fbpx

14 Augustus: Koop-‘n-Afrikaanse-boekdag!

Op Woensdag, 14 Augustus 2019, vier ons weer Afrikaanse Taaldag, en word jy aangemoedig om Afrikaans te praat, te lees, te koop en te leef. Een manier om jou bydrae te lewer, is om ’n Afrikaanse boek of twee … of drie, aan te skaf.

So ‘n bietjie inspirasie …

Chris Karsten, nie in sy gunstelingleesstoel nie, maar op sy gunstelingskryfstoel.

Chris Karsten sê vir mossels, bobotie en broodpoeding loop hy blootsvoet oor ʼn baie hoë duin, veral noudat hy in goeie ou Suid-Afrika terug is ná sy Kanadese ekskursie. “Isabella Niehaus se pragtige, eiesoortige resepteboek, Duinhuis, wil ek graag op my koffietafel hê, spesifiek vir haar geurige mosselbobotie met die smaak van die see, en daarna haar broodpoeding met whiskeyrosyne en gekaramelliseerde bruinsuiker, afgesluk met goeie wyn en goeie geselskap, sodat alle sintuie deel word van hierdie besondere eet-ervaring.”

* Na ‘n lang stilte is sy nuwe roman eersdaags op die rakke.

Madelein Rust in haar gunstelingleeshoek.

Madelein Rust se keuse is Dibi Breytenbach se Dowe Gode.

Masjiengeweervuur skeur deur die stilte van die nag in die distrik van Opathe in die Natalse bosveld. Dit verander die lewe van een boeregesin vir altyd, want twee geslagte word in ’n oogwink koelbloedig op hulle plaas deur gesiglose aanvallers uitgewis. Aella O’Malley, die ondersoekbeampte, sukkel om sin te maak uit ’n reeks leidrade wat deur politiek, afguns, vrees, geloof en bygeloof tot ’n verwarrende mengelmoes van inligting deurmekaar geroer word …

Breytenbach debuteer in 2015 met Saliger en volg dit op met Vrediger in 2016 en Heiliger in 2017.

“My gunstelingleesstoel is nie ’n tipiese gemakstoel iewers in die huis nie – dit is ’n tuinstoel buite by die lapa langs ons swembad. Daar is vir my min dinge so lekker soos om buite in die son te sit en lees.” – Jaco Jacobs

Jaco Jacobs se keuse: “Leon de Villiers se Die groot koelte is ’n wonderlike avontuurverhaal vir kinders, met illustrasies deur die talentvolle kunstenaar David Griessel. Ek het die storie in manuskripformaat gelees, en ek dink dit is een van die kreatiefste kinderboeke wat in ’n lang tyd verskyn het. De Villiers se taalgebruik is ’n vreugde, en hy kom altyd met iets nuuts vorendag. Boonop is ek ’n groot aanhanger van David Griessel – daar hang twee fantastiese sketse van hom in ons sitkamer. Ek kan nie wag om die boek aan te skaf en vir my eie twee kleingoed – Mia (7) en Emma (5) –  te lees nie.”

Koop-’n-Afrikaanse-boekdag, is  ʼn konsep wat in 2005 deur die Vriende van Afrikaans (VVA) uitgedink is en ’n inisiatief waaraan van die uitgewers en boekwinkels  graag deelneem. Op hierdie dag kry boekwurms gewoonlik afslag by die volgende boekwinkels:

PNA: Strand Square, Somerset Mall, Somerset Square, Eikestad Mall, The Sanctuary, Whale Coast & Gordons Bay Mall – 25%-afslag

Protea Potchefstroom – 15%-afslag

Protea Hatfield – 20%-afslag

Protea Stellenbosch – 10%-afslag

Exclusive Books – 20%-afslag op alle Afrikaanse boeke

Aneljo Boekwinkel: Mariental, Namibiё – 20%-afslag

Boonop ondersteun jy Afrikaans, Afrikaanse skrywers en die Afrikaanse boekbedryf. As jy nie vir jouself ʼn boek wil koop nie, koop dan vir  ʼn vriend, jou dorpsbiblioteek, skoolbiblioteek of kleuterskool, en verryk so iemand anders se lewe.

Meer oor Koop-‘n-Afrikaanse-boekdag

As deel van die jaarlikse Afrikaansweek, word 14 Augustus bevorder as die dag waarop mense aangemoedig word om ‘n Afrikaanse boek aan te skaf.

Die projek is in 2005 deur die Vriende van Afrikaans (VVA)  – ‘n groep mense wat werk vir Afrikaans – van stapel gestuur.  Die idee het ontstaan omdat een van VVA se lede moeg geraak het om te luister na mense wat sê hulle wil graag Afrikaans lees, maar daar is nie Afrikaanse boeke beskikbaar nie.

