Gemeenskapsuitreik

Kunstekaap, SBA en Afrikaans.com neem hande

Marlene le Roux, Sandra Prinsloo en dr. Niel le Roux van die SBA saam met die storievertellers van Verlorenvlei.

Elke jaar identifiseer Kunstekaap ’n plattelandse gemeenskap wat nie die voorreg tot gereelde toegang tot die kunste het nie en bring hulle die verhoog tot binne die harte van hierdie mense wat dikwels uitgehonger is vir die feestelike kreatiwiteit wat die kunste bied. Vanjaar is Vredenburg die plek waar dinge gebeur!

Vanjaar is daar uitsoekteater op die planke. Camillo Lombard en sy orkes, Robin Peters, Zinzi Nogavu, Zanne Stapelberg en vele meer deel die verhoog en die Kaapse Balletgeselskap bring hul betowerende optredes na die gehoor. ’n Volledige tegniese span maak seker dit is ’n onvergeetlike ervaring en bied boonop kreatiewe werkswinkels aan vir leerders wat belangstel in beligting en alle ander tegniese aspekte wat verhoogproduksies moontlik maak.

Op 11 en 12 Oktober 2018 neem Kunstekaap, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en Afrikaans.com hande om hierdie uitreik, wat gehoorontwikkeling en bemagtiging asook die bevordering van Afrikaans behels, ‘n groot sukses te maak.

Marlene le Roux (Uitvoerende Hoof van die Kunstekaapsentrum) sê dat dit veral die fokus op mense se stories is wat ’n groot verskil in hierdie gemeenskappe maak. “Die SBA en Afrikaans.com is die ideale vennote weens die belegging in ons jongmense, die ontwikkeling van selfwaarde en trots op hul gemeenskappe, hul taal en kultuur.”

Die SBA onthul die Patrick Petersen Gedenkplaat – ’n aktivis en Afrikaanse letterkunde-ikoon asook ’n boorling van Vredenburg. Dit val saam met die bekendstelling van reeks ses van die SBA se reeks stories uit unieke streke en gemeenskappe waardeur die herkoms, kultuur en verhale van bejaardes uit hierdie gebiede vir bewaring op video vasgelê word. Hierdie reekse het Engelse onderskrifte en daar word ook voorsiening gemaak vir gehoorgestremdes. Terselfdertyd word die stories ook in visuele kunswerke deur plaaslike kunstenaars uitgebeeld. Gemeenskappe soos Op-die-berg, Melkhoutfontein, Verlorenvlei, die sig- en gehoorgestremdes van Worcester en nou die stories van Patrick Petersen, is vasgelê.

Sandra Prinsloo, SBA-direksielid en beskermvrou vir Afrikaans, tree in gesprek en vertel die stories. Die reekse sal in die toekoms op KykNET-kanale uitgesaai word.

Reeks een tot vyf sal ook binnekort op Afrikaans.com beskikbaar wees.

Afrikaans.com se jongste muurkunsonthulling vind ook op Donderdag, 11 Oktober 2018, by Hoërskool Weston in Vredenburg plaas. Verrigtinge begin om 15:30 met die onthulling van die Patrick Petersen Gedenkplaat by die VGK in die dorp,  waarna Afrikaans.com se pragtige en kleurvolle muur om 16:30 by die skool onthul word. Daarna kan toeskouers uitsien na die première van die SBA se Weskusstoriesprojek saam met Sandra Prinsloo, asook die Patrick Petersen Gedenkgesprek. Die Kunstekaap Galakonsert volg om 20:00.

Muurprojek: Klavs Skovshol (Deense skrywer),  René Arendse (Afrikaans.com)die Verteenwoordigende Leerlingraad van Pionierskool en dr Niel le Roux van die SBA.

Hierdie Afrikaans.com-muuronthulling, spesifiek gefokus op die gemeenskap, maak deel uit van die Afrikaans.com-muurkunsprojek in die Wes-Kaap wat in 2017 afgeskop het en wat vanjaar voortgesit word.

Meer oor die muurkunsprojek

Met die muurkuns skep ons ’n bewustheid en word leerders aangemoedig om Afrikaans te geniet en te gebruik. Ons herinner leerders, onderwysers en die gemeenskap om trots te wees op die uniekheid van hulle kultuur, hulle skool, gemeenskap en Afrikaans – ons moedertaal – en moedig hulle aan om hulle unieke identiteit opnuut aan te gryp in hoe hulle hulleself uitdruk en binne hulle gemeenskappe leef.

Vanjaar se muurkuns bestaan uit helder beelde en woorde waarmee hoërskoolleerders hul kan vereenselwig. Die vlerke maak weer deel uit van die kunswerk – hierdeur wil ons leerders aanmoedig om groot te droom en hulle te laat besef: Niks is onmoontlik as jy jou daarop toespits en hard werk nie.

Die Afrikaans is #onmisbaar-tema maak ook deel uit van die muur en daardeur wil ons leerders aanmoedig om na te dink oor dit wat vir hulle spesiaal is van hulle taal – want uiteindelik is dit ’n mens se taal wat jou identiteit vorm – dis wie jy is.