Jana Luther

Jana Luther is ’n taalwerker en leksikograaf. Sy is redakteur van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT) en senior taalpraktisyn by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, waar sy tans onder meer aan ’n Algemene Afrikaanse Grammatika skryf.

Van Bologna tot Benoni

Toe die verband tussen vleisfabrieke en listeriose onlangs blyk, is polonie snel van winkelrakke verwyder. Rykes sê “nie weer nie”, maar dat werkersklasverbruikers dié stapelkos gaan vermy, is onwaarskynlik. Leon Schuster sing nie verniet nie: “Ag, man, moenie moan nie, eet jou kaas en jou polonie.”

Sonder “Franse” polonies en penniepolonies (die kleintjies met die deursnee van ’n outydse muntstuk) kom senteomdraaiers en randrekkers moeilik klaar. Vir baie mense is ’n kota of sephatlo – ’n kwart- of halwe brood gestop met polonie, slaptjips, atjar, en nog meer – koningskos.

Waar die “Franse” vandaan kom, kon ek nie vinnig vasstel nie, maar die oorsprong van dié wors, wat enigiets van gehaltebees- en vark tot afval kan bevat, afhangende van waar ’n mens dit koop en wie dit gemaak het, is nie Frankryk nie. In die 17de en 18de eeu, in Amerika, het Europese immigrante balogne geëet; ook baloney, of boloney. ’n Verbastering van Bologna, die Italiaanse tuiste van die salpeterpienk mortadella – in 1376 reeds die trots van dié stad se worsmakersgilde. Tamaai, maar delikaat; van ekstra fyn gemaalde vark; gekook en lig gerook; gegeur met sout, peperkorrels, suiker, stukkies spek; soms ook pistasieneute, knoffel en olywe.

Nes sjerrie, van die Engelse sherry, ’n verknoeide vorm van die Spaanse jerez is (genoem na die streek Jerez de la Frontera, in Andalusië), kom polonie van Bologna. Behalwe dat ons s’n ’n treurige namaaksel is. Die Nederlanders praat van “boterhamwors” – toebroodjiewors. Maar die verdoemendste beoordeling van ons kammamortadella is straks die Amerikaanse baloney, wat naas ‘wors’, ook ‘bog’ of ‘onsin’ beteken. “Pretentious nonsense”, sê Merriam-Webster.

Kan ons polonie ook só gebruik? Figuurlik? Die HAT en die WAT swyg, maar VivA se korpusse wemel van poloniegesegdes!

“Man, al is jy ook die Poloni van Benoni!” Gesê aan iemand met ’n hoë dunk van homself. ’n Potjierol? Dié lyk soos ’n gestopte polonie. Wanneer die bepoeierde tannie David Kramer om die lyf vat, druk sy hom ongetwyfeld met “poloniearms”.

Polonierooi en poloniepienk is woorde. In 2004 sê Ebrahim Rasool: “Mense moenie langer soos die polonie in ’n toebroodjie voel nie.” Vir Engels se “more than one way to skin a cat” is daar “meer as een manier om ’n polonie te sny”. Die beeld van ’n polonieskil en poloniesny kry ek dikwels: ’n “poloniesnyvoorsprong” hê; daar was “nie plek vir ’n polonieskil” tussen hulle nie.

Oor ’n predikant wat traag huisbesoek doen, maar ywerig toere reël, google ek: “Sy diens aan sy gemeente is maar polonieskil-dik”. Iemand beweer dat ’n kerk “poloniechristene” maak: “hulle in die aannemingsmasjien sit en wanneer hulle sestien is, van hulle lidmate maak”.

In plaas van “mincemeat” kan jy van iemand polonie maak.

Oor “polonieponie” swyg ek liewer, want gee ’n mens jou vir ’n polonie uit, moet jy verwag om gekerf te word.

Jy kan ook na ’n podsending van hierdie blog luister.

Lees nog VivA-blogs hier.

Klik hier vir interessante VivA-podsendings.

Laai die VivA-luitoon hier af.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!