom dat kinders hulself nie in hulle moedertaal kan uitleef nie.

Minnaar het genoem dat hierdie wanpersepsies ’n groot probleem is, veral wanneer daar geglo word dat Engelse onderrig die wêreld vir jou oopmaak. Hy reken dis nie noodwendig waar nie, want al gaan leerders in Engels skool, is die skole dikwels in Afrikaanse gemeenskappe en pouses en na skool praat die leerders nog steeds Afrikaans, want dis hul huistaal. Hy voel ook daar is baie geleenthede in Afrikaans en ’n mark daarvoor, want soveel Afrikaanssprekendes hou van Afrikaanse goed. Daarom moet Afrikaanse inisiatiewe ondersteun word – sodat hierdie kreatiewe energie van jongmense ’n uitlaatklep kan kry. “Vandag se jongmense kort ’n verskeidenheid tasbare Afrikaanse goed – goed wat hulle kan kyk, lees of sien. Ons toegang tot die internet en die wêreld maak dit nou soveel makliker om Afrikaans te laat pronk.”

Kyk na die volledige gesprek hier:

Ons moet ons taalandersheid omarm

Plaatjies het genoem dat Afrikaans verskillende tonge het en dat dit juis hierdie diversiteit en taalandersheid is wat ons moet omarm. “Leef jou taal se variëteit. Ons is mos een taal se kinders!” Plaatjies het ook gesê dat Standaardafrikaans die skakel tussen die variëteite is sodat ons op alle vlakke met mekaar kan kommunikeer. Hy het verder ’n beroep op belanghebbendes gedoen om die taalfeeste na die skole toe te neem. In daardie gebiede waar die taal nog lewendig is, soos die Oos-Kaap en Mitchells Plain. “Ons moet ons jongmense weer lus maak vir Afrikaans. Afrikaans baklei nie … dis ’n liefdestaal wat almal omarm.”

Barnard voel sterk oor die rol van moedertaalonderrig omdat dit aan kinders ’n goeie fondasie bied van waar hulle dan kan diversifiseer. Sy het ook vertel dat sy as Afrikaansonderwyser opgelei is en die skool waar sy onderrig eers Afrikaans was, maar algaande verengels het sodat sy nou in Engels moet skoolhou. Dis vir haar moeilik, want sy leef in Afrikaans.

Barnard het ook gesê: “Weens hul maatskaplik-ekonomiese omstandighede en ook omdat hulle oningelig is oor hul regte, aanvaar ouers bloot dat skole verengels en besef hulle nie dat hulle mag aandring op Afrikaanse onderrig nie – veral waar daar 40 of meer leerders is wat die taal wil praat.”  Sy voel ook dat ons gerus meer ondersteuning kan gee vir dit wat in Afrikaans gedoen word. “Dink maar hoe deel ons Engelse memes op sosiale media, in plaas daarvan dat ons Afrikaanse memes skep en deel, want ons wil tog nie gesien word as ondersteuners van die ‘onderdrukte taal’ nie.”

Bemagtig ons jongmense en kunstenaars

William Sezoe, ’n graad 12-leerder van die New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl het die gehoor inspireer en vertel hoe hy en ander leerders dit reggekry het om hul passie vir Afrikaans te laat leef deur ’n uur lange Afrikaanse program op ’n Paarlse radiostasie te vestig. Hy het ook gevra dat jongmense en kunstenaars ondersteun moet word, want “ … hulle voel bemoedig; hulle wil vlieg!”

Wat doen ons? Ondersteun ons die Afrikaanse platforms en organisasies wat reeds bestaan of dra ons nog te swaar aan die skuldlas van die verlede? Dit het tyd geword om ons eie taal te laat uitstaan. Praat jou taal soos dit vir jou gemaklik is – waaraan jy gewoond is. Ons moet nooit vergeet waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is nie.

Leerders van Hoërskool New Orleans, Paarl.

Die ATR se uitvoerende hoof, Conrad Steenkamp (regs), saam met Esra Plaatjies (middel) en die ATR projekbestuurder, Ria Olivier.

Die leerders van Hoërskool Macassar.

Lees Murray La Vita se artikel hieroor in Die Burger van 30 April 2019. Klik hier