ATKV Rieldans-finaal 2016

ATKV Rieldans – Waar daar vlerkgesleep word dat die stof so staan!

Die elfde jaarlikse ATKV Rieldans-finaal het op Saterdag, 3 Desember 2016 by die Amfiteater in die Paarl plaasgevind.
Tien rieldansgroepe het in die finaal stof opgeskop en dit uitgespook om die beker huis toe te neem.

Dit was die rieldansers van Clanwilliam, die Betjies van Betjiesfontein, in die junior afdeling en die Betjies Rooirots in die senior afdeling, wat met hul vernuftige voetwerk in die stof, uiteindelik koning gekraai het. Tydens die geleentheid is ’n spesiale toekenning aan Elias P. Nel oorhandig wat tien jaar gelede as ATKV-projekorganiseerder die rieldans as kultuurgoed begin bevorder het en in 2006 ’n rieldanskompetisie gereël het waaraan sewe groepe en 105 individue deelgeneem het. In 2015 was daar 82 groepe en 1 230 deelnemers. Die ongekende opbloei wat die ATKV-Rielkompetisie oor die afgelope dekade of wat beleef het, nadat dit byna ’n uitgestorwe kultuuruiting was, is ongelooflik. Elias P. Nel sê grappenderwys dat die rieldans toentertyd spesiaal vir mense met slap knieë, lang asems en ’n klomp speelsheid in die gene geskep is. Dis die oerdans wat ons by die Khoi en San geërf het. Vir meer inligting kontak Benjamin Bock by 074 235 2635.

Afrikaans.com was daar! Luister hoe gesels Elias P.Nel en Benjamin Bock en kyk hoe riel die toenmalige ATKV se uitvoerende direkteur, Japie Gouws!

2016 se uitslae:

Me. Rieldanspersoonlikheid seniors vir 2016: Bernadine Fortuin van Betjies Rooirots
Mnr. Rieldanspersoonlikheid seniors vir 2016: Angelo Hugo van Boesmanland Bitterbessies
Me. Rieldanspersoonlikheid juniors vir 2016: Lee-Ann van Wyk van Betjies van Betjiesfontein
Mnr. Rieldanspersoonlikheid juniors vir 2016: Jason Roberts van Calvinia Sitstappers

Beste danser: vroue in die senior afdeling: Anechia Cloete van Griekwa Ratelgat
Beste danser: mans in die senior afdeling: Abraham Willemse van Betjies Rooirots
Beste danser: vroue in die junior afdeling: Luwandri Schrader van Brandvlei Stofskoppers
Beste danser: mans in die junior afdeling: Cheslan Claaste van Betjies van Betjiesfontein

Grietjie van Garies trofee vir die beste vordering: senior afdeling: Kammiesberg
Grietjie van Garies trofee vir die beste vordering: junior afdeling: Net vir Pret 2

Pieter van der Westhuizen-trofee vir beste Rielkitaarknyper en opteller: Marvin Hanse van Calvinia Sitstappers

Mees dinamiese leier: Junior afdeling: Peter Takelo van Net vir Pret 2
Mees dinamiese leier: Senior afdeling: Elsabe Cloete van Griekwa Ratelgat

Trofee vir beste Rieldansliedjie: Gertruida Lombard van Boesmanland Bitterbessies
Trofee vir beste Rieldans musikant: Alfred Basson van Betjies van Betjiesfontein

Derde plek: Rieldansgroep: Seniors: Kammiesberg
Tweede plek: Rieldansgroep: Seniors: Calvinia Sitstappers
Senior Rieldanskampioene: Betjies Rooirots

Derde plek: Rieldansgroep: Juniors: Net vir Pret 2
Tweede plek: Rieldansgroep: Juniors: Calvinia Sitstappers 2
Junior Rieldanskampioene: Betjies van Betjiesfontein

Wenners

Betjies van Betjiesfontein: 2016 ATKV-Rieldanskampioene in die junior afdeling. Fotograaf: Jean du Plessis

Die eerste kompetisie

Die rieldans het op die randjie van uitsterwing gehuiwer voordat die ATKV ingegryp het om die kwynende inheemse kultuurskat van ondergang te red, dit te bevorder en te laat ontwikkel. Die eerste kompetisie het gedurende 2006 met slegs sewe groepe, plaasgevind. Uit die rieldansgemeenskap is daar talle getuienisse van hoe deelname aan die ATKV-kompetisie help meewerk het dat mense weer hul selftrots en eiewaarde herwin het. Die kompetisie is vanaf 2006 tot 2008 in een afdeling aangebied en sedert 2009, vanweë die geweldige groei, ding die groepe in ’n junior en senior afdeling mee.

Waar kom die rieldans vandaan?

Die rieldans kan beskou word as die oudste danssoort in Suidelike Afrika en kan direk na die Khoi-San herlei word.

Die Khoi-San het na ’n goeie oes of jagtog en by hul verskeie feeste al sirkelend om die vuur gedans – soos vandag steeds gedoen word. In Nama staan die dans as die ikhapara bekend en word veral gekenmerk deur vernuftige voetwerk en ’n energieke pas. In Afrikaans het die dans die rieldans geword vanweë die ooreenkomste wat dit met die Skotse “reel” het.

Die riel het veral te make met die liefdespel en om dit te illustreer word diere en voëls nageboots. Die askoekslaan is ’n bekende deel van die dans waar die regtervoet vinnig en sekuur bokant die linkerknie geplaas word. Die rieldans word veral in die Noord-Kaap en Karoo gedans.

Rieldans het hoofsaaklik in die veertiger-, vyftiger- en vroeë sestigerjare hoogty gevier. Die hedendaagse dansers probeer dan ook iets van die era weergee deur hulself soos die werkersklas van die tydperk te klee. Die dans was veral gewild onder plaaswerkers en skaapskeerders. Deesdae is die riel vir alle sfere van die samelewing aanvaarbaar en talle professionele mense is in ’n leidende hoedanigheid daarby betrokke, en tieners op hoërskool neem ywerig deel.

Die ATKV-rieldansers tree gereeld by feeste soos die KKNK, Cederbergfees, Kreebergfees, Williston Winterfees, Hantam Vleisfees en die Solms-Delta Oesfees op.

Lees meer…

Kô laat ons riel deur Elias Nel & Naomi Meyer:
http://www.litnet.co.za/ko-laat-ons-riel/

Meer oor die rieldans se geskiedenis:
https://www.atkv.org.za/Kunste/Projekte/Erfenisprojekte/Rieldans

Kyk hier vir beeldmateriaal oor ATKV Rieldans 2015:
https://www.youtube.com/watch?v=d70DP5POaok

Foto’s van Rieldans-finaal 2015 op die ATKV se webtuiste geneem deur Willem Sekels:
https://www.atkv.org.za/Kunste/Projekte/Erfenisprojekte/Rieldans