fbpx

16 April 2020
Deur Sybrand Harris

Covid-19: ’n Hulpkreet van Moeder Aarde

Die wêreld soos wat ons dit ken het tot stilstand gekom. Lande sluit grense, karre staan in motorhuise, winkels sluit hulle deure, mense sterf, hospitale bars uit hul kosyne, histerie oor toiletpapier heers, die strate is stil en almal keer inwaarts.

’n Virus het uitgebreek en onderskei nie tussen ras, taal, geloof, oortuiging of afkoms nie. Aardbewoners bly in die slag. Iets het ons universeel gemaak. ’n Wêreldpandemie het ons saamgebind.

Hoor jy dit? ’n Wêreldpandemie het ons saamgebind, moes ons oor een kam kom skeer. Moes ons terugdwing na ’n besef van sterflike menslikheid.

En wat doen ons in aanvanklike reaksie hierop?

Ons is kwaad. Ons wys vingers. Ons voel ontwrig, verontrief, benadeeld, want ons is die slagoffers. Iemand moet die skuld vir hierdie gerieflikheidsabotasie dra!

Dis die Sjinese! Dis die Amerikaners! Dis die Italianers! Dis die regering! Dis die mense wat reis! Dis die mense wat nie tuis bly nie! Dis die vrou langs my wat oor die piesangs genies het!

Op die radio hoor ek ’n ekonoom sê: “Daar gaan meer besighede as mense sterf.” Ek kry byna ’n ligte floute op die N4 (nog voor inperking op pad werk toe). Hoe tref jy ooit daardie vergelyking?

Ek verstaan volkome die impak wat die vallende ekonomie op mense se lewensbestaan gaan hê en tot ’n groot mate reeds het.  Geld is gelyk aan oorlewing.  Maar, ek sukkel om te begryp hoe ’n besigheid se deure wat toemaak as gevolg van inperking parallel getrek kan word aan ’n persoon wat omkom omdat daar nie nog ’n ventilator beskikbaar is nie.

Nietemin is daar egter ’n kritiese besef wat nie by die mensdom insink nie:
Die rede waarom die pandemie in ons skoot lê, is juis omdat ons voortdurend vinger wys en die skuld by ander soek. Ons soek gulsig na geld en mag, besetting, rang en aardse goed. Daarom word ons verpletter deur hierdie werklikheid wat ons tans beleef en plaas ons die skuld op alles en almal, behalwe op onsself.

Nee, as bewoners van die aarde, as die mensdom, moet ons hierdie virus dra. Ons moet verantwoordelikheid neem vir die kernoorsaak oor hoekom Covid-19 hier is.

Die natuur probeer voortdurend om alles in ewewig te bring; herstel te bewerkstellig sodat daar genoegsame hulpbronne vir ons is om te oorleef.

Die feit is: Die natuur kán ons nie meer dra nie!

Daarom, as ons net klakkeloos voortgaan om onverantwoordelik en onnadenkend op te tree en die aarde uit te put, sal die aarde balans probeer handhaaf, hetsy deur ’n virus, ’n brand, ’n vloed, droogte, of ’n ramp!

Dis nie wraak nie. Dis ’n noodkreet!

Hier neem die aarde ’n blaaskans. Die mensdom se ekologiese voetspoor is eksponensieel verminder deur alles en almal wat stilstaan. Die aarde vind opnuut sy ewewig.

En hoe kan ons, na ons eie “blaaskans”, onveranderd voortgaan? Ja, die wêreld sal in die toekoms weer normaliseer, maar na watter normaal?

Ons moet selfondersoek instel en ’n ander normaal nastreef. Op alle vlakke.

Die regering sal moet aandag skenk aan effektiewe openbare vervoerstelsels, en ons sal daarvan gebruik moet maak. Instellings en huishoudings sal moet begin herwin en almal van ons, jonk en oud, sal opgelei moet word in hoe om effektief te herwin. Verskaffers sal plastiek uit hulle kosverpakking moet sny en verbruikers sal kos in plastiek moet begin boikot. Supermarkte sal noodgedwonge minder produkte moet invoer en ons sal ons plaaslike ondernemings en produkte moet begin ondersteun. Ons sal moet  begin belê in volhoubare energie soos sonkrag en verskaffers sal versigtig moet wees om nie die publiek uit te buit nie.

Ons kan hande vat (ten minste nou eers figuurlik) en saamgebind word deur ’n gemeenskaplike verantwoordelikheid en respek vir die aarde. ’n Volgende ramp is nie nodig om dit te bewerkstellig nie!

Aldus Dave Pepler: “Kom ons gebruik die katastrofe, die pandemie, om te besin hoe ons met die aarde omgaan. Elkeen van ons. As ons in ons huis sit, geïsoleer, dink duidelik en helder waarom dit gebeur het en verander jou voetspoor. Verander jou gebruik. Verander jou lewenspatroon.”

Luister gerus hier na ‘n kort, insiggewende podsending van Dave Pepler op RSG.


Wie is Sybrand Harris?

Sybrand het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Ermelo voltooi waarna hy by die Onderstepoort-kampus in Pretoria aangesluit het vir sy studies in Veaartsenykunde. Aan die einde van 2019 het hy sy graad gekry en vandag woon hy steeds in Pretoria, maar werk in Mpumalanga waar hy sy verpligte gemeenskapsdiensjaar doen.  Tussendeur werk hy aan sy Meesters in Kleindier Geneeskunde en skryf ook vryskut rubrieke.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.