Die Bo-Kaap en Afrikaans

“Ons geskiedenis maak ons ryk. Was dit nie vir die slawe en die Khoisan nie sou Afrikaans nooit bestaan het nie … Ons taak is baie groot … om die ware storie van Afrikaans wyd en syd te vertel.” – Max du Preez

Die ATKV (Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging) het op Saterdag, 24 Maart (2018), die eerste in ‘n reeks gesprekke aangebied en die invloed van die mense van die Bo-Kaap op die ontwikkeling van Afrikaans was onder die loep.

 

Danny Titus open die gesprek.

“Afrikaans het vele gesigte,” sê dr. Danny Titus (ATKV uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede), “en daarom is dit vir die ATKV belangrik om die verskillende gesigte te verstaan en aan die wêreld te wys. Dié gesprek is deel van ’n hele reeks waarmee die ATKV besig is om Afrikaans se diversiteit te leer ken en verstaan.”

Die gesprek, onder leiding van dr. Danny Titus, het in Kaapstad by Die Kasteel die Goeie Hoop plaasgevind. Max du Preez, Faika Haroun, Doria Daniels, Gava Kassiem en Fatima Allie was die sprekers.

Die verskuiwing en groei in die opvattinge oor Afrikaans hou diep verband met ‘n beter begrip van die herkoms van die taal.

Shariefa Daniels, Doria Daniels, Gava Kassiem, Faika Haroun, Danny Titus, Fatima Allie en René Arendse.

Kyk hier …

Die Bo-Kaap is oorwegend Moslem en talle Kaapse Moslems praat Afrikaans én Arabies, met interessante woorde en gebruike wat vermeng.

Die binnemure van Die Kasteel die Goeie Hoop. (Foto’s: René Arendse)

Beelde voor Die Kasteel die Goeie Hoop.

In 1936 is Die Kasteel die Goeie Hoop tot nasionale monument verklaar.

Die rol van musiek in ons taal- en kultuurbehoud

Faika Haroun gesels oor die musiek en kultuur van die Bo-Kaap.

Faika Haroun het gesels oor haar doktorsgraadnavorsing oor die moppies. Moppies is vervat in tradisionele slaweliedere waarvan heelwat later as Afrikaanse volksliedere bekend geword het. ’n Goeie voorbeeld is “Daar kom die Alibama” met die bekende koortjie “Nooi, nooi die rietkooinooi”.

Die Ghoema Captains sing Daar kom die Alibama

“Musiek het en is steeds ‘n sterk element vir die behoud van ons taal binne die Moslemgemeenskap. Tussen die verdrukking as slawe en die mengelmoes van diversiteit het die moppie ontstaan. ‘n Moppie is ‘n komiese liedjie wat die stories van mense vertel … net soos dit is. Die liedjies is vol humor, maar spreek sosiale kwessies aan. Solank ons dit kan sing, sal ons kultuur voortleef. Die liedjie word geskryf in die taal wat gewone mense elke dag praat.

“Die moppies is deur die slawe gesing, heel dikwels as ’n vorm van protes teenoor die eienaars wat nie altyd verstaan het wat die woorde beteken nie. Die slawe het gou Hoog-Hollands begin meng met woorde en frases uit hul eie tale. Sekere kodes is ingebou dat, selfs al sou die base die woorde verstaan, sou hulle nie weet wat die woorde beteken nie,” het Faika vertel. Sy het ook daarop gewys dat die moppies steeds aanpas en steeds vernuwe. Daar is jaarliks ’n kompetisie waartydens die beste Maleierkore aangewys word en elke jaar verskyn nuwe, aktuele weergawes van dié tradisionele liedere. Tydens verlede jaar se kompetisie was daar drie moppies wat na die droogte in Kaapstad verwys het.

‘Was dit nie vir die slawe en die Khoisan nie … sou Afrikaans nooit bestaan nie’… – Max du Preez

René Arendse en Max du Preez.

Max du Preez het geopen met ‘n huldeblyk aan wyle dr. Achmat Davids wat hom geleer het waar sy Afrikaans eintlik vandaan kom.  Hy wou eintlik die taalmomument in die Bo-Kaap hê … Max het intense navorsing oor die Bo-Kaap gedoen en ook in ’n stadium daar gebly.

“Ons geskiedenis maak ons ryk. Was dit nie vir die slawe en die Khoisan nie sou Afrikaans nooit bestaan het nie … Ons taak is baie groot …om die ware storie van Afrikaans wyd en syd te vertel.”

‘Kom ons lig die sluier: Moslem- Afrikaanse vroue se aktivisme en entrepeneurskap’ – Doria Daniels

Doria Daniels, ‘n professor van die Departement Opvoedkundige Sielkunde by die Universiteit Stellenbosch het gesels oor die “misterie” van die Moslem-vrou. Dis tradisie dat Moslem-mans die verlede tyd inspan om oor vroue te praat, het hulle beslis nie stemloos gelaat nie. Doria beklemtoon dat die Moslem-vroue in hul ‘misterieuse stilte’ die huis bestuur.

“Hoewel die samelewing die man sien as die broodwinner … is dit die Moslem-vroue wat die gemeenskap, die kultuur en die huishouding dra.”

Sy sê die vroue het as kelnerinne, kokke en kinderoppassers kulture oorbrug. Hierdeur het hulle die Hollandse invloede so goed verstaan en was daardeur in staat om die formele en informele sektore stil-stil binne te dring met hul gebak en gebrou en so in sterk entrepreneurs te ontwikkel.

Doria het ‘n beroep gerig dat die sluier gelig word oor Afrikaanse Moslem-vroue … “sien hulle waarde en rol in die behoud van kultuur en taal. Tramakassie! (Baie dankie!)

‘Stiefkinders van Afrikaans’ – Gava Kassiem

Gava Kassiem.

“Ons voorvaders was slawe van o.a. Indonesië, Java, Indië, Pakistan en die Midde-Ooste. Ons voorvaders het Arabies en Maleis gepraat en wou ‘n taal praat wat die Hollanders nie verstaan nie … so het Arabiese Afrikaans ontstaan.  So word woorde soos blatjang, piesang, piering , ens. steeds gebruik … woorde oorgeplant uit Arabies …”

‘My loop-terug-na-Afrikaans’ – Fatima Allie

Fatima Allie (in die middel) saam met haar oupa, Salie.

Fatima Allie.

Fatima Allie, ’n ambassadeur vir Afrikaans.com, ’n kommunikasiebestuurder, kosboekskrywer en boonop ’n direksielid van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), se persoonlike vertellings het die gehoor aan haar lippe laat hang.

Fatima sê sy is ’n Moslem wat Arabies nie juis goed kan praat nie, hoewel sy dit kan lees.

“Toe ek klein was, het mense Arabies en Afrikaans in die Bo-Kaap gepraat. My ouers en die ander grootmense was onbeskaamd Afrikaans – in hulle plekke van aanbidding is Arabies gehoor, maar in hulle kombuis is Afrikaans gepraat.”

Sy sê sy noem dit haar “loop-terug-na-Afrikaans omdat haar ouers haar in ‘n Engelse skool geplaas het. Fatima praat met passie oor die gemeenskap en kultuur van die Maleiergemeenskap. Ons het grootgeword in ‘n gemeenskap waar almal saam woon en almal saam eet.

Die gesels het egter nie opgehou toe die amptelike verrigtinge verby was nie, en ’n lewendige gesprek om ’n lang tafel is gevoer. Vele gesigte. Een taal. Trots Afrikaans.