Almal doen dit

Ek het jou verlede maand belowe ons gaan troue hou en hier is dit nou.

Ek gaan definitief bles wees op 25. My hare val al in klossies uit van die onaanvaarbare hoeveelheid troues wat om my plaasvind. Dit gebeur deesdae met almal in hul 20’s. Hulle raak opgewonde oor niks en dan trou hulle met dit.

Die drama begin al met die gastelys. Tannie Bets het een keer op tweejarige ouderdom die bruid se doek geruil en nou is sy kwaad dat sy nie genooi is nie.

Die dekor is ook ’n katastrofe. Die rose, die servette en die bruid se onderklere moet alles bymekaar pas. En dit móét pienk wees. Nie enige pienk nie. ’n Spesifieke skakering van vuilpienk wat laas in die vroeë 1700’s gesien is aan ’n koei in Ierland se uier.

Die troue word op die buitewyke van ’n klein dorpie, sowat 50 km duskant Nêrens gehou. Ek gaan oor die Atlantiese Oseaan moet vlieg, deur die Nyl moet roei en die laaste 20 km kaalvoet oor die Karoovlaktes moet huppel om daar uit te kom. Ek is seker daarvan dis nie die enigste venue in die Suidelike halfrond wat slegte keuses toelaat nie.

Die groot dag breek aan. Histerie. Die bruid lê met ’n asynlappie op haar voorkop.

“Wat as hy nie die één is nie?!” huil sy.

Susan, asseblief, hy het vir die helfte van die troue betaal. Die liefde kom later.

Ons kan maar net hoop die bruidegom lyk vandag beter as gewoonlik. Hy is nie die tipe wat gereeld bad nie. Hy vee net elke derde dag op al die bitter plekke. Hulle moes hom voor die troue vir vyf dae in koeksoda week om al sy sondes af te was.

Die bruid kom by die gangetjie af. Kyk, ek huil nie gewoonlik nie (net by begrafnisse van koninklikes, as die doughnut-rak by Spar leeg is en as iemand sê pynappel hoort nie op pizza nie), maar hierdie is regtig ’n geleentheid om die krane oop te draai. Sy lyk soos ’n draairoomys!

Die ding is, niemand lyk goed in wit nie. Sy lyk effens geswel soos daai Spar-deeg wat jy koop as jy stout voel en by ’n Saterdagbraai wil voorgee dat jy sélf die brood gebak het.

En ek verstaan nou nog nie die konsep van ’n sluier nie. Moet jy nou geskok lyk as jy hom oplig en sien met wat jy trou? Dit laat die bruid lyk soos een van daardie melkterte wat jou ouma voor Sondagmiddag-tee met ’n gaasnet toegooi om die vlieë weg te hou. So ’n groot muskietnet en ons is nie eers in ’n malariagebied nie.

Uiteindelik is die seremonie verby. Dit is tyd vir die foto’s. Hulle gaan nou eers die bruidegom mooi moet laat lyk en dit gaan vyf ligjare vat.

Die paartjie poseer vir ure in baie onverantwoordelike posisies. Agter die boom, voor die boom, binne die boom, dan wórd hulle die boom. As hierdie fotonemery nog langer aanhou, róók ek sommer die boom.

Ek suig maar aan die vingerhappies. Ek gaan nou alweer my boonste broeksknoop moet losmaak en heelaand my maag moet intrek.

Ek bekyk die gaste om my. Glo dit of nie, elke troue het ’n standaardlys van die volgende mense:

  • ’n Veraf-tannie met ’n spiral perm wat reeds in die vroeë 60’s verban is. Haar byekorf-hare het in 2002 laas beweeg. Dit bevat drie skakerings van kommin.
  • ’n Kleinniggie wie se Clicks-tan enige oomblik aan die wit tafeldoek gaan afgee.
  • ’n Oom wat lyk asof hy in sy vrye tyd in piramide-skemas belê.
  • Die tannie wat haar handsak uitvoer met Glad Wrap sodat sy van die melktertjies huis toe kan smokkel vir Sondagtee.
  • Die niggie wat van die tafelversierings steel vir haar kind se verjaarsdagpartytjie oor twee weke.
  • Iemand met ’n blommekrans om hul kop (dit lok bye…).
  • ’n Hester wie se hare lyk asof dit die Malmesbury Landbouskou se skoonheidskompetisie kon wen … die perde-afdeling.
  • ’n Sirene met ’n das om sy kop. Hy sien nou nog dubbeld van die bachelors twee weke terug.
  • Die oom wat in die somer van 1965 in hondepoef getrap het en nou nog sukkel om daardie uitdrukking van sy gesig af te vee.

Hulle is almal daar, in volle glorie, vir die grootste aand van jou 24-jarige vriendin se bestaan.

Die aand is in volle swang. Die bruid se pa het reeds iets seksueel oor die mikrofoon gesê, vier Kurt Darren-treffers het al gespeel en iemand dans baie intiem met die saalgordyn. Niks buitengewoon nie.

Uiteindelik word die koek gesny. Hulle kan bly wees dis nie ’n tert nie, anders sou die bruid se suster nou moes wegkruip.

Voor ek my oë uitvee, ruk die bruidegom die kousband met sy mond af. Die bruid bloos. Tannie Baps gee ’n benoude gilletjie. Ag asseblief, ons almal weet dis nie sy eerste keer daar onder nie.

En toe … ek weet nie. My brein het die res van die troue uitgeblok. Hulle sê dit gebeur as iets baie traumaties is.

Dit is die oggend na die troue. Al die gaste is in rou. Drie vroue is op soek na hul mans (insluitend die bruid), vyftien soek hul maagdelikheid en die dominee glo nie meer in liefde nie.

Miskien lees jy hierdie en dink …  sy is regtig bitter.

En jy is reg. Ek is bitter…

Bitter bly dis nie ek nie, ja.

Vasbyt … oor ’n jaar hou ons ooievaarstee!