ATKV-Skryfskool 2019

Voornemende skrywers, skud jul vere reg vir die Winter!

34 jaar nadat die eerste Herfsskryfskool op Potchefstroom aangebied is (in April 1985), maak die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit steeds so – met ’n Winterskool.

Dosyne gevestigde skrywers het oor die jare hier ’n wegspringplek of hupstoot vir hul loopbane kom vind. Van 3 tot 7 Junie 2019 bied die ATKV-Skryfskool weer so ’n skolingsgeleentheid aan opkomende woordsmede.

Skrywers wat vanjaar teruggee

Opwindende, bekroonde skrywers wat ook boeiende geselsers is, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as skrywers van verhale, gedigte en toneelstukke: Sophia Kapp, Harry Kalmer, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Hans du Plessis en meer.

Werkswinkels

Die hartklop van die Winterskool is die werkwinkels waartydens kursusgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Sophia Kapp (verhaalkuns) en Louis Esterhuizen (digkuns) en Harry Kalmer (toneelkuns) sal die leiding by die drie werkswinkelgroepe neem.

Kyk hier na die ATKV skryfskool facebook-blad.

Uitgewers is betrokke

’n Ander sterkpunt van die Winterskool is dat kursusgangers uit die spreekwoordelike perd se bek kan hoor wat uitgewers verwag van skryfwerk wat die paal gaan haal by die manuskripkeurders. In 2019 kom maak verteenwoordigers van die Afrikaanse hoofstroomuitgewers weer ’n draai by die Winterskool.

Stel jy belang om die Winterskool 2019 by te woon? Kom in aanraking met Kobie van Aswegen (sekretaresse) van die ATKV-Skryfskool vir meer inligting: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za;
Tel. 018 299 1783.

Skakel met Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool, vir onderhoude: bernard.odendaal@nwu.ac.za;
Tel. 018 299 1782.