Dit is 90 jaar – die FAK hou groot makietie!

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vier vanjaar hul 90ste bestaansjaar in styl en vandeesweek was geen uitsondering nie! Die NJ van der Merwe-beeld is Vrydagaand by ’n spesiale geleentheid in die Liedjietuin by die Voortrekkermonument onthul en Afrikaans.com was daar.

Die onthulling van die NJ van der Merwe-beeld

Vriende van die FAK het kom saamkuier met tradisionele Afrikaanse disse soos koeksisters, roosterkoeke en koffie met kondensmelk. Die klanke van die gesogte Klipwerf Orkes het ook gesorg vir groot vermaak en die harte weer behoorlik laat klop vir Afrikaans.

Daar is ’n glasie geklink op die lewe van die stigterslid en eerste voorsitter van die FAK, NJ van der Merwe. Van der Merwe was tydens die Anglo-Boereoorlog as jong seun in die Norvalspont-konsentrasiekamp in die Noord-Kaap en het later die FAK gestig.

Carin van Ginkel, Van der Merwe se kleindogter, sê die geleentheid ter viering van die nalatenskap van haar oupa, is vir haar ’n groot riem onder die hart.

“Hy het ’n baie groot rol gespeel in Afrikaans in Suid-Afrika en ook om veral jongmense bewus te maak van die taal,” sê sy.

Henry Cloete geniet ’n koppie koffie met kondensmelk.

Jak de Priester en sy seuntjie het ook die geleentheid saam kom geniet.

Die Klipwerf Orkes is deur die FAK vereer vir hul bydrae tot boeremusiek oor die afgelope 50 jaar.

Meer oor die beeld

Die beeld van Van der Merwe is geskep deur Jacques Muller, ’n beeldhouer en kunstenaar van Centurion wat ook die nuwe beeld van Paul Kruger vir sy grafsteen in die Heldeakker gemaak het. Die bronsbeeld rus op ’n stuk sandsteenklip wat eens deel was van die senotaafvloer in die Voortrekkermonument. Daar is ook drie voëltjies (Kaapse kanaries) op die klip aangebring wat simbolies is van Van der Merwe sélf, sy ma en Mina, sy maatjie in die konsentrasiekamp.

Jacques Muller (beeldhouer) en Danie Langner (besturende direkteur van die FAK) langs die NJ van der Merwe-beeld.

Die kinders het hul gate uit geniet met die kondensmelk en koeksisters.

Klipwerf Orkes word vereer

Buiten die onthulling van die beeld, het die aand ook ’n groot verrassing ingehou vir die Klipwerf Orkes wat deur die FAK vereer is vir hul 50 jaarlange bydrae tot boeremusiek in Suid-Afrika.

Gené van Niekerk, een van die lede van die Klipwerf Orkes, meen hulle is oor die maan oor die toekenning. Van Niekerk sê dat funksies soos dié hulle net weer die geleentheid bied om Afrikaanse boeremusiek te bemark.

“Boeremusiek is besig om op die platteland te verval en daarom is dit belangrik dat ons sulke geleenthede kry om dié musiek weer bekend te stel.”

Danie Langner is die besturende direkteur van die FAK en hy het onlangs met Afrikaans.com se Clara Olivier gesels oor die rol en plek van die FAK in die wye Afrikaanse landskap. Die onderhoud het in die baie spesiale FAK-liedjietuin, plaasgevind. Kyk hier.

Hou ons blad dop vir meer oor die FAK se 90 jaar-vieringe.