Vandag, word die dag ook onder meer deur die Afrikaanse Taalraad bevorder.

Hoekom juis 14 Augustus?

Dit is heel gepas omdat Afrikaans se geboorte  al jare lank op 14 Augustus gevier word. Die eerste Afrikaanse Taalbeweging het op 14 Augustus 1875 begin toe die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig is, dus ‘n gepaste dag om Afrikaanse skrywers, boeke, uitgewers en boekwinkels te ondersteun.

Nuut op die rak …

Halley se komeet

Hannes Barnard

Druknaam: Wenkbrou

Literêre fiksie

9780799395464

R320,00

Hierdie boek gaan vroeg-vroeg reeds wenkbroue lig, want die begin is kru, vol k-woorde en allerlei goed wat die leser wil laat weghardloop. Dan groei die karakter.

Die roman speel af in 1986. Pete de Lange is ’n sestienjarige Afrikaanse seun vanaf Dannhauser, ’n klein dorpie in Natal. Pete wil rugby speel en hy wil met meisies vry. Noudat hy in standerd agt is, dink hy die eerste span het plek vir hom, die seniors se bus het hokkiemeisies vir hom en die lewe is mooi. Dan gebeur ’n insident wat sy lewe vir altyd sal verander. Vir ’n aantal angswekkende minute dink hy selfs dat hy gaan sterf voor hy ooit met ’n meisie sal kan vry. Om te lééf is egter soms moeiliker as om te sterf. Veral as jy onder die vinger van PW Botha staan en jy bevind jouself in ’n diep gemors saam met ’n swart seun en ’n Indiërmeisie. Gaan 1986 van Pete ’n man maak? Of gaan dié jaar ’n klein rimpeling wees wat sal verbygaan as ’n mens nie mooi kyk nie – soos Halley se komeet gemaak het? Hierdie boek tref diep. Enige een wat al ’n ouer was, sal ook weet dat die gesprekke tussen pa en seun oor meisies en die eerste span nogal uniek is. Die einde is iets ysliks. Halley se komeet is ’n uitstekende grootworddrama met geloofwaardige karakters en ’n sterk storielyn. Die skrywer beskryf daardie spesifieke era van ons geskiedenis met besondere vernuf.

Dooiegety

Bets Smith

Druknaam: LAPA

Spanningsroman

9780799395679

R285,00

Die liggaam van die mees geliefde inwoner van ’n vreedsame kusdorpie word in ’n rotspoel op die strand gekry. Haar vriendin Daleen, ’n professionele fotograaf, besef dit is nie ’n normale verdrinking nie, want Nerina het gely aan hidrofobie.

Daleen ontdek dat alles op die dorp nie so onskuldig is soos dit voorkom nie.

Raaiselagtige kodewoorde in tienergesprekke, wat sy tydens haar fotosessie by die skool se winterbal raakhoor, versterk haar kommer oor ’n partytjie waarheen Dalri, haar dogter, genooi is. Sy weet: GNOC is ’n akroniem vir get naked on camera. Dit maak haar bekommerd, want hierdie fotosessies is nie bloot om kuns te maak nie.

’n Kriptiese waarskuwing wat sy ontvang, verklap die skuldige se ongemak met haar stokperdjie: fotografie van die naghemel wat met lang sluiteropeninge geneem word om ligbane te skep. Dít impliseer dat sy dalk nader aan die antwoorde is as wat sy besef. Wát die antwoorde is, bly egter vir haar duister.

Almal lyk naderhand verdag, selfs die outistiese tienerseun oor wie Nerina haar ontferm het.

Dan raak dinge erger. Baie erger.

Bets Smith is bekend vir haar diep menslike verhale. In hierdie roman gebeur dit weer: Let byvoorbeeld op na die Mula-winkel, wat die gemeenskap dien deur middel van Nerina Labuschagne, die slagoffer, se rommelherwinningsprojek, ’n gemeenskaplike groentetuin en ’n gepaardgaande voedingsprojek. Daaruit groei ’n bring-en-koop-winkel, die Mula Swop Shop, waar kinders met hul verdienste uit rommelopruiming lewensmiddele kan koop. Nerina help ook met die verfraaiing van die dorp.

Dié roman lees lekker, maar is uiteindelik soveel meer as bloot ’n verhaal oor ’n moord op ’n kusdorpie.

Dieretuin

Francois Bloemhof

Druknaam: Imbali

Riller

9780639911014

R297,00

Carl Lourens keer terug na Kaapstad se noordelike voorstede om sy jonger broer te red uit die kloue van Die Dieretuin en die mense wat daar bly:

  • Maxie Tredoux, die vrou met die styfgetrekte gesig.
  • Haar seun Leo met sy liefde vir geweld.
  • Haar dogter Mandie met die speelse, onrustige geaardheid.

