Dit is Vrouemaand en HemelBesem klim in met ‘n Ystervuis

Augustus is Vrouemaand. HemelBesem vestig weereens die aandag op geweld teen vroue

Op 9 Augustus vier ons Nasionale Vrouedag. Geweld teen vroue en kinders is ’n toenemende probleem wêreldwyd en die statistiek in Suid-Afrika skets ’n donker prentjie. Ambassadeur vir Afrikaans, Simon Witbooi (HemelBesem), bring met hierdie video van sy enkelsnit, Ysterhand, hulde aan baanbrekervroue en vestig weereens die aandag op geweld teen vroue.

“Ek is potblou en die pottebakker is jy … Jou ysterhand is tralies wat my binne hou … Terugpraat bring my skedelbeen in gedrang …” – uit Ysterhand van HemelBesem

Sê HemelBesem: “Ysterhand is die tweede single op die album en handel oor fisiese geweld teen vroue vanuit ‘n vrou se perspektief. Daarom is die bekende televisie- en verhoogpersoonlikheid Lynelle Kenned ingespan om self voor die kamera haar ding te doen. Stuwi W is weer op die beat en Zunaid Allie agter die kamera sowel as voor die editing suite… ‘n Groot dankie aan Afrikaans.com wat ‘n bydrae gelewer tot die skepping van hierdie belangrike video.”

Vir enige navrae : info@besembos.co.za

Kyk die video hier

Nasionale Vrouedag

“Slaan aan ’n vrou en jy slaan ’n rots …”

Vrouedag bring hulde aan die vroue wat die stryd teen die Apartheidsregering help voer het. Sedert 1994 is die dag ‘n openbare vakansiedag in Suid-Afrika wat jaarliks op 9 Augustus gevier word. Die dag herdenk die dag in 1956 waarop sowat 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het om petisies by die kantoor van die destydse eerste minister, JG Strijdom, in te handig. Die doel was om beswaar te maak teen voorgestelde wysigings aan die Groepsgebiedewet (die paswette) van 1950.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!