En die wenners van Tinteltong 2018 is …

Die Tinteltong-toekennings vind jaarliks op Internasionale Moedertaaldag, 21 Februarie, plaas. Daar word met die toekennings gefokus op Afrikaanse entrepreneurs wat met hul unieke Afrikaans in die volgende kategorieë meeding: Hierdie entrepreneurskompetisie word aangebied deur Afrikaans-Vriendelik wat in 2016 bekendgestel is en erkenning gee aan Afrikaanse ondernemings en hul dienste gratis bemark.

  • Onderneming met die oorspronklikste Afrikaanse naam
  • Onderneming met die oulikste Afrikaanse slagspreuk
  • Beste logo-ontwerp
  • Smullekker Afrikaanse kos
  • Soetste nagrus
  • Afrikaans-vriendelike diens
  • Vriendelikste e-kope aanlyn of blog
  • Afrikaans-Vriendelike sosiale media
  • Uitgewer of boekwinkel wat Afrikaans bevorder
  • Onderneming met die mees unieke Afrikaanse produk
  • Onderneming wat die meeste doen om Afrikaanse humor te bevorder

Die wenners …

Oorspronklikste naam: STREEPSAK

STREEPSAK, gebaseer in die vriendelike (maar dikwels winderige) Baai, kry hul inspirasie uit die Suid-Afrikaanse erfenis en die talentvolle span loop oor van kreatiwiteit. Hier kry jy enige iets van handsakke, ponchos, tafellopers, papier-plekmatjies tot doilies!

Afrikaans-Vriendelikste slagspreuk: Al 3 Boerdery

“Proe die Verskil van Natuurvriendelike Boerdery!”
Al 3 Boerdery bestaan al vir amper 40 jaar en is trots Afrikaans! Hier is ‘n boerdery wat in harmonie met die natuur leef en hul vars produkte smaak na meer.

Beste logo-ontwerp: Magies vol Liefde & die Trippeltoontjies-toekenning

‘n Goeie begin is half gewin. En waar beter om te begin as by jou kleinding? Magies vol Liefde is die geesteskind (-baba) van ‘n ma van drie spruite. Hier kan jy vars, tuisgemaakte babakos vir jou lekkerbekkige kleinding bestel. So leer jou kinders van vroeg af reeds gesond eet.

Kyk hier …

Smullekker Afrikaanse kos: De Vette Mossel

By die Vette Mossel (Hartbeespoort,Groot Brak & Parys – die een in die Vrystaat!) is eet ‘n ervaring en stap jy weg met meer as ‘n vol maag (jy het ook sand in jou skoene) – en jy maak sommer nuwe vriende ook! “Niks raak ooit op nie – die ergste wat kan gebeur, is dat nog seekos op pad is!”

Afrikaans-Vriendelikste produk – eie aan Afrikaans: Is Moz Bos

Hier is nou ‘n produk vir die wat hou van die buitelewe … en kamp. Die mense by Is Moz Bos reken almal behalwe muskiete hou van hulle seep. Hulle sonblok keer ook dat jou babasagte vel verbrand onder die warm Afrika-son.

Afrikaans-Vriendelikste sosiale media: De Afrikander Handelshuis

As jy reken jy kort bietjie kultuur – dis nou Afrikan(d)er-kultuur, is De Afrikander Handelshuis die plek vir jou. Met hulle produkte kan jy vreesloos leef en met jou identiteit op jou mou (of bors, of beker …) loop.

Kyk hier …

Uitgewer wat Afrikaans bevorder: LAPA-uitgewers

LAPA-uitgewers “luister na hul lesers”. LAPA, hoewel lank in die land, is beslis nie lank in die tand nie … In dié boekehuis kry jy lekker stories, in ‘n verskeidenheid genres. En boonop gee hulle vir hul skrywers (en lesers) om.

Kyk hier …

Maak snaaks in Afrikaans: IDEES-VOL-VREES

Van IDEES-VOL-VREES -strokies en -boeke, tot Antiegriet- en Afrilol-produkte – hier hoef jy jou nie self te ernstig op te neem nie. Kobus Galloway laat die nasie weer lag.

Soetste nagrus: Aandbloem Gastehuis

As jy weer slaapplek soek en nie by familie en vriende wil plak nie, kan jy gerus maar gaan kop neerlê by Aandbloem Gastehuis.in Eldoraigne, Centurion. Dis luukse verblyf met hart.

Foto wat Afrikaans praat: Conrad Theron

Kyk hier …

Afrikaans-Vriendelikste diens: Funky Ouma

‘n “Funky” ouma van 10 kleinkinders, wat in plaas van aftree, op 67 besluit het om saam met haar dogter haar eie handelsmerk te begin. Hier kry jy plaasvars, kruiegevulde soute en speserye – vir daardie soet-soutkombinasies.

Kyk hier ...

Vriendelikste e-kopie: Mooi Leefstyl

Ons lees dikwels in die ‘Hoekie vir eensames’ dat die persoon hou van ‘alles wat mooi is’. Wel, dalk kan die troostantes hulle nou verwys na Mooi Leefstyl se webblad. Hier lees jy meer oor modes, eetplekke, wegbreekplekke, resepte, bekendes en meer … maar dis alles mooi!

Innoverende produk: Boeremeisie Beeldskoon

Hoë kwaliteit skoonheids- en gesondheidsprodukte ‘affie plaas af’. Kaalvoet prinses, Niah Malan van Boeremeisie Beeldskoon, is skaars ‘n tiener, maar dié boeremeisie van Sterkrivier is reeds ‘n entrepreneur en loop met ‘n kop vol planne vir die toekoms.

Wie is Afrikaans-Vriendelik?

  • Afrikaans-Vriendelik is een van vyf inisiatiewe van AfriVriendelik, ‘n inisiatief van AfriForum. Die ander is AfriKlets, waar AfriForum-lede mekaar kan ondersteun en eenmalige versoeke kan rig of aanbied, AfriVriendelik-opleiding, die Tinteltong Toekennings en die entrepreneurskompetisie.
  • Afrikaans-Vriendelik is ‘n inisiatief waar verbruikers sakeondernemings, op ‘n webplatform kan opspoor.
  • Afrikaans-Vriendelik is nie net vir Afrikaanse ondernemings nie, maar ook vir Engelse ondernemings wat hulle dienste ook in Afrikaans aanbied. Dié platform is nie net tot voordeel van verbruikers en ondernemers nie, maar tot voordeel van Afrikaans.
  • Afrikaans-Vriendelik is tot diens van kliënte asook klein én groot sakeondernemings regoor Suid-Afrika

* Vir verdere navrae, stuur ‘n e-pos aan afrikaansvriendelik@afriforum.co.za. Nominasies vir Tinteltongtoekennings 2019 is reeds oop. Stuur ‘n e-pos aan Sanderien@afriforum.co.za.