Die Afrikaans.com-blog: Toe vra hy of ek al gedek is …

Nuwejaarsvoorneme is soos puisies in jou jeug. Almal het dit.

So val ek toe maar in by die skaapkultuur en dink hard aan ’n leë belofte vir 2019. Niks klink volhoubaar nie. Oefening gaan teen my geloof (mens hyg nie in die publiek nie) en ek gaan beslis nie my porsiegroottes in 2019 aanpas nie.

Uiteindelik dis ek iets op: Ek gaan volwasse wees!

Fiasko. Drie-bedryf drama in wording.

Die eerste stap is blykbaar om ’n mediese fonds te kry. Hulle sê dis wat jy moet doen as jy nie op 30 wil doodgaan nie. Hulle sê ook dis wat jy móét doen as jy op 30 wil doodgaan.

Deesdae word alles telefonies gedoen. Ek verkies eintlik ’n fisiese ontmoeting. Geld dit nie maar vir almal as ons 24 en enkellopend is nie?

Ek word deurgeskakel na verskillende mense. Daar speel musiek in die agtergrond. Dis die tipe slapseks-musiek wat jy in Jet hoor as jy ’n paar tights oorweeg wat jou bene soos opgestopte jong polonies gaan laat lyk na die eerste was.

Uiteindelik antwoord ’n jong, hubare man aan die anderkant.

“Mevrou Van Schalkwyk?”

“Mejuffrou… dis mejuffrou Van Schalkwyk.” Die man moet weet.

Ek noem dat ek tans by ’n mediese fonds aangesluit is.

“So u is reeds gedek?”

(Wel, nee, ek glo nie in voorhuwelikse seks nie.)

Hy het omtrent ’n stem vir radio. Ons kan maar net hoop hy het nie ’n gesig vir radio ook nie. Hy noem dat die gesprek opgeneem sal word vir sekuriteitsdoeleindes.

(Ek koop dit nie. Hy gaan vanaand in sy bed lê en daarna luister.)

Verder waarsku hy dat die vrae moontlik persoonlik kan wees.

(Sjoe, wil hy my nie eers op ’n eerste date vat en my ouers ontmoet nie?)

Sy vrae kom vinnig, asof hy dit iewers aflees (hy is seker gespanne oor ons eerste ontmoeting).

“In watter mediese plan stel jy belang?”

(Die goedkoopste een.)

“Is jy getroud, in ’n verhouding of enkellopend?”

(Dink hy nie ons moet eers vriende wees nie? Hy klink oulik, maar het sy pa ’n wildsplaas?)

Nietemin antwoord ek: “Dis gekompliseerd. Hy bly ver. Ek en sy hond het ’n uitval gehad. Hy braai met charcoal in plaas van hout. Dis alles baie moeilik vir my.”

“Enige hartsiektes?”

(Ja, my hart is gebreek ’n paar maande gelede. Ek en hy praat darem nou weer oor Whatsapp.)

“Enige allergieë?”

(Ek het nie ’n verdagte uitslag onder my regtertoon nie as dit is wat hy wil weet.)

“Enige bloedvloei?”

(Elke maand, ja… Dinge raak nou ernstig. Ek dink hy wil kinders hê. Ek wonder hoe voel hy oor aanneming.)

“Is jy swanger?”

(Nee, dit was net ’n groot middagete.)

“Enige chroniese siektes?”

(Ek is chronies enkellopend, ja.)

Hy voeg by dat die betrokke plan afslag bied op semen-preservering.

(Dis nou ’n bonus. My prostaat klap hande.)

Hy noem ook dat soek- en reddingspogings nie gedek word nie.

(In daardie geval sal ek maar moet ophou draf. Mens weet nooit.)

Dan kom die gevreesde vraag:

“As jy ’n paar rand ekstra betaal kan jy afslag kry op gesonde peuselhappies.”

(Daar is baie dinge aan daardie sin wat my pla: die verkleinwoord “happie” – ek verkies “hap” – en wat presies bedoel hy met “gesonde”? Ek soek details.)

“Jy kry ook 75%-afslag op gim-lidmaatskap.”

(Ek knip maar ons gesprek kort. Hy ken my duidelik nie.)

Uiteindelik, na sowat vyf uur en dertig minute, het ek by die kult aangesluit. Ek begin dink aan al die moontlike siektes wat ek nou kan kry. Hoe opwindend. Ek gaan slaap sommer vanaand met nat hare.

O, en Rasperstem het nie weer gebel nie. Die storie loop hy bel gereeld ander mense en vra of hulle gedek is. Hoe vieslik.