Gemeenskapsradio laat Afrikaans floreer

Maroela Media het vanjaar sy sewende Klankgolf-radioseminaar vir gemeenskapsradiostasies aangebied en Afrikaans.com was daar!

Gesoute omroepers, Coenie de Villiers (fasiliteerder) en Mariëtta Kruger het seminaargangers onder hande geneem. Hier gesels hulle met Clara Olivier van Afrikaans.com.

“Gemeenskapsradiostasies is waar Afrikaans elkedag gelééf word.”

So sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “Hierdie omroepers is elkedag besig om Afrikaans op sy mooiste en kleurrykste manier te praat … dit is hulle wat uitsaai by plaaslike kultuurfeeste, basaars en rugbywedstryde. Hulle help omsien na straatkinders in hul dorpe, help soek na verlore troeteldiere en spring in om boere te help wanneer die nood druk.”

Susan sê gemeenskapsradiostasies en hul passie vir Afrikaans speel ’n belangrike rol in die toekoms van Afrikaans en daarom is Maroela Media trots om betrokke te wees by hierdie hartsprojek.

Die passievolle Su-Ann Műller Marais van Groot FM vertel van die waarde wat hierdie seminaar toevoeg. Sy is ook ’n ambassadeur vir Afrikaans.

Elsje van Jaarsveld, ’n gewilde omroeper by Pretoria FM, gee haar indrukke.

Izaan Reynecke van Maluti FM in die Oos-Vrystaat gesels oor die inhoud en opbouende, verrykende aard van gemeenskapsradioprogramme.

Radiostasies landwyd met ’n gesamentlike luistertal van meer as ’n miljoen mense het die geleentheid aangegryp. Klankgolf word elkejaar gedurende Oktober in die Wes-Kaap en Gauteng aangebied.

Susan Lombaard vertel …

Praktiese radio-aanbieding opleidingsessies is aangebied, wetgewing was onder die loep en die belangrike aspek van advertensieverkope en promosie is aangespreek.

Annelize Britz, bedryfsbestuurder by Maroela Media, het die hoop uitgespreek dat hierdie nuttige inligting wat by die werkswinkel aangebied is, sal afsyfer na spanne by die verskillende radiostasies en dat dit sal bydra tot die gehalte van programinhoud.

Seminaargangers was dit eens dat die kennis wat gedeel is van onskatbare waarde was en dat die netwerkgeleenthede wat hieruit voortspruit tot groot voordeel was van almal wat dit kon bywoon.

Lees meer oor die seminaar hier.

Luister hier na Afrikaans.com se gemeenskapsradioprogram: Afrikaans Aktueel wat weekliks op talle gemeenskapsradiostasies uigesaai word.