fbpx

20 Maart 2020
Nicolette van Schalkwyk

Verveeld by die huis? Só hou jy jou kinders besig

Die eerste skoolvakansie van 2020 het vroeër aangebreek as beplan! Skielik is die skoolbanke leeg en jy sit met jou hande in jou hare oor wat om met die jongspan by die huis te doen. Hier is ’n paar dinge om jou kroos besig te hou gedurende dié tyd by die huis.

Spandeer tyd voor die leesboeke

Sit die “leer” terug in “isoleer” en lees vir jou kind. Sit ’n tyd van die dag opsy en kry ook ’n spesiale plekkie in die huis wat spesifiek aan lees gewy word. Vir nog wenke oor hoe om lees lekker te maak, klik hier.

Bak… en brou!

Kinders is mal daaroor om sélf voor die kospotte in te skuif, so krap daardie geroeste oondpanne uit die kas en raak doenig in die kombuis.

Dis heeltyd speeltyd!

  • Bordspeletjies – Dit is weer tyd om die stof van jou ou bordspeletjies af te skud en die pret daarin te herontdek. Speletjies soos 30 Seconds, Monopoly, Uno, ensovoorts is lekker om as gesin saam te doen en sal jou kinders vir ure besig hou.
  • Skattejag – Steek leidrade oral in die huis weg en daag jou kinders uit om dit op te los. Met Paasfees om die draai, kan jy selfs die geskrewe leidrade met paaseiers vervang.
  • Kamp in die huis – Bou ’n fort onder die tafel of slaan tentjie op in die sitkamer en “kamp” ’n nag binnenshuis saam met jou kind.
  • Daag jou kind uit om hul eie speletjies te maak. Jy sal verbaas wees om te sien hoe kreatief hulle kan raak.

Maak dit ’n kleurvolle tyd

Krap die verfkwasse, kryte en gom uit die laai en raak kreatief saam met jou kinders. Hierdie is ’n lekker geleentheid om iets te skep wat hulle as versiering in hul kamer kan opsit of vir iemand as ’n geskenk kan gee. Daar is baie verskillende maniere waarop hulle kreatief kan raak:

  • Verf – Maak jou hande vuil en verf saam met jou kinders.
  • Maak gebruik van ou kartonbokse, toiletrolle, tandestokkies, ens. en laat jou kinders hul eie skeppings
  • Plakboek (scrapbook) – ’n Wonderlike geleentheid om herinneringe behoorlik vas te vang deur foto’s op ’n kreatiewe manier uit te beeld.
  • Kleur in – Inkleurboeke is ’n lekker manier om veral jonger kinders besig te hou. Het jy nie ’n inkleurboek nie? Geen probleem nie. Laai hier ’n paar lekker inkleurprentjies af wat jou kleinding vir ure gaan besig hou.

Wys jou groen vingers!

Kinders kan baie vinnig ingehok voel as hulle die hele dag in die huis spandeer. Kry ’n bietjie vars lug en pak daardie tuinwerk aan waarna jy al maande lank opsien. Maak dit sommer ’n lekker spanprojek waaraan almal in die gesin deelneem.

Dis storietyd…

Die vakansie kan lank raak en so ook die tyd wat kinders weg van hul skoolboeke af spandeer. ’n Lekker manier om hul kreatiwiteit te stimuleer en terselfdertyd hul skryfvaardighede op te skerp, is deur hul aan te moedig om hul eie stories te skryf. Hier is ’n paar lekker onderwerpe om van te kies:

Die beste dag van my lewe

My held is…

Die lekkerste vakansie waarop ek al was.

My grootste droom.

Wat is ’n goeie vriend?

Watter dier sal jy graag wil wees en hoekom?

Eendag as ek groot is…

Waarvoor is jy bang en hoekom?

Hoe lyk dit op die maan?

As jy ’n superheld kon wees, watter kragte sou jy wou hê en hoekom?

Skryf ’n brief vir ’n boelie by die skool.

As jy drie wense kon hê, wat sou dit wees?

Bou legkaarte

Ons almal het ’n paar legkaarte in die kas wat jare laas die lig gesien het. Dit is nou die tyd om hul uit te krap. Nie net is dit ’n stimulerende aktiwiteit nie, maar dit sal ook jou kinders ure lank vermaak.

Oefen! Oefen! Oefen!

Gimnasiums word in hierdie tyd as hoërisiko-areas beskou wat liefs vermy moet word. As jy dus nie na die gimnasium toe kan gaan nie, bring die gimnasium na jou huis toe! Soek vir -Zumba- of ander dansvideo’s aanlyn en geniet ’n dansklas saam met jou kinders. Die  oefening sal goed wees om hulle (en jou!) spiere aan die gang te hou voordat die lang ure in die huis sy tol begin eis.

Baie ouers is bekommerd dat die lang tye weg van die skoolboeke ’n negatiewe impak op hul kinders se prestasie kan hê. Besoek Afrikaans.com se Leerhulpafdeling vir gratis, aflaaibare flitskaarte om jou kinders se taalkennis in hierdie tyd op te skerp.

Bron: Giant list of ideas for being home with kids

Lees ook:

Die voordele van bordspeletjies. Klik hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.