Prof Danie Goosen, dr. Danie Langner en dr. Nicol Stassen.

FAK Prestige-toekennings 2018:

Nicol Stassen

Nicol Stassen is op 8 Junie 1963 in Mafeking gebore. Sy kinderjare het hy deurgebring op verskeie dorpe in veral die Karoo, want as landdros is sy pa dikwels verplaas. Dit was híér, in die dorpsbiblioteke, waar sy liefde vir lees gekweek is. Hy het dit as ’n Damaskus-ervaring beskou toe hy vir die eerste keer agtergekom het dat hy self boeke kan lees. Vir die volgende 12 jaar was die hoogtepunt van die week vir hom om na die dorpsbiblioteek of skoolbiblioteek te gaan en die maksimum aantal boeke uit te neem en te verslind. Hy het al die Afrikaanse jeugreekse van daardie tyd gelees, en alle boeke in elke reeks soos Trompie, Saartjie, Keurboslaan, Maasdorp, die Uile, Jasper, en nog meer.

Boeke soos Liewe Heksie was ’n hoogtepunt uit sy prille jeug en dan natuurlik ook Asterix, waarvan slegs enkele boeke in Afrikaans beskikbaar was en hy dié boeke dus in Engels moes lees.

Ná matriek aan die Hoërskool Hangklip in Queenstown, het hy ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Hy het nie net sy graad en honneursgraad met lof geslaag nie, maar uiteindelik ook sy meestersgraad in Chemiese Ingenieurswese verwerf.

Hy het ’n paar jaar lank as ingenieur gewerk voordat hy uiteindelik besef het dat hy nie hierdie loopbaan vir die res van sy lewe wil volg nie. Vir Nicol, wat homself as ’n “beroepsleser” beskryf, was die besluit om ’n nuwe besigheid te vestig as uitgewer en boekhandelaar ’n natuurlike uitvloeisel van sy voorliefde vir boeke en lees. Te midde van politieke en ekonomiese onsekerheid en baie boekwinkels en uitgewerye wat hulle deure sluit, maak hy in 1992 die eerste Protea Boekwinkel in Pretoria oop. Binne 18 maande moes hy sy eerste twee werknemers aanstel en in 1998 het hy ’n groter winkel in Potchefstroom geopen. Vandag spog hy met 15 winkels oor die land heen met take onder meer in Bloemfontein, Parow, Stellenbosch, Soweto en Worcester met sowat 120 voltydse personeel.

Dit het egter nie net by die verkoop van boeke gebly nie. Nicol het gou agtergekom daar is ’n aanvraag vir sekere boeke wat uit druk was en ses jaar later het hy Protea Boekhuis tot stand gebring. As uitgewer herdruk hy FA Venter se Offerland as sy eerste boek.

Tot op hede het hy as besturende direkteur van Protea meer as 1 200 boeke as uitgewer uitgegee. Protea Uitgewers publiseer tussen 90 en 100 boeke per jaar, waarvan die meeste in Afrikaans. Die uitgewery vertaal ook van die wêreld se beste boeke in Afrikaans. Sekere van die ou reekse wat geen ander uitgewery wou herdruk nie, verskyn by Protea Uitgewers in ’n nuwe baadjie, soos die Jasper-reeks van CF Beyers-Boshoff en Karl Kielblock se Lafras Cuyper-boeke. Die uitgewery publiseer ook heelwat Afrikaanse digbundels en dramas. Danksy Nicol se uitgewery praat JR Tolkien se hobbits en Asterix en Obelix ook nou Afrikaans.

Met ook ’n BA-graad in tale met Afrikaans, Duits en Russies as hoofvakke, wat hy in 1992 cum laude aan Unisa slaag, het hy self reeds meer as 30 boeke uit onder meer Deens, Duits, Engels en Nederlands in Afrikaans vertaal.

Dit is egter Protea se digbundels waarop Stassen besonder trots is. Hy glo daarmee is nie net ’n “geweldige verskil” aan die Afrikaanse uitgewerswese gemaak nie, maar ook aan Afrikaans self.

Die geskiedenis lê Nicol ook na aan die hart. Hy het immers sy MA-graad in ingenieurswese met ’n doktersgraad in geskiedenis opgevolg en Protea het twee boeke uitgegee wat uit sy navorsing daaroor gespruit het: Afrikaners in Angola 1928- 1975 en Die Dorslandtrek 1874-1881, wat albei ook in Engels vertaal is. Hy was ook verantwoordelik vir die redigering van William Chapman se herinneringe en ’n boekie oor Duitse bronne van die Anglo-Boereoorlog.

Hy kan beskou word as die Langenhoven van ons tyd waar hy nie net Afrikaans vir die moderne jeug toeganklik gemaak het nie, maar ook die volk laat lees het.

Sy raad aan voornemende skrywers is om baie te lees, en dan selfs nóg meer te lees.

Vanaf 1996 is hy lid, bestuurslid of trustee van verskeie verenigings en trusts, soos die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis, die Orde van den Prince, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die HF Verwoerd Navorsingstrust, die Dorslandtrekvereniging van Suid-Afrika en die Dorslandtrekvereniging Swartbooisdrift, asook die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) en die Langenhoven Gedenkfonds.

Nicol ontvang in 2017 die Tinteltong-toekenning vir ’n uitgewer wat Afrikaans bevorder en in 2018 ’n prestasiebeurs van die Van Ewijck-stigting vir bevordering van kulturele betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika.

Hy is getroud met Chrissie-Jane, ’n musiekonderwyseres. Hulle het drie dogters, Talita, Liesl en Anna, en ’n seun, Nicol.

Al wentel sy lewe om boeke, is hy ook baie lief vir musiek en reis.

Nicol word vereer met die FAK Prestige-toekenning vir die uitsonderlike bydrae om Afrikaans deur die uitgewersbedryf te bevorder en uit te bou.