Maxie Thorpe is Carl se tannie, die weduwee-matriarg van die huis en die meesterbrein agter die familie-fortuin. Sy beheer ook alles wat in die kelder van hulle spoghuis in Durbanville plaasvind; dié huis wat bekend is as Die Dieretuin.

Carl en sy jonger broer, Robbie, het by hul ryk tante en oom gaan bly ná die wrede plaasmoord op hul ouers. Soos Carl grootword, ontdek hy hoe hulle werklik hul geld maak.

Hy verlaat die skool en gaan vir ’n aantal jare weg, maar sy skuldgevoelens wat wentel om sy broer wat steeds in Die Dieretuin woon, dwing hom om terug te keer met die hoop om Robbie te red. Robbie is nou ook klaar met skool en tot Carl se ontsteltenis werk hy ook vir die Thorpes; Robby het boonop verlief geraak op hul rebelse dogter Mandy.

Skokkende geheime word blootgestel wanneer Carl probeer om Robbie te red.

Dit is ’n baie donker roman met ’n hele aantal skokkende wendings en word beslis nie aanbeveel vir sensitiewe lesers nie.

Die boek is ook in Engels beskikbaar as Feeding Time (ISBN 9780639911021).

Seks, leuens en die internet

Erla-Mari Diedericks

Druknaam: Wenkbrou

Niefiksie

9780799393415

R280,00

As jy ’n boek verwag deur ’n volmaakte, pyn-in-die-gat prinses oor hoe om liefde en kalmte te vind, soek dan verder. Seks, leuens en die internet is ’n rou, eerlike vertelling deur ’n vrou wie se hart gebreek is, maar weier om moed op te gee.

Dit is snaaks.

Dit is hartseer.

Dit is smaakvol.

Dit gaan chauviniste kwaad maak.

Dit is die eerste niefiksieboek wat onder Wenkbrou se vaandel verskyn; geskep onder die fyn leiding van Marida Fitzpatrick.

Op 50 lyk al die prinse en perde bra gehawend, maar vasbeslote durf Erla die wilde wêreld van aanlynafsprake aan, moedig op soek na haar sielsgenoot.

Hierdie boek gaan oor die soeke na die self en die oeroue stryd tussen die brein en die hart. Die vraag is net: Wie gaan dié keer wen?

Seks, leuens en die internet is deel van die immergewilde selfhelp-genre en kombineer die onderwerpe van verhoudings, seks en selfondersoek.

Erla-Mari Diedericks is ’n joernalis, rubriekskrywer en outeur. Sy is al meer as 28 jaar ’n joernalis en het al vir byna elke publikasie in Suid-Afrika geskryf, selfs vir Playboy. Tans skryf sy rubrieke vir Netwerk24 wat dikwels mense laat regop sit.

Dié boek, soos haar rubrieke, bevat talle komiese gebeurtenisse waarmee lesers kan identifiseer. Seks, leuens en die internet is Erla-Mari Diedericks op haar beste.

Armand kook kaal – die maer uitgawe

Armand Aucamp

Druknaam: LAPA

Kookkuns

9780799396072

R295

Armand Aucamp is een van die aantreklikste mans in Suid-Afrika. Aanhangers begeer óf sy lyf óf om soos hy te lyk. Nou deel hy sy geheim met almal: Hy eet kaal, gestroopte kos as deel van die sogenaamde Banting- of ketoleefstyl. Met ’n hoëvet-laekoolhidraat-dieet hou hy daardie Adonis-lyf in stand en maak sy bewonderaars mal.

Armand kook kaal, met sy 100 resepte, het van die rakke af gevlieg! Toe kies Armand sy 50 gunstelingresepte vir ’n lekker kompakte weergawe van die boek: Armand kook kaal – die maer uitgawe! Nes sy ouer, dikker boetie is hierdie boek propvol heerlike, oorspronklike resepte – van onthaalkos, vleisgeregte en ontbyt tot vinnige happies, drankies en lekkernye. Armand het elkeen self getoets en geproe! Stap vir stap, en met pragfoto’s daarby, wys hy jou hoe om smuldisse uit gesonde bestanddele te skep en te geniet sonder dat jou figuur daaronder ly.

Lees meer oor die Vriende van Afrikaans hier

Lees ook:

14 Augustus is Afrikaanse Taaldag. Alita Steenkamp het in 2018 kort voor sy afsterwe met prof Christo van Rensburg gesels. Klik hier

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) oor Afrikaanse Taaldag en hulle Borg-’n-woord-inisiatief. Klik hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.