Bewaar ons taal- en kultuurerfenis met ’n digitale biblioteek

22 September 2017

“Deur die bewaring van ons erfenis sorg ons dat die draad wat deur ons geskiedenis loop sigbaar getrek word en aan toekomstige geslagte oorgedra word.” – Prof Wannie Carstens, direkteur van tale aan die Noordwes-Universiteit.

Het jy al vir ’n oomblik daaraan gedink dat sonder bewaring, ons geen idee sou gehad het hoe dinge in die verlede gebeur of gelyk het nie? Ons weet alles wat ons van die geskiedenis weet danksy artefakte, geskrifte, dokumente en foto’s wat op een of ander manier behoue gebly het of met die nodige insig gedokumenteer is vir die volgende geslag, dikwels in museums en argiewe. In ’n kitssamelewing waar alles eensklaps moet gebeur en talle gedrukte publikasies plek moes maak vir aanlyn weergawes, is die vraag of daar steeds seker gemaak word dat ons ’n nalatenskap vir die nageslag agterlaat.

Die grootste uitdaging is om op tegnologiese gebied by te bly met digitalisering en skandering en die nodige klank-en beeld-digitaliseringsfasiliteite vir elke tipe materiaal wat daar is, te voorsien.

Die totstandkoming van ‘n digitale biblioteek vir Afrikaans

Gedurende Augustus het die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), Noordwes-Universiteit se projek rakende die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) en die biblioteek van die Universiteit van Pretoria se Open Scholarship-afdeling rolspelers wat gemoeid is met, of belang het by die digitisering van Afrikaanse bronne, na ʼn gespreksgeleentheid genooi om die bal aan die rol te kry.

Van die sprekers was:

Prof Gerhard van Huyssteen – Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) – wat deur die opbou van ‘n tekskorpus ‘n belangrike rol vervul.

Dr Leti Kleyn van die Open Scholarship and Digitisation Programmes, Universiteit van Pretoria – ‘n kenner op die gebied van die opbou van ʼn digitale argief.

Prof Wannie Carstens wat van meet af aan betrokke was by Digitale Bibliografie van Afrikaans (DBAT), NWU en wat waardevolle insigte oor die proses kon deel.

Cees Klapwijk (Koninklijke Bibliotheek Nederland) en tot 2015 direkteur van die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren (DBNL) wat saam kon gesels oor die proses en betrokke bly vir ondersteuning.

Deelnemers so ver as die Wes-Kaap, Vrystaat en Gauteng het die gesprek bygewoon en aanbiedings oor hul projekte gelewer.

Die gesprek het die vorm van ‘n kollokwium aangeneem en daar is besin oor die geïntegreerde en gekoördineerde bestuur van die digitiseringsproses. Veral die volgende was onder die vergrootglas:

  • Watter organisasies digitiseer tans Afrikaanse bronne op die een of ander wyse?
  • Watter Afrikaanse bronne is reeds gedigitiseer?
  • In watter formaat is hierdie digitale Afrikaanse bronne beskikbaar, en aan watter formate is daar ʼn behoefte?
  • Watter digitiseringsinisiatiewe oorvleuel en behels duplikasie?
  • Watter behoeftes rakende digitale Afrikaanse bronne bestaan daar?
  • Watter samewerkingsgeleenthede kan geïdentifiseer word om die digitisering van Afrikaanse bronne optimaal te bestuur ten einde onnodige duplisering en oorvleueling te vermy en veral hulpbronne te deel en te bespaar?

Die konteks …

Volgens dr. Adri Breed, senior lektor Afrikaans-Nederlands aan die Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, is daar verskeie nasionale en internasionale instansies wat tans om verskeie redes Afrikaanse materiaal (byvoorbeeld taal- en letterkundige werke, kultuurhistoriese materiaal, akademiese naslaanwerke en argiefmateriaal) digitiseer. Tot dusver is daar nog geen bestekopname gemaak van al hierdie verskillende digitiseringsinisiatiewe nie, en die vermoede bestaan dat daar in hierdie verband heelwat duplisering en oorvleueling plaasvind (wat weliswaar al bevestig is deur kontrole in van die databasisse).

“Uit die kollokwium was dit duidelik dat daar kosbare argiewe van Afrikaans bestaan met waardevolle navorsings- en bewaringsmateriaal. Die argiewe is egter dikwels nie bekend aan die breër taalgemeenskap nie, en boonop nie op so ‘n manier ontsluit dat dit werklik as ‘n bron van navorsing ontgin kan word nie. Die volgende duidelike stap is dus dat hierdie argiewe digitaal ontsluit moet word.”

