Die ander kant van Kersfees

Dit is weer daardie tyd van die jaar. Vir die afgelope vyf maande kry jy al ligte hartkloppings hieroor.

Die nuus het reeds in Mei gekom: Kersfees word vanjaar wéér by jou huis gevier. Jy is vyf gryshare en drie spatare ryker na die aankondiging. Daar gaan jou huisie by die see. Jy gaan nou al op 40 moet aftree van al die spanning.

Die res van die familie het al in Januarie verskonings opgedis: Jou skoonsuster se dak lek, jou broer se hond het vlooie en jou swaer se potplante is sensitief vir geraas.

Nietemin stem jy in; dis mos maar wat familie doen. Jy is verantwoordelik vir sewe verskillende vleisborde, vyf slaaie en die gemoedstoestand van sowat 18 gaste.

Die hele familie het besluit om te kom: Dié wat jy ken, dié wat jy nie ken nie en dié wat jy nie wíl ken nie.

Vir maande berei jy voor. Nie eers die Kook en Geniet help nie. Jy kook, maar jy geniet niks. Jy het nog nooit vantevore koekstruif gemaak nie. Dit klink in elk geval effens verkeerd.

Uiteindelik breek die groot dag aan. Dis is voor agt die oggend en jy oorweeg reeds ’n interdik teen jou skoonma en moord op jou man. Teen sy sin het jy hom in ’n baie noupassende Kersvader-gewaad gedwing. Meer pens as mens sou jy kon sê. Van ver af lyk hy soos ’n bloedklont.

Uiteindelik daag die familie op. Hulle is ingeprop en uitgedos in dergelike skakerings van rooi en groen. Al wat ’n rekstof is word ingespan om die kurwes van laas Kersfees te bedwing.

Jy weet nie wie sweet méér nie: die gammon onder daardie kleefplastiek of jý nie.

Daar is nie ’n frikkadel in hierdie land wat die geleentheid ontsnap het nie. Hulle lê so styf teen mekaar, jy verwag ’n klag van betasting. Al wat ’n worsie is, deel ’n stokkie met ’n kasie en iemand het dit sleggedink om aspersies te bring (Kersfees is mos nie traumaties genoeg nie).

Die gaste het skaars opgedaag toe begin dinge skeefloop: die trifle bewe, jou kind is allergies vir plastiekbome en Kersvader se onderste knoop wil nie toe nie.

Tog hou jy moed. Gelukkiger tye kom mos altyd in die vorm van ’n klein pakkie onder die Kersboom.

Verkeerd.

Jou 7-jarige is diep geruk. Dis toe nou nie die dubbelkajuit-Hilux-bakkie wat hy verwag het nie. Wat ’n teleurstelling. Na sy verwonding glo hy nou nie meer in Kersvader, die tandemuis of Sondagskool nie.

Almal moet nou maar net verstaan: jy kon nie daardie een-vir-die-prys-van-twee-winskopie op seep mis nie.

Na wat voel soos vyftig ure, besluit die familie uiteindelik om te loop. Jou skoonsuster klim in haar Merc. Sy praat so baie daaroor, jy ken al die hele onderstel. Jou broer kry sy kroos van ses bymekaar, want “vyf was net nie genoeg nie”. Let wel, twee van hulle is steeds soek na verlede Kersfees.

Party ry by die hek uit. Ander vlieg … op hul besems.

Vir die eerste keer sedert Mei, kan jy asemhaal. Jy staar in afgryse na alles om jou: die vuil kombuis, die gat wat jou susterskind in die leerbank gebyt het en jou lus vir die lewe wat op die vloer lê.

Net vir ’n oomblik besef jy: Dit gaan nie oor jóú nie. Vir daardie een dag in die jaar gaan dit nie oor die kwaliteit van die olywe, die skakering van die tafeldoek of die hoeveelheid keer wat jou kind sy vinger in die hoenderpastei gedruk het nie.

Dit gaan oor familie. Jy kan hulle nie kies nie. Hulle kan jou nie kies nie.

Voor jy jou oë uitvee is dit 25 Desember 2019. Ag weet jy, dan doen jy dit sommer weer! Nie omdat jy moet nie. Omdat jy wil.

Ns. As iemand wel weet van goedkoop vlugpakkette na Zanzibar volgende jaar Desember, stuur dit maar gerus in hierdie rigting.