Neem van hande …

Om Afrikaans se tasbare erfenis op so ’n holistiese basis te versamel en te bewaar, is ‘n enorme taak aangesien daar deur die jare omvattende versamelings opgebou is, nie net deur akademiese en ander bewaringsinstellings nie, maar ook in private versamelings. Dit word op verskillende plekke en in verskillende vorme sorgsaam gestoor en versorg. Dit sluit in: uitgebreide boekversamelings, manuskrip- en dokumenteversamelings, koerant- en tydskrifknipselversamelings, bladmusiekversamelings, plakkaat en programversamelings, uiteenlopende kunsversamelings, foto- en oudiovisuele versamelings, selfs tekstiel- en teaterkostuumversamelings, ’n meubel- en voorwerpversameling van bv. meublement uit outeurs se werkruimtes en dan nietasbare versamelings wat op rekenaars in verskillende formate geberg word.

’n Gebrek aan mannekrag en fondse om alles te doen wat hulle graag sou wou doen, is natuurlik ‘n groot uitdaging en tydens die gespreksgeleentheid is aangedui dat die organisasie, SADiLaR, ‘n geskikte organisasie is om instansies/individue wat oor argiewe beskik, in hierdie taak by te staan.

Hierdie digitiseringsprojek gaan tyd neem om te realiseer. Prof. Wannie Carstens, wat reeds die afgelope 23 jaar betrokke was by die oprig van ‘n Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) sê dit was ‘n voorreg om instrumenteel te wees in die opstel hiervan. Meer as 17 000 bronne is opgeteken waarvan meer as 13 000 in volteks beskikbaar is. Dr. Adri Breed neem nou by hom oor.

Dr Adri Breed

Indien jy dus weet van ‘n versameling Afrikaanse argiewe wat tans nog nie toeganklik is vir ander gebruikers nie (byvoorbeeld omdat daar nog nie ‘n katalogus opgestel is van die bestaande bronne in die versameling nie, of omdat die bronne nog nie gedigitiseer is nie), kan jy gerus met die organiseerders van die pasafgelope kollokwium kommunikeer. Hulle sal jou dan in kontak bring met SADiLaR. Kontak vir dr. Adri Breed by +27 (0)18 299 1563,
Faks: 27 (0)18 299 1562 of e-pos: Adri.Breed@nwu.ac.za

Meer oor Erfenisdag …

Erfenisdag is ‘n publieke vakansiedag wat jaarliks op 24 September in Suid-Afrika herdenk word. Voor 1994 was die dag as Shakadag bekend, waartydens Zoeloes hulle koning herdenk het. Ná demokrasie-wording is dit omskep in ‘n dag waarop alle kulture hulle eie erfenis kan herdenk. Dit het egter gou as Braaidag bekend geraak.

Dit is aan die Department van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, as beskermer van Suid-Afrika se kultuur, opgedra om jaarliks byeenkomste op ‘n nasionale vlak vir Erfenisdag te reël en te bestuur. Die eerste Erfenisdag was op 24 September 1995.

Erfenisdag gaan egter nie net oor die eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar veral ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen. Elemente van nasionale eenheid, nasiebou, versoening en landspatriotisme moet dus benadruk word. Die doel is ook om veral die jeug aan te moedig om Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis in ere te hou.

Erfenis is al omskryf as “dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, musiekstukke, mondelinge tradisies en museumversamelings saam met hul dokumentasie.”

Afrikaans vier Erfenisdag so …

Afrikaans is #onmisbaar op Erfenisdag – Pieter Cloete gesels met bekendes.

Maak ’n ander soort vuur hierdie Erfenisdag by die Taalmonument in die Paarl
Om Erfenisdag op eerskomende Sondag, 24 September, te help vier, sal ‘n spesiale kanonafvuring by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl plaasvind, met ‘n besoeker wat kans kry om ‘n Halfponder (1770 Armstrong) te vuur. Die afvuring, wat ook elke laaste Saterdag van die maand plaasvind, is deel van ‘n reeks wat in samewerking met die Cannon Association of South Africa (CAOSA) aangebied word.

Die geleentheid begin met ‘n kort gesprek oor die geskiedenis van Suid-Afrika se kanonne voordat die kanonnier ‘n vraag met betrekking tot die praatjie sal vra. Die lid van die publiek wat korrek antwoord, kan dan die kanon vuur, waarna die vereniging ‘n sertifikaat uitreik as bewys dat hierdie persoon dit gedoen het. Die kanon is net met kruitpoeier gelaai, dus is daar geen projektiel nie.

Volgens kanonnier Riaan Conradie, wat die demonstrasies by die monument behartig, beskik Suid-Afrika oor een van die grootste verskeidenheid voorlaaierkanonne in die wêreld. Lees meer …